“Hulle wil my been afsit, Simphi. Net hierso.” Alex trek sy liniaal oor sy kaal bobeen. “Woep-wap-konynkap, weg is Alex Brown se been én sy beroemde skopvoet.” Die nuus is presies wat die veertienjarige Alex nie wou gehoor het sy beenkanker is te laat ontdek en nou is daar ’n sterk kans dat hulle sy been sal moet afsit. Hy gaan nooit weer rugby of krieket kan speel nie. Vir ’n lang tyd nie skool toe kan gaan nie. Dalk selfs nie eers sy vyftiende verjaarsdag sien nie … Sy beste vriend, Simphiwe, het nie veel raad nie. Maar toe ontmoet Alex vir Agapé-Ann; ’n pastoor se dogter met dieselfde tipe kanker wat ses maande vroeër haar eie been verloor het. Hy begin saam met haar kerk toe gaan, en stadig maar seker leer hy meer oor geloof en die Here, en dat sy kanker nie ’n straf is nie. En oor engele. Gaan sy jong geloof die grootste toets ooit kan oorleef?
Jan Vermeulen is in Bethanie in die suide van Namibie gebore. Op veertien word sy eerste kortverhaal in die destydse jeugtydskrif Patrys gepubliseer. Hy het die graad BA Admissie met hoofvakke Hebreeus en Filosofie aan die Universiteit van Port Elizabeth behaal, en in 1987 'n BTh. en Teologiese Lisensiaat aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1998 voltooi hy 'n kursus in kreatiewe skryfkuns aan die Departement Afrikaans en Nederlands van die Universiteit van Port Elizabeth, en in dieselfde jaar verskyn sy debuutroman, Die laaste dans, by Queillerie. In 2000 verskyn sy eerste jeugboek, Geraamtes dra nie klere nie. Dit is met die Sanlamprys (goud), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en 'n ATKV-Kinderboektoekenning bekroon. In 2006 word sy kortverhaal 'In Ma se Stoofᅮ in die kortverhaalbundel Van Spoke Gepraat (Tafelberg) opgeneem. Jan en sy vrou Diana woon in die Oos-Kaap.
Die uitsonderlike titel, Hoeveel tande het ’n engel? was die eerste wat my aandag getrek het. Dit, tesame met die naam van een van ons voorste skrywers van jeugboeke, het my genoop om die boek te bestel sonder om werklik na die voorblad te kyk. Toe ek egter later met die boek in die hand sit, het ek besef dat hierdie ’n emosionele reis gaan wees saam met Alex, sy ouers en sy vriende. Die tema van kanker by kinders herinner sterk aan die suksesvolle The fault in our stars, met die uitsondering dat Jan Vermeulen se verhaal kom vanuit ’n geestelike perspektief. Dit was vir my interessant hoe die skrywer daarin geslaag het om byna onopsigtelik verskeie Christelike denominasies se hantering van gebed vir genesing en ook siektebegeleiding, by die storielyn in te werk. Die trant van die verhaal is byderwets, met ’n groot deel van die interaksie tussen die twee hoofkarakters in die vorm van WhatsApp gesprekke wat visueel aangebied word. Die hartverskeurende storie word ietwat getemper deur die hoofkarakter se spitsvondigheid wat grens aan spot met homself en sy situasie. Sy opmerkings is duidelik ’n beskermingsmeganisme wat hy gebruik om sy eie spoke te besweer en om vir Agapé-Ann te ondersteun. Sy is ’n sterk, gelowige karakter wat daarin slaag om vir Alex te inspireer om sy Bybel te begin lees en daaruit krag te put. As jy kans sien vir jong liefde, verlies, engele en siekte, is hierdie boek ’n absolute moet! Wees gerus, die skrywer gaan baie sensitief om met die moeilike onderwerpe.
Alhoewel die boek op die jonger leser gemik is, het ek as "volwassene" baie inspirasie hieruit geput. Dis ʼn hartseer hartroerende verhaal, maar tog herinner dit ons oor en oor aan ons Vader se liefde en dat hy altyd daar is vir ons en ons as ʼn werktuig kan gebruik. Selfs in die swaartste van tye. Die storie is met groot deernis geskryf deur ʼn duidelik bedrewe skrywer. Ek dink die boek is ʼn groot aanwins vir ons Christelike jeuglektuur.
Die boek se naam het eerste my aandag getrek, en ek wou dadelik dit lees! Ek het die boek in een dag klaar gelees! Dit was baie baie mooi, ek het sommer gehuil. ❤️