Markus Gerlach en Domingos Magadzi vlug oor die grens van Suid-Afrika na die noorde van Mosambiek omdat hulle vrees dat hulle van moord aangekla sal word. Die joernalis Phoebe Maritz sit hulle agterna om ’n eksklusiewe onderhoud los te slaan. Maar Cabo Delgado, waar die twee wegkruip, word deur terreur geteister en niemand is daar veilig nie. Gou bevind Phoebe haar midde-in ’n botsing tussen gevreesde insurgente, private militêre kontrakteurs en – erger nog – ’n bloeddorstige reeksmoordenaar.
‘When plunder becomes a way of life for a group of men living together in society, they create for themselves in the course of time a legal system that authorizes it and a moral code that glorifies it.’ – Frėdėric Bastiat – The law (6) Twee sekuriteitsoperateurs vlug te voet vanuit die Kruger-Wildtuin na Mosambiek uit vrees dat hulle andersins van drie moorde aangekla sal word. Elders in Mosambiek word ‘n Amerikaanse filantroop beveilig deur private militêre kontrakteurs midde van gerugte dat die machbabo’s, in die besonder die gevreesde leier, Chupa-sangue, die drinker van bloed, met die een oog en die swart tande, en sy bende in die omgewing terreur saai. Drie Moslem-ekstremiste ontvoer ‘n niksvermoedende egpaar. ‘n Plattelandse joernalis plaas alles op die spel en vlieg halsoorkop na Mosambiek in die hoop op daardie een groot immer ontwykende storie wat haar loopbaan sal rigting gee, en elders in die Mosambiekse bos is ‘n kannibalistiese reeksmoordenaar op soek na slagoffers.
In hierdie hardebaard Afrika-spanningsroman word al die bovermelde drade geleidelik ineengevleg; die hoofstukke is kort en die pas moordend vinnig. Die tegniek om verskeie hoofkarakters in verskillende situasies beurtelings aan die leser voor te stel, het tot gevolg dat daar nie werklik ‘n sentrale hoofkarakter is nie; die leser is ewe betrokke by verskeie karakters en dus ewe geïnteresseerd in al die oënskynlik losstaande storielyne.
Die skrywer is reeds gevestig en bekend as spanningsromanskrywer, maar met ‘Buit’ bereik sy nuwe hoogtes. Dis ‘n briljante, hartverskeurende, skrikwekkend-realistiese en insiggewende roman oor Afrika en haar mense en word sterk aanbeveel vir lesers wat Jaco Wolmarans se ‘Bos’; ‘Skag’ en ‘Ivoor’ geniet het. Eweneens kan lesers wat tot op hede geglo het dat slegs Wilbur Smith en Tony Park Afrika vir die leser lewendig kan skryf, gerus ‘Buit’ aanskaf en ook die Outeursnota lees; dit bevestig die belang en relevansie van hierdie grootse roman.
Ek het lank gelees aan Dibi Breytenbach se Buit. Tyd is mos maar 'n rariteit so aan die begin van die jaar en party boeke moet so bietjie herkou word voor die volgende hoofstuk. Buit was my eerste kennismaking met Dibi Breytenbach en aangename kennis gaan nie in hierdie geval werk nie. Indrukwekkend, boeiend en treffend pas effens beter. Ons het paar jare terug self gereeld gaan vakansie hou in Mosambiek en ek het maandeliks die grens vrou-alleen oorgesteek om te gaan klas gee in Maputo. Niks bang gewees nie. Sal ek dit vandag nog doen? Hmmmmmm.... Voor ek Buit gelees het, bes moontlik. Dibi Breytenbach het ongelooflike goeie navorsing gedoen en my laat ril, kwaad word, bang word en magteloos gelaat. Afrika my Afrika - jy bly my tuiste. "Jy's ook 'n kind van Afrika, herinner hy homself. 'n Skaamkind. Daardie een wat 'n mens nie in beskaafde geselskap noem nie. Jy en jou hele Volk." ❄️❄️❄️❄️❄️ Vir Buit van my kant af.
'n Paar jaar gelede het ek Jacques Pauw se Dances With Devils gelees. Dit het een ding duidelik gemaak: Afrika is geskroef - niks meer nie as 'n OTM wat ryk lande (en Afrikane self) daagliks opnuut kan opblaas en plunder ongeag die bloedbad vir mens en natuur.
Veral met bogenoemde boek onder die belt is daar 'n tasbaarheid aan die stukkende Mosambiek waarin lesers hulleself in Dibi Breytenbach se Buit begewe. Dit kon net sowel Sierra Leone, Rwanda of die DRC gewees het. Nie 'n plek vir romanse of mooi drome nie.
Toe 'n teenstropingsoperasie in die Krugerwildtuin onverwagte gevolge het, moet oud-recce Markus Gerlach en sy lojale skaduwee Domingos inderhaas na Mosambiek vlug.
Verslaggewer Phoebe Maritz besluit om Gerlach daar te gaan opsoek om sy kant van die storie te kry. Maar Mosambiek is nie vriendelike terrein nie - veral nie vir verslaggewers nie. Sy gaan hulp nodig hê.
Intussen word twee ander joernaliste deur Islamitiese ekstremiste ontvoer, 'n donker karakter genaamd Kruk sluip deur die bosse om sy bloedlus te bevredig en 'n groep huursoldate pas 'n Amerikaner op wat op 'n missie van sy eie is.
Dit is hierdie vyf groepies en individue se doen en late waarop Buit se storie gebou word, en die kort hoofstukke sorg dat dinge op alle fronte flink vorentoe beweeg. Die desperaatheid en vyandigheid drup van die bladsye af - van die uitgeteerde hond in die straat, die gewetensbesware wat een van die ontvoerders ry teenoor die meedoënloosheid van sy makkers, die amper bonatuurlike bedreiging van Ayelala en die verskrikking Chupa-sangue tot die huursoldate se toenemende vrees en ongemak soos die machababo's nader aan hulle gebied beweeg.
Wat wel gepla het was die ietwat stotterende klimaks en dan Phoebe, wat vir my nie 'n besonder suksesvolle karakter is nie. Dis vir my asof haar relevantheid begin taan wanneer sy haar voete in Mosambiek sit en asof net die etlike relletjies wat sy met haar helper het haar werklik in die prentjie hou terwyl die karakters rondom haar die kollig steel. Ek het ook 'n wisselvalligheid aan haar gedrag en hantering van sekere situasies ervaar - 'n blokkade van drie dronk polisiemanne gee haar bv. die ritteltit, maar skaars 'n dag of wat later stap sy doodluiters in en vertoef op 'n grusame toneel wat net tevore 'n geharde soldaat na buite laat vlug het. Kan 'n mens so vinnig hard word? Ek weet nie, maar my lesersinstink het dit nie konsekwent gevind nie.
Dit ten spyt is hierdie donker avontuur waarskynlik Dibi se beste boek - spannende fiksie wat aangedryf word deur die vreesaanjaende enjin van werklike gebeure in Mosambiek en 'n dreigende atmosfeer wat selde skiet gee. Lees hom.
Om die plaaslike joernalis te wees van ‘n klein dorpie, is nie juis die groot droom wat Phoebe gehad het nie. Skool funksies, sport en fondsinsamelings is haar brood en botter. Sy ontmoet egter vir Markus een aand en raak lekker aan die gesels met hom en sy vriend, Domingo. Sy vind hul storie baie interessant oor hul werking teen stropery. Dis nie lank nie of Markus en Domingo is op die nuus – op soek as gevolg van ‘n grusame dubbele moord net buite Phoebe se klein dorpie.
Phoebe besluit om alles op die spel te sit – sy ruik ‘n groot storie wat haar naam as joernalis kan insement by die ander groot name. Sy skraap geld bymekaar en voeter al die pad Mosambiek toe, op soek na Markus en Domingo om die storie van die jaar te gaan kry. Markus en Domingo is egter in ‘n klein dorpie, Cabo Delgado, wat onder bedreiging is van ‘n terroriste groep wat in die omgewing is. Nie net is die terroriste ‘n probleem nie, maar daar is ook ‘n vreesaanjaende reeksmoordenaar wat paniek saai onder die plaaslike bevolking.
Phoebe was egter onvoorbereid vir al die drama wat vir haar voorlê toe sy die pad gevat het agter Markus aan. Tussen die terroriste, ekstremisme, reeksmoordenaars en die onbekende van Mosambiek, kan die storie van die jaar dalk net Phoebe se eie lewe kos.
My indruk: Ek was vasgenael in hierdie boek van die begin af. So baie intriges wat plaasvind teen ‘n vinnige pas – mens wil nie die boek neersit nie! Dis wel effens grusaam, maar beskryf die konflik in die noorde van Mosambiek so goed, waarvan ek ‘n bietjie gesien het toe ek daar was in 2011.
Phoebe is 'n joernalis in 'n klein dorpie maar met nie groter drome. Sy wil daai groot berig skryf maar is vasgevang tussen die skool se nuus en die tuinklub se uitstalling. Een aand in die naaste watergat ontmoet sy die ouer en aantreklike Markus wat deesdae oorlog maak teen stropers in die wildtuin saam met sy kameraad Domingo en nie rebelle elders in Afrika nie. Drie jong Moslems uit Britanje bevind hulle in 'n still deel van Afrika met 'n bloedige missie in 'n onbekende land en 'n group kontrakteurs van verskeie lande is vasgevang in 'n gevaarlike situasie in 'n klein dorpie waar hul 'n welwillendheidswerker moet beskerm terwyl die gevaar van wrede rebelle wat elke dag volgens gerugte al nader aan hulle beweeg. In die bos sluip Krûk rond- 'n genadelose roofdier in die form van 'n mens. Iewers gaan hierdie karakters mekaar ontmoet- jy weet dit sommer. Dit is net 'n kwessie van wié en waar.
"Buit" is n spanningsverhaal van formaat met 'n buitegewone spanningslyn wat deur soveel karakters en subverhale verweef en to of daarin slag om een algebra uiterste lyn te skep. Een wat jou gaan wakkerhou in die nag- dis nou as van die karakters nie jou alreeds wakker hou nie. Die aandag wat die skrywer aan die karakters bestee en hul ontwikkeling oor selfs hierdie kort tydperk is duidelik. Selfs Mosambiek ( en Afrika by implikasie) is 'n volrond karakter wat haar wrede en slegte tande in jou inslaan maar wat ook haar sagte medemenslike kant wys. Daar is nie omdraaikans in hierdie bedompige wêreld nie- aangaan moet jy maar gedrewe deur jou omstamdighede. Die kontras tussen die uiterste armoede van die mense en die gemak en luuksheid van die buitelanders vorm net so treffende kontras soos die mededeelsaamheid van die armstes en die gierigheid van die rykes.
Hierdie atmosfeer gevulde boek is in my opinie ' n nuwe mylpaal vir Dibi Breytenbach en is 'n ernstige moontlikheid vir my boek van die jaar. Sonder twyfel is dit een van die heel beste boeke wat jy hierdie jaar gaan lees. Hou maar vas jou hart- die uiteindelike ontknoping is vol angstige oomblikke en wilde draaie wat selfs die mees belese krimi liefhebber gaan verras.