Die laaste voerings van oudpolisiespeurder Carl Bester se lewe torring los, en hy sluit aan by die Kaapse tak van Mercurius, ’n CIA-steunpilaar. Intussen word ’n Saoediese joernalis in ’n konsulaat in Istanbul vermoor, met ’n SA joernalis as onwillige ooggetuie. Gevolge van dié joernalis se besluite kring uit na Kaapstad, waar Carl opdrag kry om die saak te hanteer. Saoediese agente en ’n siellose mesmoordenaar is maar twee van die monster se vele tentakels wat Carl een-een moet afkap.
Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en behaal die grade BA (HOD) en BA (Kommunikasiekunde) aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n BA (Hons.) in Kommunikasiekunde aan Unisa.
Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad in die sewentigs, waarna hy in 1982 mede-stigter en uitgewer van Bloemnuus (die eerste gratis weekkoerant in die Vrystaat) sou word en later die redakteur van Die Ekonoom (’n landwye saketydskrif). Hy was ook verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo voordat hy in 1987 Kaap toe verhuis en hom by Sanlam aansluit. In sy twee dekades by Sanlam is hy onder meer senior bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.
In 2008 word sy komedie Die Begrafnis (onder die skuilnaam van Phil Janse) by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (beste dramaturg), en word opgevoer by al die groot Afrikaanse kunstefeeste. Die Begrafnis verskyn ook in boekvorm by Genugtig! Uitgewers. In 2009 verskyn ’n selfpublikasie van hom, Die Doempies van Tafelberg, vir kleuters.
Sy debuutroman, Slagyster, was een van die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse debuutfiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het. Slagyster is ook een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-Woordveertjies.
Hy skilder ook die afgelope 26 jaar, het meegedoen aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika, en sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.
Hy is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke.
Ek het gegroei van neutraal na geweldig positief namate hierdie internasionale spanningsverhaal ontvou, verweef met geopolitiek, seks, hunkerings, bloed, en outydse speurdrama.