Aengel kom soek na vrede en haar erfenis op Kierangbaai. Hoe edel is die hartstogtelike Ier se motiewe? En vier moorde kort op mekaar verg weer Gys Niemand en Fortuintjie se uiterste speurvernuf.
Chanette Paul word rond en bont groot. Sy woon nege skole by, studeer aan vyf universiteite en het al in sewe provinsies gebly. Haar eerste verhaal waarvoor sy betaling ontvang het, is ‘n sprokie wat sy op sestienjarige ouderdom geskryf het en op Siembamba voorgelees is. Die tweede, ‘n kortverhaal, is in haar universiteitsjare in Huisgenoot gepubliseer. Eers twintig jaar later, in 1995, gee sy weer aandag aan haar skryfwerk. Sedertdien het ‘n verskeidenheid verhale en humoristiese artikels in tydskrifte verskyn asook in die omgewing van 50 boeke in verskillende genres.
As jy hou van boeke propvol kleurryke karakters, intrige, moorde en natuurlik liefde, is die vyfde en laaste boek in die Gys Niemand-reeks vir jou. Dryhout beskik oor al bogenoemde elemente en is ‘n heerlike lees. Die dialoog vloei vlot en daar is ‘n paar onvoorspelbare kinkels in die kabel.
Ek groet Gys, Fortuin, San en Gertjie en die mense van Kruisbaai met ‘n seer hart.
Chanette sluit die Gys Niemand-reeks af met 'n uitstekende verhaal wat die visvrou legende tot finaliteit bring. Dis heerlik om van die karakters uit die ander boeke te herontmoet in hierdie storie. Uitstekend geskryf en onmoontlik om neer te sit.
Na Springgety dalk my gunsteling en ek gaan die karakters mis.
"Die onmoontlike neem net effens langer as die moontlike." (bl. 15)
Ons almal voel soms soos dryfhout wat deur die see meegesleur word en dan kan ons maar net hoop dat die gety ons uiteindelik weer veilig op die strand sal uitspoel...
Aengel Rouseau kom op Kierangbaai aan met die hoop op 'n nuwe begin. Sy is moeg vir haar mense en haar lewe, want sy is haar hele lewe lank al "'n dryfhout op die Rousseau see. Sonder eie koers en rigting volg sy hulle seestrome volgens die wette van adhesie en kohesie" (bl. 70).
Aengel het haar voormoeder, Angelique D' Avignon, se dagboeke by haar. Is daar enige waarheid oor die legende van Annie Niemand wat al vir generasies op Kierangbaai oorvertel word en het dit iets met hierdie dagboeke te doen? Het Annie werklik 'n vloek oor haar nasate uitgespreek? Is dit die rede vir al die ongeluk wat Kierangbaai en die omgewing se mense tref?
Net na Aengel se aankoms, word daar dan ook 'n reeks moorde op Kierangbaai gepleeg. Gys en Fortuintjie se speurvernuf word weer tot die uiterste getoets. En sal Gys en Gertjie uiteindelik by mekaar kan uitkom?
Die antwoorde op al hierdie vrae word mettertyd beantwoord en Dryfhout sluit die Gys Niemand-reeks op 'n hoogtepunt af. Al die los drade kom mooi bymekaar en die geheim oor Annie Niemand word uiteindelik opgelos.
Soos dryfhout in die see, het hierdie boek my meegesleur. Ek kon nie genoeg kry daarvan nie en my lig het deurnag gebrand.
Dis 'n uitmuntende afsluiting van die reeks. Mag Chanette Paul nooit ophou skryf nie!
Aengel beweeg onder die versmorende invloed van haar familie uit terwyl haar dogter 'n gap jaar in Frankryk beleef. Saam met Annie se dagboek leer ken sy nie net haarself nie, maar ook hierdie oergrootjie van haar en leer om vrede met haar verlede te maak.
Sy leer ook die inwoners van Kierangbaai ken, maar dan is daar twee moorde en Aengel se lewe is ook in gevaar.
Dryfhout is die laaste Gys-boek en 'n lekkerleesboek wat jou vasgenael hou tot op die laaste bladsy. Dis ook die Gysboek wat vir my emosioneel die meeste trefkrag gehad het. Die hele reeks, maar veral Dryfhout sal ek vir enigeen aanbeveel.