Dis al Maart. Mieke het nog nie met Fen gepraat vandat hy koshuis toe is nie. Hy bel nie, kom nie naweke huis toe nie. Op Mtwana hang daar 'n skadu van onsekerheid. Die Phiri-bende is oorkant die rivier aktief. Hulle teiken hoofsaaklik olifante. Mieke sit haar voet neer en bel vir Fen by die koshuis. 'n Boelie gryp sy foon en 'n bakleiery breek uit. In die gestoei breek Fen sy spanmaat, Jock, se neus. Fen én Jock word geskors. Hulle straf: twee weke se harde arbeid op Mtwana.
Christien het grootgeword op Bloemfontein en Pretoria. Sy woon tans saam met haar man in Sandton. Sy het ‘n pro bono spraakterapie-praktyk en hou haar ook besig met toetsing, voorligting en terapie by ’n plaaslike parallelmedium laerskool. Christien is baie lief vir haar drie kinders, honde en leer al 30 jaar lank Frans. Kondensmelk is haar eerste boek.
Soos met die vorige twee aflewerings in die Mieke reeks, word die leser blitsvinnig betrek by die lewe op Mtwana. Lesers sal onthou dat haar boesemvriend, Fen, weg is koshuis toe, en hierdie derde aflewering begin waar sy wroeg omdat sy nou niks van hom hoor nie.
Christien Neser het die wonderlike gawe om sonder pretensie of dwang, die mooiste beeldspraak te gebruik om baie duidelike prentjies te skep. Sy gaan, as 'n voorbeeld, vindingryk om met die kwessie van bloos: "Haar wange brand, maar die skemer is haar genadig."(p. 10), "Mieke weet sy is bromvoëlrooi."(p.117) en "Jou wange doen die praatwerk." (P.14)
Dan is daar die mooi beeld van weerligliefde, "wanneer mens iemand net één kyk gee en weet."(p.117), maar ook die ontydige weerlig wat 'n vroeë storm beteken, wat stropers se dekmantel is om toe te slaan. Die helde van daardie skermutseling is Oupa Bosjan met sy binneband op die Limpopo, en Herkules, die vernielde olifant. En natuurlik Fen, Jock en Mieke.
Daar is 'n goeie dosis spanning, gevaar en beserings, maar die storie eindig op 'n letterlik borrelende noot wat my laat uitsien na, hopelik, 'n volgende aflewering in die wel en weë van Mieke Maas.