Ja, Suid-Afrika het 'n atoomwapenprogram gehad en selfs atoommissiele gebou, en ons was stout genoeg om 10 jaar later weer dieselfde toetsfasiliteit waarmee die Russe ons in 1977 uitgevang het voor te berei en op bystand te sit ... skagte in die Kalahari.
1987. Suid-Afrika se vlagskip Mirage-vegvliegtuie is geen kompetisie vir die nuwer en ratser Russiese MIGs nie. UNITA slaag daarin om 'n klompie SA-9 Gaskin (Strela) grond-tot-lug missielstelsels by die Kubane af te vat. Dit kan die balans swaai en die lugruim veiliger vir die Suid-Afrikaanse magte maak.
Een probleem: ammunisie.
Spesmagte-operateur Jos Fourie word deur Nasionale Intelligensie genader vir 'n sensitiewe werkie: hy moet missiele vir die SA-9 stelsel wat vanuit Oos-Duitsland per skip vervoer word oppas.
Dit word gou duidelik dat alles nie so eenvoudig is soos dit voorkom nie. Die CIA is betrokke, iemand probeer die besending onderskep en Jos maak 'n skokkende ontdekking op die skip wat 'n alreeds moeilike sending nog verder kompliseer. Dan is daar nog Ashley Ramirez, 'n vrou wat sy kop verder deurmekaar maak en ook nie is wie sy voorgee om te wees nie.
Na 'n aanvanklik stadiger pas terwyl die skaakbord van karakters en intriges opgestel word versnel dinge vinnig. Van die tonele wat op die skip afspeel herinner aan Alistair MacLean se klassieke spanningsverhale: die klaustrofobie van vasgekeer wees in 'n vyandige omgewing met geen kans vir ontsnapping en geen idee wie om te vertrou nie. Aksietonele volg kort op mekaar se hakke, van die oop see tot in die sand van die Kalahari, afgewissel met die gewoel in die donker gange van die betrokke intelligensie-eenhede.
Van die aksietonele het geloofwaardigheid bietjie gestrek vir my (en soms kom ons helde dalk 'n knertsie te maklik uit die knyp). Ek is egter 'n welbekende drup in hierdie area en meeste mense wat dinge nie oordink soos ek nie gaan glad nie gepla wees nie. Toeval speel ook hier en daar 'n rol, maar darem nie so baie dat dit steurend raak nie. Die karakters word nie noodwendig diep ontgin nie, maar kry genoeg vleis om te werk as bestanddele vir die spesifieke dis wat die boek wil voorsit. Niemand is vervelig perfek nie.
Skag is lekker ontvlugting, 'n ouskool aksiegedrewe spanningsverhaal, 'n wedren teen tyd wat teen 'n skrikwekkende (en puik nagevorsde) ware Suid-Afrikaanse agtergrond afspeel. Ek sal die skryfstyl beskryf as 'n mengeldrankie van Rudie van Rensburg en vintage Clive Cussler. Aanhangers van hierdie skrywers veral kan maar hierdie een op hulle lysie sit.