In hierdie ambisieuse bundel word die leser op reis geneem. Na wêrelde van verstommende – dog onmiddellik herkenbare – tegnologiese vooruitgang. Waar bespiegeling en die magiese skouers skuur met die “alledaagse”. Waar waarheid en versinsel nie meer onderskeibaar is nie. Waar nuwe, onthutsende eksistensiële vrae opduik, en in gesprek tree met die oerbekende waar begin menswees, en waar eindig dit? Bot is ’n verrassende debuut wat ’n eiesoortige staanplek in die Afrikaanse verhalewêreld kry.
Carien Smith is tans ’n doktorale kandidaat by die Universiteit van Sheffield in Brittanje en doen haar navorsing in klimaatsveranderingetiek. In 2020 was sy Writing Fellow by die Johannesburg Institute for Advanced Study. In 2019 ontvang sy die Iceland Writers Retreat Alumni-toekenning (oor 700 inskrywings internasionaal, 5 wenners, onder meer ’n Pushcart Prize-finalis) en in 2018 en 2016 was sy op die kortlys vir die toekenning. In 2015 is Carien op die langlys van 6 vir die PEN International New Voices-toekenning. In 2016 en 2018 is sy ’n wenner van die AdHoc Flash Fiction-kompetisie (’n Bath Flash Fiction-projek). In 2015 is sy naaswenner in die Nuwe Stories 3-kompetisie met haar verhaal “Binnekort”, en kry eervolle vermelding vir “Likkewaan”, ook in hierdie kompetisie, en die bundel opgeneem. In 2009 is sy op die langlys van 10 vir die Nagtegaal Teksprys. In 2007 is sy naaswenner vir ’n Golden Key-poësiekompetisie by die Universiteit van die Vrystaat.
Sy is tans gepubliseer in Op die spoor van (Tafelberg Uitgewers, 2017), Nuwe Stories 3 (Human & Rousseau Uitgewers, 2015) en ’n kuns- en sprokiesverhaalbundel Spreek die Woord/Break the Spell, uitgegee in 2016 as deel van ’n Woordfeesprojek. In 2015 publiseer sy ’n kortverhaal getiteld “’n Gesnoeide roosboom vir Kersfees” in Die Burger. Sedert 2006 het sy reeds ’n aantal dramas geskryf wat op ’n paar feeste en geleenthede opgevoer was en daar is tans ’n nuwe drama in die pyplyn.
‘There is a significant probability that you are living in a computer simulation.’ (Nick Bostrom)
Kortverhale hou unieke uitdagings in. Anders as in die geval van ‘n vollengte roman moet die leser in ‘n beperkte tyd en in ‘n ewe beperkte hoeveelheid woorde aan die tyd, ruimte en karakters bekendgestel word; die storielyn moet blootgelê word en die slot moet ‘n oortuigende afsluiting wees. Indien die tyd, ruimte en selfs die karakters afwyk van die alledaagse en as sodanig aan die leser bekendgestel moet word in kortverhaal formaat, word die uitdaging majestueus en ambisieus. En dis presies wat die skrywer gewaag het om in hierdie formidabele bundel aan te pak.
Alhoewel elkeen van die sestien bydraes onafhanklik staan, is daar sekere deurlopende ooreenstemmings; almal speel, in soverre dit tyd en ruimte aangaan, af in Suid-Afrika in die later deel van die 21ste eeu. Die leser vergesel die karakters na ‘n toekomstige wêreld van verstommende tegnologie vooruitgang waar die voorbestaan van die aardbewoners deur verskeie faktore bedreig word. Daar is ‘n tekort aan hulpbronne, mense beroof en vermoor mekaar oor water, voedsel en suurstof; individualiteit moet opgeoffer word om by die veiligheid van die meerderheid-trop ingesluit te mag word;, en robotte, simulasies, hologramme en avatars is aan die orde van die dag.
Elke verhaal is in die eerste persoon narratief geskryf, maar daar is telkens ‘n ander verteller aan die woord; die enigste gemene deler is dat almal vroulik is. In een verhaal is die verteller die juridiese ma van biotegniese ontwerperskinders; in ‘n ander ‘n 70-jarige, gekluister in haar eie huis uit vrees vir tegnologie; in nog een die eggenoot van ‘n man wat (ro)bot-vroue verkies en, in my gunsteling verhaal, word ‘n vrou strafregtelik daarvan aangekla dat sy ‘n Simulant is, nie ‘werklik’ nie.
Heelwat scenario’s in die bundel, veral die verpligte abortering van onvolmaakte babas; die regbank wat uitsluitlik uit etiese masjiene, geprogrammeer om elke wet te ken, bestaan, die vraagstuk aangaande die etiese verdeling van beperkte hulpbronne en die waardebepaling van individue deur middel van ‘n puntestelsel, verander vrae wat meestal as bloot filosofies en teoreties geklassifiseer sou word, in vrae wat eksistensieel en krities vir voorbestaan is: wat is ‘n mens ? Waar is die grense van menswees ? Wat is die werklikheid ?
Die bundel is veelkantig en pas in geen tradisionele boksie nie; daar is elemente van wetenskapfiksie; distopiese fiksie; feminisme en filosofie, met elke woord weldeurdag. Die slot van die verhale is telkens verrassend, dikwels veelseggend. In geheel gesien is hierdie publikasie ‘n kunstige meesterstuk; selfs die titel en omslagfoto het gelaaide betekenis; ‘Bot’ verwysend na beide robotte en die bot van bloeisels en blomme – as simbool van nuwe lewe en voorbestaan. Dis ‘n uitstaande kombinasie van betowerende teks; onvergeetlike karakters; hartverskeurende dilemmas en vraagstukke oor die nabye toekoms en verdien vyf skitterende sterre. ⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek NB-Uitgewers/Publishers
Ek vat nie gereeld ʼn kortverhaalbundel en lees hom deur nie. Veral nie as dit ʼn solobundel is nie. Gewoonlik sal ek nou een verhaal lees en dan volgende week nog een en so aan. Dis seker maar dieselfde as soos toe CDs nog die inding was - ek het nie sommer een deur dieselfde sanger deurgeluister nie. In elk geval, nie op een slag nie.
Met Carien Smith se kortverhaalbundel, Bot, is dit egter ʼn perd van ʼn ander kleur. Ek het hom wel deurgelees en geniet.
Die verhale is almal in ʼn mate futuristies, selfs vreemd, maar as jy mooi daaroor nadink, glad nie onmoontlik nie. Dis nogal angswekkend as ʼn mens so daaraan dink. Die toekoms is dalk slegs ʼn asemsnak weg, of dalk nie eens nie ... Byvoorbeeld, die gebeure in Nuwejaar, die tweede kortverhaal in die bundel, verwoord eintlik maar net op ʼn slim manier dit wat reeds besig is om te gebeur as jy so na tendense en optredes op sosiale media kyk.
Ek moet ook net noem, ek hou van die skrywer se skryfstyl. Kort en kragtig.
Die lokteks beskryf die kern waarom die verhale draai, inderdaad uitstekend:
*Alles is ʼn leuen. Niks is ʼn leuen nie.
In hierdie ambisieuse bundel word die leser op reis geneem. Na wêrelde van verstomming - dog onmiddelik herkenbare - tegnologiese vooruitgang. Waar bespiegeling en die magiese skouers skuur met die "alledaagse". Waar waarheid en versinsel nie meer onderskeibaar is nie. Waar nuwe, onthutsende eksistensiële vra opduik, en in gesprek tree met die oorbekende een: waar begin menswees, en waar eindig dit?*
Ek sal die boek definitief aanbeveel vir mense wat hou van iets anders.
Ek het hierdie boek gelees vir ‘n leesuitdaging, nie my voorkeurgenre nie. Tog moet ek erkenning gee vir die vindingrykheid, verbeelding en woordvaardigheid van die skrywer. Die temas is ontstellend en ek moes myself deurentyd herinner dat dit fiksie is. Anders sou ek nie kon deurdruk nie
‘Bot’ het die afgelope ruk in verskeie gesprekke oor Kunsmatige Intelligensie (KI), spesifiek op LitNet, opgeduik en dit het my belangstelling geprikkel om die boek te lees.
Ek het nie regtig geweet wat om te verwag nie. Die kortverhaalbundel lees maklik, maar die stories los jou nie sommer nie. Om te sê ek het die boek geniet, is dus nie heeltemal die gepaste beskrywing nie. Ek is wel bly dat ek die boek opgetel en gelees het, want dit was ‘n verrykende ervaring.