In die 1980’s verower die sanger genaamd Ober die Afrikaanse musiektoneel . . . Jare later belig sy vriend en agent, Sybie de Waal, Ober se lewensloop in ’n plakboek van woorde – van hulle skooldae af, deur die jare toe Obermania die publiek beetgepak het, tot die terreurdaad toe alles tot ’n einde kom. Die onsigbare pou is ’n verhaal van ambisie en kreatiwiteit, roem en anonimiteit, vriendskap en verraad. In Zirk van den Berg se pittige, poëtiese vertelstyl.
Zirk van den Berg is a bilingual author (English and Afrikaans) who writes across different genres. He has won four significant literary awards in Afrikaans: His crime novel 'n Ander Mens won the inaugural kykNET-Rapport Prize for best filmable book - an award he won a second time with his urban fable Ek Wens, Ek Wens. This book also won the overall fiction award at this event, not long after the book was honoured with the WA Hofmeyr Prize for Afrikaans fiction. Four of his books appeared in both Afrikaans and English, one only in English and three only in Afrikaans. His first book was a collection of literary short stories, followed by a short historical novel, both in Afrikaans. In 2004, Random House New Zealand published Nobody Dies, a crime story set in South Africa. New Zealand Herald named it one of the top five thrillers of the year, the only local book on the list. Nobody Dies was republished as ebook in 2011. The Afrikaans translation, 'n Ander Mens, appeared in South Africa in 2013. An action comedy based on this book had a theatre release in 2019. His historical novel Half of One Thing was published by Penguin South Africa in 2014, along with the author's own Afrikaans translation, Halfpad Een Ding. No-Brainer, a darkly humourous mystery that falls somewhere between Kinky Friedman and K.C. Constantine in style, appeared as ebook only in 2011. A historical novel, Parts Unknown, was published in 2018, again in both languages. Its sequel appeared only in Afrikaans, as Tweegevreet, in 2020. The English version of his award-winning Ek Wens, Ek Wens, appeared in New Zealand and Australia in 2020 as I Wish, I Wish. Zirk van den Berg has translated three Wilbur Smith novels into Afrikaans, two novels by Philip Kerr, as well as cricketer A.B. de Villiers's autobiography.
“Ek… was vir jou… die Trojaanse perd waarmee jy toegang wou kry tot iets waarby jy nie op jou eie sou kon uitkom nie…’ (198)
In die Bellville van die 1970’s (‘Hier te lande span teerpaaie ‘n net oor die plat aarde, stip-stip watersproeiers oor geometriese grasperke… Baksteenhuise staan skouer aan skouer…’ – bladsy 8 ) was hulle net George en Sybie; in die 1980’s was hulle die Afrikaanse sangliefling, Ober, en sy agent; en in die 1990’s was beide vergete. Totdat ‘n uitgewer besluit het dat hulle storie ‘n boek waardig is, en Sybie ‘n geheueprentjie oor hulle gloriedae moes saamstel; die verhaal wat hy in die eerste persoon-narratief met die leser in hierdie roman deel.
Hulle het in die hoërskool ontmoet: ‘Ander ouens was soos plakkershutte en George Oberholzer soos ‘n betonbunker. Daar was ‘n soliditeit aan hom, onbelemmerde selfvertroue…’ (13) Maar dit was George as sanger wat Sybie se horisonne geopen het: ‘George se stem het in my siel gedreun. Die eggo’s is nou nog daar…’ (22) George was die ‘…loopbaan wat ek vir myself gekies het.’ (182)
Sybie het egter nie rekening gehou met wat dit hom sou kos nie; sy vertelling insinueer reeds vroeg ‘n rampspoedige afloop (‘… ek het nie meer tone nie en kap wye draaie met die rolstoel.’ – 39) en dis spoedig vir die leser duidelik dat Ober (‘Vir my is hy George.’ – 11) sy gewaande kans was om met ‘n ander se stertvere te pronk. ‘n Waarde-oordeel oor sy ware motiewe is ‘n uitdaging; daar moet in gedagte gehou word dat hy die enigste bron van inligting is, maar nie noodwendig ‘n betroubare verteller is nie. Wanneer hy gekonfronteer word met ‘Jy kan maar so daar staan met jou skugter skouertjies in die vleuels, altyd ongesiens, maar dis jy wat daarna smag om voor ‘n skare te pronk, om die applous te hoor, om jou gebrekkige ego te salf.’ (204) staan hy inderdaad sonder ‘n verweer en moet hy sy eie aandeel aan Ober se uiteindelike ondergang oorweeg: ‘Jy het dit weggevat, die rustigheid wat ek in myself gehad het. Jy het hierdie honger in my aangewakker, die behoefte om te skep.’ (202)
Die verhaal van George se metamorfose tot Ober en Ober se disintegrasie tot iets minder as George, is terselfdertyd die verhaal van Sybie – die pou wat ‘n ander se stertvere benodig het om raakgesien te word. Die leser word onwillekeurig meegesleur in die Afrikaanse musiekstroom van die 1980’s; deel in die skares se dreunsang; reis deur die land met musiektoerusting; word ontvang deur aanbiddende aanhangers; woon in anonieme hotelle, en stort saam met Icarus neer wanneer sy vere uiteindelik aan die brand slaan, met die besef: Icarus het nie alleen geleer vlieg nie – en val dus ook nie alleen nie.
‘Die onsigbare pou’ is ‘n bedrieglik eenvoudige roman; stof tot nadenke hier teen die jaareinde, met karakters wat moeilik vergeet sal word. Want miskien, net miskien, skuil Sybie iewers in ons elkeen.
Op skool al betower George Oberholzer vir Sybie de Waal - dié sjarmante, enigmatiese seun wat homself so gemaklik dra en om wie almal koek soos vlieë om 'n sappige, ehm, eetding.
Dit is waar George en Sybie se paaie kruis, en diep geselsies, 'n hand-me-down kitaar en 'n paar optredes voor 'n handjievol mense later word George Oberholzer net Ober - 'n Afrikaanse sangsensasie met Sybie as sy bestuurder.
Die tagtigs, apartheid, ontugwet, diensplig, oorlog, die oordadige skyn van kuisheid in die naam van Kerk en Christus terwyl almal maar die kat vreugdevol in die donker knyp - hier speel die verhaal af wat Sybie aan die leser opdis.
Die Onsigbare Pou is 'n lekker storie oor die opkoms en skouspelagtige val van 'n komplekse Afrikaanse musiek-ikoon. Dit is Sybie en George se verhaal van vriendskap, groei, opoffering en inploffing, die anonimiteit wat agter die skans van roem skuil, hoe jy elke dag brood saam met iemand kan breek en hulle nog steeds nie werklik ken nie.
Zirk van den Berg, weet ons teen die tyd, kán 'n storie vertel. Ek het die boek geniet, al het dit dalk so effe stoom verloor hier na die einde toe.
Die onsigbare pou het nie veel met poue te doen nie en in daardie opsig kan die kleurvolle omslag misleidend wees. Dit het wel te doen met manlike vriendskappe, die opkoms en ondergang van 'n popster, die soeke na betekenis in die lewe, die veranderinge in die SA samelewing en nog vele meer. Die boek lees vlot en vinnig, maar mens moenie daarom dink dis ligte skietgoed hierdie nie. (Letterlik en figuurlik!) My fassinasie met en kennis van die werksproses en loopbaan van Bruce Springsteen het waarskynlik vir my die boek meer relevant en interessant gemaak. Die loopbaan van 'n Afrikaanse popster word deur sy gewese bestuurder en vriend eintlik vir homself uiteengesit, in 'n poging om te verstaan. In die proses leer mens heelwat oor die kreatiewe proses en die ongelooflike eise wat so 'n loopbaan stel. Sterk aanbeveel!
Zirk van den Berg vertel die verhaal van Sybie de Waal, ʼn doodgewone man uit gewone omstandighede in Bellville. Hy is net so doodgewoon soos Seb in Ek wens, ek wens wat in 2020 bekroon is met verskeie pryse.
Net soos wat Seb daardie hoopvolheid in elke leser aangespreek het dat wense wel waar kan word, praat Sybie hard en duidelik met die leser, deur juis dit wat hy nie sê nie.
Die lewe van kunstenaars is definitief nie net maanskyn en rose nie. Ober jaag kuns na, ten koste van alles anders. Dit verg ʼn fyn waarnemer om die leser te laat deernis voel vir die kunstenaarstemperament van die karakter, wat nodig is om hierdie boek te waardeer.
Ai, dit spyt my om n 2⭐️ te gee! Maar hierdie boek was te vervelig, na my mening. Baie goed geskryf en oorspronklik, maar dis asof daar niks die eerste 160 blaaie omtrent gebeur het nie, en dat die aksie eers nadat die vriendskap skipbreuk ly soortvan begin. Sybie was n goeie protagonis, maar die ou het omtrent net teëspoed gehad.