Jump to ratings and reviews
Rate this book

Hans hou sy lyf Sherlock

Rate this book
Hans van Kraaienburg sal hom mos nie met ’n piramideskema laat vang nie . . . of hoe? Toe Huis Madeliefie se mense onder ’n gladdebek-skelm deurloop en hul kosbare geldjies soos mis voor die son sien verdwyn, en die polisie ’n beloning uitloof aan enigeen wat hulle na die skurk kan lei, gaan Hans en trawante op die oorlogspad, Weskus toe. Javel Davel sál hul geld teruggee, of Hans laat los Nella en haar magtige bloomers op hom . . .  Die mees avontuurlike Hans-verhaal nóg!

209 pages, Kindle Edition

Published June 26, 2022

8 people are currently reading
25 people want to read

About the author

Rudie van Rensburg

29 books66 followers
Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en behaal die grade BA (HOD) en BA (Kommunikasiekunde) aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n BA (Hons.) in Kommunikasiekunde aan Unisa.

Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad in die sewentigs, waarna hy in 1982 mede-stigter en uitgewer van Bloemnuus (die eerste gratis weekkoerant in die Vrystaat) sou word en later die redakteur van Die Ekonoom (’n landwye saketydskrif). Hy was ook verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo voordat hy in 1987 Kaap toe verhuis en hom by Sanlam aansluit. In sy twee dekades by Sanlam is hy onder meer senior bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.

In 2008 word sy komedie Die Begrafnis (onder die skuilnaam van Phil Janse) by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (beste dramaturg), en word opgevoer by al die groot Afrikaanse kunstefeeste. Die Begrafnis verskyn ook in boekvorm by Genugtig! Uitgewers. In 2009 verskyn ’n selfpublikasie van hom, Die Doempies van Tafelberg, vir kleuters.

Sy debuutroman, Slagyster, was een van die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse debuutfiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het. Slagyster is ook een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-Woordveertjies.

Hy skilder ook die afgelope 26 jaar, het meegedoen aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika, en sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.

Hy is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
33 (34%)
4 stars
44 (45%)
3 stars
16 (16%)
2 stars
3 (3%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 8 of 8 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,491 reviews85 followers
July 5, 2022
#Hanshousylyfsherlock – Rudie van Rensburg
#Queillerie

Hans sou reken hy is die allerlaaste mens wat vir ‘n piramideskema sal val; hy het darem al 94 jaar se lewensondervinding. Maar ook hy word ingeloop deur ‘n bloedjong swendelaar: ‘Hy het nog poeier tussen sy lieste… ‘n Bogkind van in sy veertigs…’ (5) wat hom so slim hou soos ‘n boom vol uile (7). Sy enigste kans om sy neseiertjie terug te kry en hom die beterweterige preke van sy wysneus-dogter, Carla, te spaar, is om die pestilensie self op te spoor nadat hy na bewering na die Weskus gevlug het.

So hou Hans dan sy lyf Sherlock, ten spyte van ‘Al ondervinding wat hy van daardie dissipline het, was toe hy donkiejare gelede sy seun, Ben, toe twaalf jaar oud, se reëls as Patrys-speurder bestudeer het.’ (48) Gelukkig is hy nie alleen nie; in ‘n mankolieke kombi met ‘n karavaan wat voorheen ‘n hoenderhok was, vertrek hy in Boswell-Wilkie styl saam met Vasie (Biesiepol !); Maatjie; Liesbet (wat hom Hôns noem); Senter (die enigste een wat nog mag bestuur en die wêreld in rugbyterme beleef); Wielietjies (‘By my siel, ek maak sommer ‘n wawiel!’ – 7) en hulle geheime wapen, Nella, wie se kolmuis gereeld wasgoed vreet (222):
‘Ons het beskerming… Sy was ‘n formidabele gewigstoter op haar dae. Swaar van been en boud, sal sy enige kwaaddoener opfrommel.
Hoe oud is sy?
Nog relatief jonk.
Hoe oud is relatief jonk, Pa?
Ses-en-tagtig.’ (128)

Hulle waaghalsige speurtog neem hulle al die pad tot by Paternoster se Panty Bar en bring hulle in konflik met ‘n onbeholpe Valke-Kaptein wat dreig om hulle op te sluit (‘En wat sal nou so erg daaraan wes om op hulle ouderdom tronkstraf uit te dien? Dit sal immers nie dekades agter tralies beteken nie.’ – 58) en ‘n geslepe tweeling wat sterk aan Kuifie se Uys en Buys herinner wat intelligensie betref.

Maak geen fout nie; dis onrealisties; vergesog en selfs absurd, maar hoogs vermaaklik en die perfekte afleiding vir almal wat al effens vuisvoos is van misdaad, politiek en korrupsie. En dit is tog dikwels hoekom ons lees; om vir ‘n wyle van die werklikheid te ontvlug.

Hans se dramatiese, argaïese taalgebruik en slimpraatjies sorg, soos in hierdie humoristiese roman se drie voorgangers, vir groot pret. Die finale konfrontasie met die skelm Javel was veral skreeusnaaks. Gegewe die aanvaarde feit dat humor een van die mees uitdagende genres is, bly Hans ‘n groot hoogtepunt in my lees oeuvre en dink ek die bewoners van Huis Madeliefie se dapper manewales verdien hierdie keer 5 sterre.

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek
NB-Uitgewers/Publishers
Profile Image for Rina Coetzee Gous.
146 reviews8 followers
September 21, 2022
Daar is min skrywers wat so talentvol is om uit te blink in sulke uiteenlopende genres as Rudie van Rensburg. Hy weerspieël die naakte en wrede waarheid in sy krimies maar in sy heerlike komiese "Hans" reeks laat hy ons kliphard en uit die maag lag.
In die nuutste boek in die reeks, "Hans hou sy lyf Sherlock" word Oom Hans en sy trawante van Huis Madelief met 'n slap riem gevang deur 'n gewetenlose bedrieër wat nie net hulle geld verduister nie maar ook die inwoners van 'n hele string ander tehuise. Gou besef Hans-hulle dat hul nie vining hul geld in gaan terug kry nie en dat die belonging wat uitgeloof is vir die arrestasie van die skurk die enigste antwoord op hulle finansiële penarie is. Hulle is egter nie die enigstes wat agter die belonging aan is nie.
So volg 'n holderstebolder "toer" aan die Weskus opsoek na die skelm en gladde trawant. Die manier hoe Oom Hans en kie hul opponente in die resies vir die losprys telkens om die bos lei is uiters vermaaklik. Die mees vermaaklike deel van die hele storie is die finale oomblikke van vryheid vir Javel Davel.
Die "Hans" boeke se geheim is natuurlik nie net die heerlike humor en fyn uitgedinkte stories nie maar ook die briljante en uiters vermaaklike karakters wat die boeke bewoon. Die leser het tien teen een al iewers met die soorgelyke karakters te doen gehad veral as jy ouer mense ken. Elkeen kan jy voor jou sien so goed is die karakters gevorm en beskryf. My persoonlike gunsteling is Liesbeth met haar ooronde vokale en statige gewoontes maar almal sal met iemand aanklank vind. Iewers gaan jy jou tannie of oupa herken tussen die vrolike oues van dae.
Die taalgebruik in die boek is een van die groot genietinge. Hans se argaiese taal en verbuigde idiome is 'n groot plesier. Ja natuurlik is die boek nie geheel realisties nie maar wie gee nou om? Ontsnapping is altyd goed en die leesplesier is massief!
"Hans hou sy lyf Sherlock " is 'n heerlike ontspannende lees en net die medisyne om beurtkrag te bestry.
Profile Image for Amanda.
1,155 reviews
July 30, 2022
In my bloggesprek met skrywer, Rudie van Rensburg, het hy die stelling gemaak dat Hans se "geboorte" heel toevallig was en wel as karakter in 'n komiese kortverhaal. Dit het aanleiding gegee tot Hans steek die rubicon oor wat groot sukses behaal het. In lyn met die skrywer se voorneme om jaarliks 'n Hans boek te skryf, het die vierde aflewering van Hans van Kraaienburg en sy "troepe" sopas op die rakke verskyn. Oor die bestek van 223 bladsye het ek myself verloor in die manewales en waagstukke van 'n onwaarskynlike stel selfaangestelde speurders onder die vindingryke leiding van Hans.

Daar is 'n paar uitstaande aspekte, soos die fyn draaksteek met karakter- en fisiese eienskappe wat waarneembaar is by mense oor 'n breë spektrum, nie net bejaardes nie. Javel Davel se "pap mondjie" en "smal voorkoppie" (p.100), Nella se "skommelende nekhamme (p.168) en Senter Venter wat "verskeie kenmerke toon van iemand wat nie al sy varkies op hok het nie (83) tower beelde op wat my nog lank gaan bybly.

Dan is daar natuurlik Hans se kleurvolle verbuiging van idiome en sy vindingryke uitdrukkings. Hans vergeet nie bloot nie, "hy het die jaartal aan die vergetelheid prysgegee (p.140), "'n gebraaide hoender vlieg niemand in die mond nie" (p.167) en "Dit help nie elke voël sing soos hy gebek is nie." (p.167).

Humor, wat deurentyd die basis van die storie is, loop uit op 'n skaterlag hoogtepunt waarin Senter Venter vir my die hoofrol vertolk. Hierdie lesersindruk het my besonder lank geneem om neer te pen, want ek moes telkens eers lagtrane wegvee wanneer ek opnuut iets komies raaklees.

Daar is tog etlike aspekte wat raak aan die realiteit waarmee ons deel, soos verwysing na Eskom se kragstasies wat lol, en natuurlik die swendelaar met sy ponzi-skema wat mense gewetenloos uitbuit. Nogtans is dit 'n geslaagde ontvlugting, gewaarborg om gemoedere te lig.
Profile Image for Margitte.
1,188 reviews667 followers
September 13, 2022
Hans Van Kraaienburg kon nie juis 'n wafferse groot gees in die korporatiewe wereld gewees het nie, as hy maar 'n skamele sestigduisendrand op belgegging het waarmee hy, tesame met 'n beperkte pensioentjie, 'n veel spaarsamige lewe moet lei. Sy kinders betaal vir sy selfoon.

Wanneer Javel Davel dus die ouetehuis tref met beloftes van groot rentes op beleggings, wat net te goed is om waar te wees, is dit verstommend dat ons hoofkarakter dan ook val vir dié gedoente, en sy hande verbrand.

Maar natuurlik is Hans nie van hierrond nie. Hy was 'n bietjie stadig om te besef dat hulle ingeloop is, maar kom vorendag met 'n plan om die belhamel op te spoor en te laat betaal. Kaptein Spiertjies van Staden van die polisie se Valke, kan ook maar net omval en stink, hy's lankal dood, want dié groot moles waarin omtrent die hele Wes-Kaapprovinsie se ouetehuise beland het, steur hom min. Hy wag vir inlingting van die publiek, terwyl hy konsentreer op groter sake. Hy word dan terstonds tot Klaas Vakie Van Staden herdoop.

Met vernuf en deursettingsvermoë word Hans en sy trawante in staat gestel om op reis te gaan al langs die Weskus op, op soek na die jakkals. Hans van Kraaienburg, Senter Venter, Vasie Knoetze, Liesbet Greyling, Veronica(Wieletjies) Weyers, en Nella Vos, trek dan weg in die siekeboeg op wiele, soos Hans hulle kombi noem, met die voormalige hoenderhok-karavaan agter aangehak. Dit word een groot avontuur. Met hulle manewallise beland hulle weereens in die koerante en op tv, wat vir Klaas Vakie briesend het en die senior burgers dreig met arrestasie en tronkstraf.

KOMMENTAAR
Natuurlik is dit 'n klug - 'n bisarre komedie, wat lawwe praatjies 'n nuwe lewe gee, maar dis ook 'n prettige storie wat groot vermaak vir die leser verseker. You have to suspend disbelief completely.

Na die vier boeke is die leser al goed verknog aan Hans en sy formidabele span vriende. Met sy hogere ouderdom wil ek amper nie verder lees nie want ek wil nie weet nie ... Okei, dit sal my hart breek as enige een van hulle nie meer daar is nie.

Dis die vierde boek in die reeks sover:
Hans steek die Rubicon oor (Januarie 1, 2017)
Hans gee Herklaas horings ( Augustus 21, 2020);
Hans bars die bioborrel (September 26, 2021)
Hans hou sy lyf Sherlock (Junie 26, 2022)
33 reviews
September 28, 2025
Bietjie 'over the top', maar die karakters groei op `n mens, en die Afrikaans is baie oulik, veral met al die 'opgemaakte' idiome. Ek skryf hierdie `n paar maande na die boek, en het meeste al vergeet, so is nie rerig `n sinvolle resensie nie. Ek gee hom `n 7/10/
Profile Image for Kedooms.
158 reviews
December 9, 2024
Hans hou sy lyf Sherlock is ñ heerlijke ontspannende lees. Dit is ń geslaagde ontvluchting,gewaarborg om gemoedere te lig.
Profile Image for Susanna.
257 reviews7 followers
January 19, 2024
Min mense het beplan om nog op 94 te lewe en Hans se pensioen geldjies raak maar skaars. Toe ‘n jonge Davel by Huis Madeliefie opdaag en die oumense vertel van ‘n uitstekende beleggings geleentheid, gooi ‘n hele groepie inwoners hul name in die hoed. Net om die pensioen so ‘n bietjie te rek.

Alles begin goed, maar gou kom Hans agter iets is nie pluis nie. Die geld wat so mooi maandeliks ingekom het skielik opgehou en van Javel Davel is daar geen spoor nie. Hans en sy vriende is geskok en skaam dat hulle vir so ‘n skema geval het. Aangesien die Polisie hul tyd vat en Hans se wysneus dogter hom aanhou vra oor die geld, vat hulle sake in hul eie hande.

‘n Klompie afgetredenes in ‘n stokou VW vertrek toe na die Weskus toe om vir Davel en hul geld te gaan soek. Almal het egter nou min geld, baie siektes en skete en hulle moet maar met min tevrede wees met hierdie reis agter die skelm aan. Om verder vernedering te vermy, sal hulle vir Davel moet vind en seker maak hy boet vir al die hartseer, vernedering en kwaad wat hy veroorsaak het in die Kaap. Die perfekte ding vir Hans en sy trawante.

My gedagtes: Ai, maar ek geniet vir oom Hans en sy manewales. Hierdie was nog 'n lekker hardop lag boek in die Hans reeks. Ek sien uit om die volgende ene te verslind!
Displaying 1 - 8 of 8 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.