Die uitsonderlike titel, Hoeveel tande het ’n engel? was die eerste wat my aandag getrek het. Dit, tesame met die naam van een van ons voorste skrywers van jeugboeke, het my genoop om die boek te bestel sonder om werklik na die voorblad te kyk. Toe ek egter later met die boek in die hand sit, het ek besef dat hierdie ’n emosionele reis gaan wees saam met Alex, sy ouers en sy vriende.
Die tema van kanker by kinders herinner sterk aan die suksesvolle The fault in our stars, met die uitsondering dat Jan Vermeulen se verhaal kom vanuit ’n geestelike perspektief. Dit was vir my interessant hoe die skrywer daarin geslaag het om byna onopsigtelik verskeie Christelike denominasies se hantering van gebed vir genesing en ook siektebegeleiding, by die storielyn in te werk.
Die trant van die verhaal is byderwets, met ’n groot deel van die interaksie tussen die twee hoofkarakters in die vorm van WhatsApp gesprekke wat visueel aangebied word. Die hartverskeurende storie word ietwat getemper deur die hoofkarakter se spitsvondigheid wat grens aan spot met homself en sy situasie. Sy opmerkings is duidelik ’n beskermingsmeganisme wat hy gebruik om sy eie spoke te besweer en om vir Agapé-Ann te ondersteun. Sy is ’n sterk, gelowige karakter wat daarin slaag om vir Alex te inspireer om sy Bybel te begin lees en daaruit krag te put.
As jy kans sien vir jong liefde, verlies, engele en siekte, is hierdie boek ’n absolute moet! Wees gerus, die skrywer gaan baie sensitief om met die moeilike onderwerpe.