Millie is in Amsterdam om haar tante te help aansterk na ’n knie-operasie. Maar toe die tante langer in die hospitaal moet bly, is Millie gestrand! Sy leer ken toevallig vir Pim, 'n Amsterdammer met wortels in Suid-Afrika. Maar hoekom het haar ma haar ouma se dagboek uit haar tienerjare in Amsterdam tydens die Tweede Wêreldoorlog in haar tas gestop? Bewaar die stad van kanale en fietse dalk ook geheime van Millie se familie in Suid-Afrika?
#ElfDaeInAmsterdam – Elizabeth Wasserman #Tafelberg
As een van vyf kinders is dit nogal maklik om in die bondel te verdwyn, selfs al is sy ‘al sestien vandat sy sewe was’ (144) en daarom is ‘n uitnodiging om Groottante Agnata vir elf dae in Amsterdam te versorg, vir Millie Boonzaaier ‘n gulde geleentheid om weg te breek. Gewapen met Ouma Hettie se dagboek, bygehou vanaf 1939 tot Julie 1945 terwyl sy self na Amsterdam gestuur is tydens die oorlog, vertrek Millie op haar opwindende reis.
Soos wat die geval was met die voorgangers in die ‘Elf dae’-reeks (Parys, die Seychelle-eilande, Oxford en New York) is hierdie roman vir lesers van 12 en ouer die perfekte leunstoelreis; die kultuur (‘binnen schoenen’ – 116), taal (Die Hollanders is lief om siektes op te roep om mense uit te skel’ – 113), geografie en geskiedenis (‘Wat het Jan van Riebeeck amper vierhonderd jaar gelede aan die Kaap gaan soek ? Was dit alles die moeite werd vir ‘n paar wortels en suurlemoene ?’ – 68) van die bestemming word as ‘n vermaaklike avontuur aan die leser opgedis.
Millie ontdek Amsterdam deur haar eie oë, maar ook deur die van haar geliefde Ouma se dagboek. Ouma en kleindogter het ongetwyfeld ‘n soortgelyke sin vir humor; in 1939 skryf Hettie: ‘Ek verwens vir hondsdol Hitler. Dis alles sy skuld. Mag hy omkom aan runderpes. Of dalk kan iemand hom tulpe voer.’ (20) en in 2021 mompel Millie, nadat sy ellendige en min kos in ‘n rykmanshuis voorgesit is: ‘Hoe kry (hy) dit reg om so vet te wees, in hierdie huis ?’ (119)
Sy ontmoet vir Pim (‘Hy is nes haar broers… Eintlik nes enige ander seun: praat van kos en hulle luister dadelik.’ – 54) te danke aan oliebolle (‘Vir haar is dit ‘n heerlikheid, krakerig aan die buitekant en sag binne. Dis warm en soet en ruik so lekker dat sy dit kon proe nog voor die eerste hap.’ – 17); en herleef Hettie se gevoelens vir haar geliefde Niels dekades gelede, in die hede. Die ware rykdom van die roman is egter ongetwyfeld te vinde in Millie se besef: ‘Die jong Hettie wat daardie dagboek geskryf het, is steeds iewers in Oums se verrimpelde lyf.’ (105)
Die drukkersduiwel het Lazarus Verhoef en Woldemaart de Groot se name geskommel op bladsy 172, maar dit doen geensins afbreuk aan die feit dat die roman ‘n heerlike verhaal vir tieners is nie. Ek moet bieg: ek is dadelik verlief op ‘n boek as daar ‘n kaart in is, en hierdie een het inderdaad ‘n kaart (van Amsterdam) op bladsy 2. En nou is ek lus vir oliebolle !
Ek loseer tans vir n paar dae by my suster vir die vakansie, en sy het die boek vir haar dogter vir Kersfees gekoop. Die titel het my ginspireer om te lees omdat ek n goeie oorsig oor Amsterdam het, mal oor geskiedenis is sommer lus was om in my verbeeldingsvlug saam in Amterdam rond te loop. Ek het so n jaar terug in Prinsengracht Hotel, oorgeslaap, en oor die jare in drie ander ou gragte huise in Amsterdam, en ek kon Elizabeth Wasserman se beskrywing van die vehaal mooi plaas.
Ek was al voorheen saam met skrywer, Elizabeth Wasserman, se Speurhond Willem op sy avontuurlike reise, maar van die tieners uit die Elf dae reeks, weet ek niks meer as die mooi buiteblaaie wat op sosiale media verskyn van tyd tot tyd nie. Dit nou totdat Elf dae in Amsterdam op my onbehoorlik hoë leeshoop beland het.
Ek het die inhoud en aanbieding van hierdie jeugroman baie geniet. Die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog word in verteerbare formaat aangebied in die vorm van dagboekinskrywings van Millie Boonzaaier se ouma. As jong meisie het sy en haar suster tydens die oorlog in Nederland vasgeval. Nou is Millie in Amsterdam om hand te gee met die versorging van haar tante, want haar heup gebreek het onder ietwat verdagte omstandighede. Spanning begin vinnig opbou wanneer bure en haar tante se prokureur vreemd optree en Millie tasbaar voel dat sy nie veilig is nie, en dat haar tante se belange in die gedrang is.
Die leser kry ’n goeie oorsig oor Amsterdam en die geskiedenis van Nederland by monde van ’n oulike jong man, Pim, wat haar bevriend en sommer ook deur middel van sy kennisse en familie help om die vele raaisels op te los.