Ricardo woon in Kewtown saam sy ma, ouer broer, Anton, en sussie, Tracy, wat deurmekaar is met die gangster van die blokke, Capone. Maar voor Ricardo sy oë uitvee, is beide sy ma en broer oorlede, en eindig hy op in ’n wendyhuis agter op Capone se jaart. Hoe moet hy maak, as hy nie eers vir sy girlfriend, Mentha, ’n bord warm kos kan aanbied of ’n Sealy Posturepedic vir hulle kan koop nie?
’n Meesleurende bildungsroman deur die bekroonde skrywer van As die Cape Flats kon praat.
Brian Fredericks grew up in Elsies River. He went to school at Elsiesrivier Hoër, and studied electric engineering at college. Brian does freelance writing. He has been published in Nuwe stories 2, the Woordfees collection Bly and Die nuwe Afrikaanse prosaboek. He lives in Belhar.
Dis 1985. ‘n Noodtoestand is ook in Athlone afgekondig. Ricardo is sy ma, Mercy, se middelkind; die een met die drome. Anton, die oudste, het opgegee. Niks goed gaan sy kant toe kom nie; daarom sluit hy by die comrades aan; hy wil deel wees van die struggle. ‘Anton, my broer wat huil oor die tandemuis, loop vandag met army boots en ‘n AK-47.’ (111) Tracy is deurmekaar met Capone, ‘n gangsta smokkelaar en Mercy luister saans jazz om te vergeet dat sy bedags ‘n bediende vir ryk wittes is.
Ricardo wil ‘… ook vorentoe beweeg. Wil eendag ‘n huis koop… In my eie huis gaan daar genoeg kooie is vir ammal… Ammal die vertrekke se vensters gaan heel is…’ (22) maar die noodtoestand se skote klap (‘Hoekom klop jy so hard? Het gedink dis die army.’ – 113); die mure van vooroordeel omsingel hom: ‘I am an invisible man… When they approach me, they see only my surroundings, themselves, or figments of their imagination – indeed, everything and anything except me.’ (Ralph Ellison) en onbetrokkenheid is nie langer moontlik nie: ‘Ek het my ma nooit vertel van die AK-47… nie. Maar ek het seker gemaak om van die hond se groot drolle rondom die hok te strooi. So as jy verby die hond kan kom, dan sou jy naar raak van die kak reuk.’ (129)
Deel 2 van die roman open in 1997 en Deel 3 twaalf weke na die gebeure in Deel 2. Wanneer Ricardo se geliefde hom waarsku: ‘ Jy is ‘n nice ou. Maar jy moet jou oë oopmaak en die reality begin sien’ (185) maak dit vir hom geen sin nie, maar uiteindelik sou hy besef: ‘Ek het alles oor myself gebring…. Ek het myself geketting aan die opinies van mense… selfs ‘n dooie man… het my lewe uit die graf uit control… ek het dit alles entertain…. Vandag stop dit alles.’ (292)
Musiek, veral township jazz, verleen ekstra diepte aan Ricardo se verhaal, want dit verpersoonlik soveel van sy eie struggles en is die band wat hom aan sy oorlede pa verbind: ‘Het jy gevoel wat doen daai jazz number aan jou? Jazz en blues is van drome gemaak. Dis pyn en oppression en liefde en lewe, alles in een.’ (248)
‘Hou jou oë oop’ is ‘n vuis-in-die-maag-winduit verhaal van ‘n jong man se ontwaking; van vergeefse drome; verlies en verraad, maar ook van hoop en oorwinning midde in en ten spyte van omstandighede, deur die skrywer van ‘As die Cape Flats kon praat’.