Terwyl ons stap haal Assad ’n broodjie uit sy kosblik. Ek sien ’n stukkie van wat hy wegsteek. Sou dit nie lekker wees as ons niks hoef weg te steek nie? “Wat as ons vir mense alles van onsself wys?” wonder ek skielik. “Soos die mense wat video’s maak vir TikTok en klomp foto’s sit op Instagram en . . .” “Jy dink enigeen wys alles van hulleself op TikTok?” sê Assad. “Of op Instagram?” Hy is seker reg. “Nee,” sug ek. Vier tieners dra elkeen swaar aan ’n geheim. Tot die noodlot hulle op ’n vreemde pad saamgooi en hulle mekaar se lewens op magiese wyse aanraak.
Behalwe vir ’n paar vroeë jare in Kimberley en Johannesburg het Annelie Ferreira tussen Bellville en Durbanville in die Kaap grootgeword. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Bellville, en behaal ’n BA aan die Universiteit van Stellenbosch, asook ’n Nagraadse Diploma in Vertaalkunde. Sy werk voltyds as taalpraktisyn en subredakteur by Sanlam se Taaldienskantoor en Human & Rousseau Uitgewers vir ’n paar jaar, en werk daarna deeltyds en vryskut vir ’n verskeidenheid uitgewers en publikasies. Sy skryf artikels en rubrieke vir ’n verskeidenheid publikasies, en publiseer ’n aantal nie-fiksieboeke. In 2012 wen sy die Sanlam-prys vir Jeuglektuur vir haar eerste jeugboek, Tot siens, koning Arthur en in 2014 wen sy weer die Sanlam-prys vir Chuck Norris kan deel deur nul.
wat 'n wonderlike storie. ek het dit so geniet. die skrywer bring soveel aspekte in, en dis 'all-inclusive' - ek kan nou nie aan 'n goeie afrikaanse woord dink nie. dis 'n boek wat deur almal gelees moet word - van alle ouderdomme.
die karakters is wonderlik en ek is 'n groot honde-aanhanger, so natuurlik maak dit die storie nog meer interessant.
‘South African friends: In these days of Escom darkness, buy, borrow or steal my new book, winner of the Lapa competition for youth literature 2022. It will make you believe in miracles again. If it doesn’t, I’ll buy you a coffee. ‘ Dit was die skrywer se uitdaging op haar Facebookblad enkele dae gelede. Nou ja, laat daar nie gesê word ek is bang vir uitdagings nie.
Lihle wou net die hondjie red; die getjank op die vullishoop het haar laat glo sy kan hierdie baba help. Fundani was bloot gestuur om ‘n pakkie af te lewer; Sandria en Vincent het nooit voorsien dat hulle skoolprojek hulle na Khayelitsha sou neem nie, maar op ‘n wonderbaarlike wyse kruis al hierdie lyne en sou geeneen van die vier jongmense hierna weer dieselfde wees nie.
Bykans al wat hulle in gemeen het, is hulle ouderdomme. En die feit dat elkeen van hulle ‘n geheim het; iets waaroor hulle nog nie regtig wil praat nie, maar iets wat tog belangrik genoeg is om hulle harte en gedagtes te oorheers. Die katalisator sou die hond wees – en ‘n klein bietjie van die magiese.
‘n Slagyster by fiksie vir jong volwassenes is om relevant te wees, sonder dat dit met voorskriftelikheid gepaard gaan; om nie die leser te onderskat nie, maar tog deur die teks begrip te toon; om ‘n storie te vertel, nie te preek nie; om karakters te skep waarmee aanklank gevind word. Lihle, Fundani, Sandria en Vincent is uiteenlopende jongmense uit ‘n verskeidenheid van agtergronde, maar met ‘n ooreenstemmende uitdaging: hulle is almal op soek na hulle plek in die lewe; die spasie waar drome en realiteit ontmoet.
Elkeen van die hoofkarakters kry ‘n beurt om hoofstukke aan hulle afgestaan te kry; ‘n spreekbeurt as’t ware, waar hulle beurtelings as eerste persoon verteller in die kollig staan. Eietydse sosiale aangeleenthede word sodoende in die teks vervleg: gesinsgeweld; tienerswangerskap; alkoholmisbruik; gender-identiteit; saamgestelde gesinne; verhoudings en kommunikasie.
Ek het die boek saggies toegemaak; vervul met nuwe hoop vir die toekoms. En met ‘n klein bietjie geloof in wonderwerke en die onwaarskynlikheid van toeval. Let wel: ek het nie die boek gesteel nie en ek beveel ook nie aan dat andere dit doen nie, maar doen gerus moeite om dit (wettig) aan te skaf en te lees. Die skrywer skuld my nie koffie nie; inteendeel: ek skuld haar ! Vir ‘n wyle het hierdie boek my lewe mooier gemaak.
Interessante bymekaar kom van vier verskillende tieners. Elk met sy eie worsteling en grootword. Die einde is te gou, maar laat die leser dan self toe om te einde te droom...