#Misfit – Chase Rhys
#Kwela
Die inhoud van hierdie bundel het oorspronklik in Rapport se Suikewate-rubriek verskyn. Die subtitel ‘Stories vannie anne kant’ beskryf die inhoud akkuraat: dit ondersoek die daaglikse lewens van mense aan die rand van die samelewing; hulle wat nie by die hoofstroom inpas nie; die randeiers; die misfits. In Nataniël se woorde: ‘…die stories is oor ons almal en vir almal.’
‘n Wye verskeidenheid van karakters word aan die leser bekendgestel – maar Nana is beslis my gunsteling. Haar vermoë om eksistensiële vrese te besweer maak van haar ‘n geestelike gids – wat drag races bywoon en haar hare peroxide. Vir oormatige bewondering het sy egter geen tyd nie: ‘Nana sê ek kan gerus ophou kak praat en haa help ommie tin-opener te vind.’ (13). Nie eers die grendeltyd kan haar van ‘n familiebraai weghou nie; sy braai saam via Zoom. In ‘Ma vannie jaa’ beveel sy haar dogter om haar bril af te haal vir die foto’s by haar skoolprysuitdeling, met amusante gevolge: ‘Die kin stap oorie verhoog sonne haa bril, haa arms voo haa ytgestrek soos ieman wat snags onverwags in loadshedding vasgevang is. Sy smile virrie fotograaf maa sy kyk innie vekeere rigting.’ (20) Haar broer, Fern, ‘…. Steel soo alles… daavoo moet ek nou al my jewellery aanhou voo hyrit wee stella.’ (94)
Oupa is ook ‘n klassieke karakter. Sy voorliefde vir boom veroorsaak dat sy arme kleinkind se plante-projek in Graad 4 ‘n daggaplant voortbring en sy skelmstreke met vrouens lei tot ‘n histeriese situasie toe twee ‘vriendinne’ wat beide geglo het dat hulle die groot liefde van sy lewe was, albei by sy begrafnis opdaag. Antie Nessy glo vas dat sy oorspronklik van Skotland is en ‘… Hettie hele Facebook plat gesearch vi mense in Skotland wat haa nooiensvan het en vi hulle gevra om haar ‘n ancestral visa te organize.’ (41) En die res van die familie: ‘Daas twie tipe mense innie wêreld; mense wat sê wat hulle makee en mense wat verwag annes moet raai wat hulle nodig het. My familie val meestal innie twiede groep. Ek voel al soes ‘n sangoma elke keer as ek moet probee ytfigure wat hulle van my verwag.’ (45)
Die mees aangrypende bydraes is egter ongetwyfeld die eerste persoon vertellings oor die skrywer se eie bewustheid van die lewe: ‘Gewoonlik as mense my die eeste kee sien, wôd ek as ‘n bruin, queer misfit, dadelik as ‘ander’ gelies.’ (30) Op die ouderdom van 5, was die instinktiewe wete reeds daar: ‘Ek’t daai dag besef dat ek in twie verskillende wêrelde leef en dat ek myself sou moes veanne…’ (153); al het die presiese insig aanvanklik naЇef gemanifisteer na aanleiding van die homoërotiese tonele in ‘Interview with the vampire’: ‘Soe ek hettie die woordeskat of verwysing gehad om te wiet dat ek oppie queer-spektrum issie, soe ek’t maar net seksueel asse vampire geidentify. Ek’t vir ‘n hele jaa met ‘n wynglassie vol Strawberry Drink-O-Pop laerskool toe gegaan en virrie kinnes gesê is bloed.’ (147) Uiteindelik sou die sirkel egter voltooi word: ‘Om te embrace dat ek nêrens inpas nie, is ‘n vrylating.’ (172)
Die bundel het my soos ‘n plastieksak in ‘n Kaapse storm van emosies rondgewaai; wisselend van deernis en empatie tot ontroering, ontnugtering en verwondering, en word sterk aanbeveel vir lesers wat saam met die skrywer sê: ‘Dankie Here virrie misfits.’ (176)
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek
NB-Uitgewers/Publishers