#KodenaamPiesangs – David Walliams
#ProteaBoekhuis
Londen, 1940. Brittanje is in oorlog met Nazi-Duitsland gewikkel. Die 11-jarige Eric woon by sy ouma nadat hy beide ouers in die oorlog verloor het; sy pa het gesterf toe ‘n torpedo die skip, HMS Grafton, getref het, en sy ma toe ‘n bom haar werksplek verwoes het. Ouma is streng en effe doof en maak gebruik van ‘n gehoortrompet, maar Eric, ‘n kort seuntjie met bakore en ‘n gekraakte bril, is nietemin baie lief vir haar. Sy gunsteling plek is egter die dieretuin waar sy grootoom, Sid, die opsigter is. Oom Sid het in die Eerste Wêreldoorlog albei bene verloor en moet nou oor die weg kom met ‘n geroeste paar blikbene wat aardige geluide maak. Hy en Eric deel ‘n groot liefde vir diere, veral vir Gertrude, die gorilla. Wanneer haar lewe in gevaar is, huiwer hulle dus vir geen oomblik om haar te probeer red nie. Hulle avonture met Gertrude van Londen tot by ‘n verlate kusdorpie, agtervolg deur polisie en gekonfronteer deur Nazi-spioene, al die pad tot by Downingstraat 10, word op ‘n skreeusnaakse wyse in hierdie heerlike dik boek (amper 500 bladsye) vir lesers van ses jaar en ouer vertel.
Alhoewel humor ‘n kardinale rol in al Walliams se werk speel, sypel daar tog deernis en empatie deur wanneer hy Eric se gevoelens aangaande die verlies van sy ouers beskryf: ‘Dit het gevoel asof hy in ‘n droom is, of eerder ‘n nagmerrie, waarin hy onder water vasgekeer is en niemand hom sou hoor as hy gil nie.’ (64) Verskeie tegnieke om trae lesers te prikkel, word aangewend: nagtonele is wit op swart in plaas van swart op wit gedruk; geluide word in groter lettertipes aangedui en skep bykans die indruk van ‘n klankbaan wanneer woorde soos pah, woesjjj, hôôôh, grrr, krrr, doink, klonk, auuu, whuhh, ratataa en oef gelees word; die skrywer spreek die leser direk aan deur middel van voetnotas, en die illustrasies deur Tony Ross is so gedetailleerd en gepas dat dit bykans die effek van ‘n grafiese roman skep.
Bonus materiaal sluit in: ‘n dramatis personae; feitelike notas oor Brittanje in die oorlogtyd; kaarte, en fiktiewe gidse tot dierebollie en grade van stink – met kool onderaan die lys en bobbejaanboude heel bo. Die formaat verseker ook addisionele vermaak: die roman word aan die leser deurgegee as ‘n gedeklassifiseerde geheime oorlogsdokument: ‘Hierdie storie sal vir tagtig jaar in die Britse Intelligensiediens se kluis bly, soos baie nasionale geheime, en dan, eers dan, sal die lêer uiteindelik openbaar gemaak word.’ (456) en ‘Die lêer is nou pas openbaar gemaak en…dit is die boek wat jy nou net gelees het.’ (475)
Die Telegraph verwys na Walliams as ‘n waardige opvolger vir Dahl en sy wonderlike verhale kan ook nou in Afrikaans geniet word. Die oorspronklike titel was ‘Code name Banana’ en die Afrikaanse vertaling is deur Kobus Geldenhuys.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek Protea Boekhuis