Eugene ken van skollies, gangsters en crooks. Hy is streetwise, al lyk hy nou soos iemand uit die upper-middle class. Hy kom immers uit die ghetto se killing fields van die 60’s, 70’s en 80’s. Maar nou is dit baie jare later. En die ou alliances met sy kindervriende Alan, Huey en Jenny ná alles destyds in Hillbrow tussen hulle skeefgeloop het, bestaan nie meer nie, en Eugene word aangekla van moord. 'n Aangrypende roman oor vriendskap en verraad.
Kirby van der Merwe was born and raised in Paarl. In Cape Town, he studied visual arts and was an art teacher for many years. He is an award-winning sculptor who also tries his hand at pottery and carpentry. He has published poetry and short stories. Klapperhaar slaap nie still nie is his debut novel.
In die eerste deel, Vierdelaan 2017, van hierdie roman ontmoet die leser vir Eugene. Hy wag op iemand uit sy verlede, Alan. Eugene is ‘n middeljare man; hy verwys na ‘meer as vyftig jaar gelede’ toe sy ouers hulle van ‘wat hulle voorouers by die plaasboer gekry het’ aan hom gegee het; ironies genoeg, ‘De Kock, Terre’Blanche, alledaagse vanne, maar met die voornaam-assosiasie ‘n giftige kombinasie.’ (p.33) met ‘n gewelddadige verlede: ‘Hy kom uit die ghetto se killing fields.’ (p.22) Deur die derde persoon narratief, word dit ook aan die leser geopenbaar dat Eugene op ‘n aanklag van moord teregstaan en dat hy wraakgedagtes teenoor Alan en ene Jenny koester: ‘Eugene weet onder watter klippe hulle al drie uitgekruip het. Hy, beter as enigiemand, ken hulle moerse, ineengestrengelde back story.’ (p.66)
In die tweede deel, Kampong Boland, 1960-1976, word die jong Eugene en Alan aan die leser bekendgestel; vanaf Eugene se vroegste herinneringe aan sy oppasser, Meisie en die Bitterhouts se bobbejaan, Hitler, tot die gewaagde en dikwels amusante avonture wat hy en Allen saam met Pinky en Ginger beleef het; hulle bisarre kuier by Oom Jimmy wat sy vrou deur die blaas van ‘n fluitjie in hulle ietwat onhigiëniese huis beheer (‘Die stank in die huis is soos ‘n soliede muur. Alan recover en steier in. Eugene trek sy asem diep in en steier agterna.’ p.133) en hulle impulsiewe treinrit na Johannesburg waar hulle al drinkend hulle kompartement moes beskerm: ‘Eugene en Alan is paraat. Hulle pas instromingsbeheer toe. Hulle draai die deurslot aan die binnekant in die teenoorgestelde rigting en hou vas met alle mag. ‘ (p.138). Eugene leer ken ook die vrugte van apartheid en polisie-brutaliteit en sy moedige pogings om van laasgenoemde weg te hardloop, word kleurvol op p.145-146 weergegee: ‘Eugene hoor iemand agter hom. Iemand haal hom in en steek hom verby…. Hy hou die skoene langs hom dop. Hy is in ‘n verbete stryd met die skoene sonder hakke. Solank hy voor die skoene bly, weet hy daar is iemand tussen hom en die polisie.’
Die essensie van die roman is vervat in die derde deel, Pondok 1980. Na verskeie traumatiese gebeurtenisse tree die bobbejaan wat reeds sedert Eugene vyf jaar oud is op sy skouer sit met sy bek teen sy oor, sterk as karakter na vore. Die bobbejaan word weliswaar op die agterplat as daemon beskryf, maar dis nie Eugene se ervaring nie. Vir hom is die metaforiese bobbejaan nie net ‘n fisiese werklikheid nie (‘Kêrels, dankie, dit was fokken lekker, maar my bobbejaan wil uitklim, anders kak hy in julle kombi.’ p.189) maar ook sy beskermer en versorger wat hom van lewensmiddele, selfs koerantuitknipsels (met verwysing na die Bobbejaanlektuur in Die Burger, 1961, en Rapport se Suster Wagner-rubriek) voorsien. Alhoewel Eugene die bobbejaan derhalwe as ‘n redder ervaar, is die realiteit heel anders; tipies van ‘n daemon is die bobbejaan inderwaarheid ‘n destruktiewe invloed wat Eugene tot moord en wraak aanhits.
Ek was reeds op die halfpad merk met die roman toe ek vir die eerste keer besef het dat die dialoog geen aanhalingstekens bevat nie. Nee, dit het geensins gepla nie, inteendeel: dit dra by tot die gevoel von kontinuïteit ten spyte van die tydspronge en skep ‘n gevoel van intieme betrokkenheid tussen die leser en Eugene se denke, meer as wat gebruiklik by die objektiewe derde persoon-narratief is. Ek was betower: deur die skryfstyl, asook die karakter van Eugene. Hy word lewensgroot; die leser hoor as’t ware sy stem; deel sy ervaringe en sien die bobbejaan. Dit het my dus geensins verbaas om te lees dat die skrywer ‘n veelbekroonde joernalis en vertaler is nie; hy is ‘n meesterverteller. Ek het nog nie sy 1999- publikasie ‘Klapperhaar slaap nie stil nie’ onder oë gehad nie, maar sal dit beslis aanskaf. Eugene is beide ‘n tragi-figuur en ‘n held; ‘n fyn waarnemer en ‘n misleide. Sy verhaal word sterk aanbeveel vir lesers wat ‘n grootse en omstrede karakters soos Buys (uit Willem Anker se gelyknamige roman) en Galant (uit Andrė P. Brink se ‘Houd-den-Bek’) waardeer en geniet het. ⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek NB-Uitgewers/Publishers
Dis nie 'n woord wat ek maklik gebruik nie, maar ek dink mens kan Kirby van der Merwe se tweede boek in 22 jaar as 'n kragtoer beskryf. Dis basies die grootwordjare en latere geskiedenis van 'n bruin seuntjie in die Kaap en soms in die Paarl en dan sy latere geskiedenis veral in Johannesburg. Maar eintlik is dit 'n kroniek van derduisende mense van ons land. Daar is skreiende armoede en baie lyding, maar ook die lewenslus, humor en vasbyt van ons mense. En daar is natuurlik die Struggle. Dis nie 'n boek wat doekies omdraai nie. As jy 'n fyngevoelige siel is (soos hierdie een), moet jy maar jou lendene omgord vir die taalgebruik ook. Ek sien uit om te hoor hoeveel van die kinderjare werklik syne was. Ek kan dink dat hierdie storie jare lank moes broei voor hy kon uitkom. Ek hoop die pad is nou oop en daar is sekerlik nog waar Eugene vandaan kom.
Stylgewys: plek-plek net te baldadig met al die speserye. Daar is ‘n speelsheid te bespeur tussen die lyne. Die skrywer is lief vir lysies: “Naby die stasie, by Borochovitz se keffie, drom arbeiders, handlangers, brickies, carpenters, munisipale werkers op die stoep en binne by die toonbank saam vir sigarette, twak, gekookte eiers, stukke gebraaide hoender, russians, doodgoois en snowballs, koerante en kokende warm koffie gemaak in enemmelbekers.” (p. 126) Dalk is dit die joernalis in die romansier. En so aan.
Eugene (die wisselvallige protagonis) se kommentaar op als en nog wat is snydend en soms bitter snaaks. Dié is ‘n verhaal met onderstromings, lig in alledaagse kakswarigheid en ‘n streep gemoedskommeling van die bobbejaan wat in verskeie gedaantes op almal se nek lê. Die storie tiep so middellangs. Verbode vrugte, wit-en-swart verwaandheid en die esoterika van die tokkelos kom aan die bod. Who can you trust? Wat nogal opval is die neersien op ‘n ander ongeag sosiale stand. (Ja, ek sien dit selfs onder kampeerders.) Ten slotte is die allegaartjie hoogs vermaaklik.
Eugene vertel van die grootwordjare en latere lewe van 'n bruin seuntjie in die Kaap, die Paarl en later in Johannesburg. Dit begin en eindig in 2017, maar tussenin leer ken ons die agterjaarts en langstoepe waar Eugene geleef, oorleef en beleef het.
Daar het die afgelope jaar ʼn hele paar boeke verskyn oor die grootwordjare van bruin kinders. Dit gee ekstra skop aan die hou op die maag as jy lees oor onder andere Ivor Swartz, Ronelda Kamfer, Audrey Jantjies en nou Kirby van der Merwe se eerstehandse belewenis daarvan. Die karakters word kinders in jou kop, wat dikwels geweld beleef en aanskou, as deel van hulle daaglikse lewe. Eugene is geen uitsondering nie.
In die eerste deel, wag die middeljarige joernalis Eugene op iemand uit sy verlede, Alan. Al twee mans was verlief op dieselfde meisie, Jenny.
In die tweede deel, leer ken ons die jong Eugene en Alan en ook sy oppasser, die loslyf Meisie en die Bitterhouts se bobbejaan, Hitler wat vasgeketting is aan sy paal.
Eugene het egter van jongs af sy eie metaforiese bobbejaan wat op sy skouer sit en in sy oor fluister. Hy beleef egter nie die bobbejaan as die donker energie wat dit is nie, vir hom is dit dikwels sy ‘mak bobbejaan’ wat kamma saamry, deur wie hy sy eie behoeftes en gevoelens uitspreek. “Kêrels, dankie, dit was fokken lekker, maar my bobbejaan wil uitklim, anders kak hy in julle kombi.” ( p.189)
Eugene se bobbejaan kan ook ʼn verdedigingsmeganisme wees waardeur hy sy realiteit ontken, en dis ook die bobbejaan wat Eugene se donker gedagtes en dade aanhits.
As joernalis beleef Eugene ook die harde werklikheid van die wreedheid tydens die struggle en apartheid.
Kirby van der Merwe se verhaal is egter veel meer as net bewusmaking van onregte, swaarkry en sukkel. Dit is ʼn sterk verhaal oor vriendskap, verlies en verraad. Dit verg ʼn stip leser om die kloutjie by die oor te bring.