Die strafregstelsel is ’n pilaar waarop demokrasie gebou word. Dit moet jaloers bewaak word. Want wat gebeur wanneer die bewakers nie vertrou kan word nie? Quis custodiet ipsos custodes? Wie sal toesien dat die bewakers bewaak word?
‘Blinde gode’ open skaars ‘n week ná die gebeure in ‘Dowe gode’. Aella is nou die bevelvoerder van Opathe se speurtak en Alexander is terug by die Valke. Skynbaar onverwante moorde bring hulle weer oor mekaar se pad en, soos in ‘Dowe gode’, speel Leblanc weer ‘n integrale rol.
Nes sy voorganger het die realiteit van die beskrywings van die regstelsel my mateloos beïndruk. Ja, die temas is stropery en korrupsie, maar die groot waarde van hierdie reeks is die (ware) uitbeelding van hoe dinge agter die skerms werk.
Inderdaad, ‘Quis custodiet ipsos custodes’ ?
Ek beveel sterk aan dat hierdie boeke in volgorde gelees word; ek sien uit na ‘Stom gode’ !
Blinde Gode was 'n lekkerder lees as sy voorganger. Hierdie keer oordonder detail nie die storie nie, en die intrige kan flink voortmarsjeer met hierdie welkome asemhaalspasie.
Dibi se aanhangers weet al teen hierdie tyd wat om te verwag: bleek landskappe uit die verwaarloosde holtes van die land, 'n vergrootglas op die korrupsie en verval in ons staatsinstansies, etlike skurwe skurke en 'n paar moedige stryders wat die wind sterk van voor kry maar steeds op die smal en reguit paadjie probeer loop. Ek het van hierdie een gehou.
Lanklaas het ’n voorblad vir my die essensie van ’n verhaal so perfek raakgevat. Oor die simboliek van die baie bekende Justitia, of Lady Justice, kan boekdele geskryf word, maar in die Suid-Afrikaanse konteks kry dit besondere betekenis. Die regstelsel word uitgewys as blind vir korrupsie en verval. Renosterstroping is aan die orde van die dag. Musiek speel ’n belangrike rol in die lewe van Aella O’Malley, die getraumatiseerde hoofkarakter.
Ek het die voorafgaande boek, Dowe gode, reeds geruime tyd gelede gelees, en slegs my nuuskierigheid oor die voortgesette storielyn, het verhoed dat ek eers herlees. Gelukkig gee die nuwe skrywe genoeg detail om die gapings te vul en ’n sinvolle lees te verseker. As jy kan, lees hulle in volgorde direk na mekaar, maar dit is nie noodsaaklik nie.
Dibi Breytenbach het nou maar eenmaal die vermoë om byna poëties te skryf sonder om te oordryf of dit geforseerd te laat oorkom. Kyk byvoorbeeld die treffende beskrywing op bl. 73: "Die son het die aftog geblaas. Straatligte brand soos tande in ’n haasbek."
Ek wil met die karakter MacLachlan saamstem dat gierigheid en luiheid die rede is hoekom renosters gestroop word. Ek wil verder gaan om te sê dat hierdie twee eienskappe by die mens, die rede is vir die meerderheid van onheile wat mense pleeg. Tewens, dit word telkemale geïllustreer deur gebeure in die fiktiewe storielyn en lê onrusbarend ná aan die waarheid.
Ek het al voorheen gesê dat ek nogal ’n sensitiewe lesers is. Daarom dat ek hierdie boek kon waardeer. Nie ’n oordaad van grusame detail nie, maar genoeg spanning om die aandag strykdeur te behou. Ek sien uit na die volgende aflewering, wat hopelik in die pyplyn is.