Wanneer laas het jy 'n boek gelees en byna konstant gesluk aan 'n knop in die keel? Dit is presies wat ek hierdie afgelope naweek beleef het met die herlees van Verbode Drif, en wel die nuwe druk wat sopas deur Lapa uitgegee is. Elke emosie, elke vrees, elke probleem waarmee die karakters te kampe kry, word so oortuigend weergegee, dat ek as leser myself totaal in die storie verloor het, al was dit nie vir my nuut nie.
In die hart van die storie is natuurlik die verbode en klaarblyklike hopelose liefde tussen 'n Jood en 'n boeremeisie, maar daar is 'n rykdom aan geskiedenis en menseverhoudings, goed en sleg, wat die sentrale tema komplimenteer en aanvul. Verbittering en fisiese letsels van 'n pas afgelope oorlog, kleindorpse mentaliteit, vriendskappe, verwagtinge wat beskaam. Die onvoorwaardelike lojaliteit van Hansie-wat-starig-is, is een van die uitstaande sukseselemente van die storielyn.
Toe ek etlike jare gelede hierdie roman gelees het, het dit my mateloos beïndruk, welke gevoel nou opnuut bevestig is met die lees van die nuwe druk met die pragtigste buiteblad wat ek onlangs gesien het. Ek kan dit van harte aanbeveel vir enigeen wat hou van die skryfstyl van Irma Joubert, of iemand wat haar werk wil beproef sonder om met 'n uitgebreide reeks af te skop.