Hoe ver sal jy gaan om jou kind te beskerm? Inwoners van Makulu Manzi het skaars herstel van die kinderpornografieskandaal wat die dorp vroeër die jaar getref het. Nou is daar gerugte van moetiemoorde en ekstremistiese groepe wat kinders werf vir selfmoordbomaanvalle. Die plaaslike skool stuur rebelse tieners na regrukkampe, en selfs georganiseerde bloedskenking word met agterdog bejeën. Wanneer Daleen Boshoff se dogter tydens ’n uitstappie op die lyk van ’n tienerseun afkom, ruk dit die fondament onder hul uit. Is dit inderdaad moord vir moetie? Of hou die vermiste kinders verband met die bomaanvalle teen die kus van Afrika? Rooigety is die opvolg van Dooiegety (2019).
Bets Smith het begin skryf omdat sy aan haarself wou bewys sy kon die storie wat binne broei op papier kry. Sy hou aan met skryf omdat sy in die liefde en in gelukkige eindes glo, en voel mense het in ‘n harde wêreld nodig om herinner te word daaraan dat die goeie nog kan seëvier. Omdat sy goedvoelstories skryf, is die hele skeppingsproses vir haar terapeuties. Selfs die skryf van spanningsverhale help om van aggressie en frustrasies ontslae te raak, want die skurke word aangekeer en ry op die ou end aan die pen. Sy is 'n afgetrede onderwyser wat tans in Reebok, in die Suidkaap bly. Hul uitsig op die see, en die pragtige omgewing is 'n inspirasie vir enige skrywer. Sy en haar man is reeds 39 jaar getroud. Hy verstaan haar giere en geite en ondersteun haar in alles wat sy aanpak. Haar twee getroude kinders met ’n eiesoortige humorsin hou haar voete op die aarde, en haar vier kleinkinders is 'n groot vreugde in haar lewe.
Dit is slegs enkele maande nadat 'n geliefde inwoner van Makulu Manzi gesterf het en Daleen en Dalri in doodsgevaar verkeer het. Daleen worstel steeds met nagmerries, maar dan begin dinge weereens skeef loop in die klein Natalse kusdorpie en omstreke, sover as Mombasa. Die lys van skrikwekkende scenarios is lank, van moetiemoorde, orgaanstroping en orgaanhandel, ekstremistiese groepe, selfmoordbomaanvalle, regrukkampe vir rebelse skoliere, 'n vreemde sangoma, sabotasie by 'n pretpark.
Die spanningslyn trek stywer soos die verhaal vorder, en uiteindelik was dit net my geloof in goeie eindes en Bets Smit se skitterende skryfwerk, wat my van totale paniek gered het. Soos met die lees van Dooiegety, was dit laatnag en in die proses het ek die kluts effens kwytgeraak met jammers en anti-jammers en bomme by die ontknoping en moes ek die laaste paar bladsye gou herlees vanoggend.
My grootste beswaar is dat ek met die lees van hierdie opvolgverhaal deurentyd gepoog het om die fyner detail van Dooiegety te onthou. Daar is wel heelwat verwysings na die vorige verhaal wat grotendeels gebeur by wyse van Daleen se nagmerries en herinnerings en sal waarskynlik genoeg wees om Rooigety netjies op sy eie bene te laat staan. Dit is my maniese soeke na detail wat gepla het. Ek sou wou herlees, maar my nuuskierigheid oor die nuwe storielyn, asook die feit dat ek nie 'n gedrukte kopie het van Dooiegety nie, het my verhoed. Ek sou my ou tablet moes raadpleeg en soek vir 'n wagwoord!
Ten slotte kan ek nie nalaat om te swymel oor Josh nie. Wat 'n formidabele held, en een wat nie skroom om sy liefde te verklaar nie. Dit verskaf 'n welkome teenvoeter vir die lelikheid van die mensdom wat skreiend duidelik blyk uit hierdie fiktiewe verhaal.
Daar is 'n uitsonderlike lekkerte in 'n boek waar jy ou bekende karakters weer "ontmoet" om 'n nuwe hoofstuk in hulle lewens te deel. Daleen, Dalri en die ander inwoners van Makulu Manzi is welbekend aan ons na "Dooiegety", Bets Smith se vorige boek wat afspeel in Noord Natal. "Rooigety" bou voort op die temas en spanning geskep in die vorige boek maar ondersoek 'n hele nuwe stel uiters relevante kwessies gebaseer op resente nuusgebeure.
Daleen sukkel steeds met nagmerries nadat haar vriendin vermoor is en sy amper ook die tydelike met die enige verwissel het. Haar angstigheid word verder aangehits deur herinneringe aan die ontvoering van Dalri en die moontlike herhaling daarvan. 'n Nuwe sangoma , 'n tiener lyk in die bos en stories or multi moorde en orgaandiefstal speel alles 'n rol om die storielyn te ontwikkel en spanningslyn te bou. Met die verdwyning van Dumisani word die spanningslyn verstyf todat jy voel dit absolute breekpunt moet bereik.
Met hierdie boek voel ek of ek Daleen beter begin verstaan. Ek het gesukkel om in "Dooiegety, van haar te hou of om sommige van haar handelinge te verstaan. In "Rooigety" voel ek of ons begin vriendinne word – of ek die redenasie agter haar reaksies verstaan. Sy is ter seolfde tyd broos en baie braaf. Dalri is 'n oulik tiener wat met die gewone tiener entoesiasme foute maak en met oorgawe leef. Hanco is haar anker wat meestal baie volwasse optree vir 'n matriek. Dan is daar natuulik ook die amper te goed om waar te wees Josh, 'n held in alle opsigte en wonderlike teenvoeter vir die bose in die boek.
"Rooigety " is 'n heerlike spannende boek wat uitstekende ontvlugting verskaf. Dit mag jou dalk bietjie meer agterdogtig laat kyk na ander om jou en laat wonder oor die toestelle wat hulle gebruik. Dit mag jou ook laat wonder hoe ver jy sal gaan vir dié vir wie jy die liefste is. In my opinie steun die boek op genoeg kennis van sy voorganger dat ek sal aanbeveel dat die boeke wel in volgorde gelees en geniet moet word.