#bot – Carien Smith
#tafelberg
‘There is a significant probability that you are living in a computer simulation.’ (Nick Bostrom)
Kortverhale hou unieke uitdagings in. Anders as in die geval van ‘n vollengte roman moet die leser in ‘n beperkte tyd en in ‘n ewe beperkte hoeveelheid woorde aan die tyd, ruimte en karakters bekendgestel word; die storielyn moet blootgelê word en die slot moet ‘n oortuigende afsluiting wees. Indien die tyd, ruimte en selfs die karakters afwyk van die alledaagse en as sodanig aan die leser bekendgestel moet word in kortverhaal formaat, word die uitdaging majestueus en ambisieus. En dis presies wat die skrywer gewaag het om in hierdie formidabele bundel aan te pak.
Alhoewel elkeen van die sestien bydraes onafhanklik staan, is daar sekere deurlopende ooreenstemmings; almal speel, in soverre dit tyd en ruimte aangaan, af in Suid-Afrika in die later deel van die 21ste eeu. Die leser vergesel die karakters na ‘n toekomstige wêreld van verstommende tegnologie vooruitgang waar die voorbestaan van die aardbewoners deur verskeie faktore bedreig word. Daar is ‘n tekort aan hulpbronne, mense beroof en vermoor mekaar oor water, voedsel en suurstof; individualiteit moet opgeoffer word om by die veiligheid van die meerderheid-trop ingesluit te mag word;, en robotte, simulasies, hologramme en avatars is aan die orde van die dag.
Elke verhaal is in die eerste persoon narratief geskryf, maar daar is telkens ‘n ander verteller aan die woord; die enigste gemene deler is dat almal vroulik is. In een verhaal is die verteller die juridiese ma van biotegniese ontwerperskinders; in ‘n ander ‘n 70-jarige, gekluister in haar eie huis uit vrees vir tegnologie; in nog een die eggenoot van ‘n man wat (ro)bot-vroue verkies en, in my gunsteling verhaal, word ‘n vrou strafregtelik daarvan aangekla dat sy ‘n Simulant is, nie ‘werklik’ nie.
Heelwat scenario’s in die bundel, veral die verpligte abortering van onvolmaakte babas; die regbank wat uitsluitlik uit etiese masjiene, geprogrammeer om elke wet te ken, bestaan, die vraagstuk aangaande die etiese verdeling van beperkte hulpbronne en die waardebepaling van individue deur middel van ‘n puntestelsel, verander vrae wat meestal as bloot filosofies en teoreties geklassifiseer sou word, in vrae wat eksistensieel en krities vir voorbestaan is: wat is ‘n mens ? Waar is die grense van menswees ? Wat is die werklikheid ?
Die bundel is veelkantig en pas in geen tradisionele boksie nie; daar is elemente van wetenskapfiksie; distopiese fiksie; feminisme en filosofie, met elke woord weldeurdag. Die slot van die verhale is telkens verrassend, dikwels veelseggend. In geheel gesien is hierdie publikasie ‘n kunstige meesterstuk; selfs die titel en omslagfoto het gelaaide betekenis; ‘Bot’ verwysend na beide robotte en die bot van bloeisels en blomme – as simbool van nuwe lewe en voorbestaan. Dis ‘n uitstaande kombinasie van betowerende teks; onvergeetlike karakters; hartverskeurende dilemmas en vraagstukke oor die nabye toekoms en verdien vyf skitterende sterre.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek
NB-Uitgewers/Publishers