Jump to ratings and reviews
Rate this book

Heimwee

Rate this book
Heimwee is die storie van Mart-Mari wat moet terugkeer na die familieplaas sodat sy haar ma kan begrawe en finaal kan afskeid neem van die familie by wie sy nooit tuis gevoel het nie. Maar in ʼn ondeurdagte oomblik betaal sy die knutselaar-nutsman-van-langsaan, Anton Nieuwoudt, om saam te gaan omdat sy vir haar susters gelieg het oor ʼn man in haar lewe. Gou besef sy dat hy hom nie laat gebruik nie. Hy is die alles-of-niks-tipe, wat haar dwing tot emosionele eerlikheid en die spieël voor haar ophou sodat sy bewus kan word van haar aandeel in haar gekompliseerde familieverhoudinge.
Dit is ook die storie van Liesbet Vermaak wat in die nadraai van die allergrootste vernedering alleen moet omsien na haar broers: Andries, die dromer, en Benna, die kind wat alles verstaan, maar nie met die wêreld kan kontak maak nie. Wat die foto van die soldaat steel sodat sy kan voorgee sy is getroud, maar dan op ʼn dag in Humansburg se hoofstraat opkyk in die helder heuning van Gert Niemand se oë en besef haar leuen het haar ingehaal.
Dis ʼn storie wat strek oor geslagte, van mense wat so seer gekry het dat hulle swerf, maar dis ook ʼn storie van heling. Boweal is dit die storie van moederskap, van die verskriklike prys wat dit soms vra, en van ma's wat bo-oor die ewigheid sal reik om seker te maak hulle kinders is geborge.

520 pages, Paperback

Published October 4, 2022

1 person is currently reading
68 people want to read

About the author

Sophia Kapp

27 books49 followers
Ek het nêrens 'n aktiewe bio nie, buiten die een op die CV wat ek vir die staat moet gee as ek vir hulle wil werk, daarom sê ek liewer hier wat daar van my te wete is:

• Ek is ‘n tante, met alles wat dié term inhou – ‘n seer knie, ‘n geknakte rug, ‘n onverdraagsaamheid teenoor enigiets of -iemand wat my sielevrede versteur, ‘n immer groterwordende Weltschmertz en ‘n groeiende besef van my eie verganklikheid.
• My lewe is bitter vervelig. Ek werk 351 dae van die jaar. Die oorblywende 14 bestee ek aan die aktiewe afhandeling van my kluitklaplys. Want punt 1 hier bo.
• Ek is ‘n taalpraktisyn om den brode en ‘n skrywer om den sinne. Wat beteken ek redigeer en vertaal tekste om aan die lewe te bly en skryf stories om op my trollie te bly. Reis is die wortel wat die 351 dae die moeite werd maak. Want punt 1 hier bo.
• My liefdes is my kind en my honde.
• My rolmodelle is my ouers en grootouers.
• My helde is Bach en Langenhoven. En enige mens wat ten spyte van menslike swakhede en tekortkominge hierdie lewe na die beste van hulle vermoë oorleef.
• Musiek hou my geanker. My vriende hou my arms in die lug.
• Ek het sterk menings oor politiek, godsdiens, die Kerk, menseregte en professionele tsotsi’s wat hulle mag gebruik om mense wat op hulle vertrou te bedonner, maar ek voer nie gesprekke daaroor op sosiale media nie. Ek moet jou eers ken en weet dat jy weet hoe ‘n debat werk voor ek daaroor met jou gaan praat.
• Ek drink Earl Grey-tee met suurlemoen (op gewone dae), sauvignon blanc (op gewone spesiale dae) en Bollinger (op spesiale spesiale dae). Enige kos met stysel en/of suiker is die poort na die hemel. Cilantro is ‘n onkruid uit die donkerste dieptes van die hel.
• Ek skryf en lees romance novels omdat ek ‘n behoefte het aan omstandighede – al is dit dan nou fiktief – waar mense kry wat hulle toekom. Want punt 1 hier bo.
• Ek vloek. Vlot en gereeld, maar (hopelik) gepas vir die geleentheid. Nee, ek gee nie om as dit jou affronteer nie en nee, ek gaan nie verander nie. (My ma het in haar lewe gesê ek moet sê sy het my nie so grootgemaak nie, daarom sê ek dit nou hier ter wille van die vrede in die hiernamaals.)
• Ek glo dat ons te veel op ons verskille fokus en te min op dit wat ons deel. Die grootste ding wat ons deel, is dat ons almal op ‘n kol so verwoes was dat ons terugkyk en wonder hoe dit gebeur het dat ons nog hier is. Die oomblik wanneer ‘n mens dit besef, kweek jy die enigste eienskap waarmee hierdie wêreld kan genees – deernis.
• Daar is net een ding in hierdie lewe wat vir my heilig is: my persoonlike ruimte. Daarin bewaar ek my vrede, my vreugde, my vryheid en my heil. Ek beskerm dit verbete.

Daarmee volstaan ek. Enige ander inligting wat “daar buite” oor my rondsweef, vertrou jy op jou eie risiko.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
32 (56%)
4 stars
20 (35%)
3 stars
3 (5%)
2 stars
2 (3%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 7 of 7 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,493 reviews85 followers
October 17, 2022
#Heimwee – Sophia Kapp
#BoekDiva

1945, Heimwee, plaas in Humansburg distrik, Natal. Die 18-jarige Liesbet Vermaak se toekomsdrome versplinter onherroeplik in ‘n storm van bloed en vernedering. Sy maak ‘n desperate belofte aan haar ma, die formidabele vrou, ‘Die helder, sterk mens, die vrou wat in voorspoed en in teëspoed soos ‘n fakkel in ‘n Zoeloelandse nag uitgestaan het…’ dat sy na haar twee jonger broers (‘Ek vra dit vir jou, nie as jou ma nie, maar as een vrou aan ‘n ander: Sien om na my kinders.’ – 91) en die plaas sou omsien. Die 16-jarige Andries is geen boer nie; hy droom van studies; Latyn en ‘n loopbaan van sy eie. En Benna…. Kunstige Benna leef in sy eie kop. In ‘n poging om huis en haard te beskerm in ‘n wêreld waar patriargie heers en vrouens geen stem het nie, vertel sy ‘n impulsiewe leuen: dat sy met ‘n man op ‘n gesteelde foto getroud is, want ‘Dit gaan nie oor maklik of moeilik nie. Dit gaan oor kinders, en dan vra ‘n mens nie wat dit kos nie, jy doen wat jy moet doen om hulle geborge te hou.’ (166)

In die hedendaagse Pretoria verkeer Mart-Mari Louw in ‘n dilemma: sy moet ‘n begrafnis op die familieplaas, Heimwee, bywoon, maar haar titel as dokter-professor is onvoldoende; sy moet ‘n manlike metgesel hê om haar moeilike familie tevrede te stel: ‘My susters het nie ‘n rede nodig om wrokkig te wees nie… Dis ‘n lewenswyse, nie ‘n gemoedstoestand nie.’ (105) Op die ingewing van die oomblik besluit sy om haar knutselaar-buurman, Anton Nieuwoudt, as haar voorgeeminnaar saam te sleep.

Oënskynlik is Liesbet en Mart-Mari se lewens ligjare van mekaar verwyder, anders as wat met Liesbet die geval was, is Mart ‘n onafhanklike, suksesvolle vrou in haar eie reg – sonder afhanklikheid van mans in gesagsposisies. Die ironie van patriargie wat egter steeds in die 21ste eeu aanwesig is, is vervat in die feit dat sy wel reken sy moet ‘n man aan haar sy hê vir haar ma se begrafnis. Die skrywer gebruik hierdie feit en die karakter van Anton as ‘n spieël waarin Mart subtiel verplig word om haarself en haar verhoudings met haar ouers, grootouers, sibbe en mans met rou eerlikheid te bekyk.

Mart se emosionele ontdekkingstog begin by pynlike herinneringe uit haar kinderjare: ‘Ek was lomp en onhandig, en ek het alles in die huis gebreek of omgestamp.’ (73); ‘Ek moes elke keer bes gee, ek moes elke keer wat dit ook al was… afstaan, totdat ek later op die punt gekom het wat ek nie meer aan enigiets waarde wou heg nie.’ (294) en ‘Dit het gevoel… asof ek van die aarde losgeraak het en deur die heelal tuimel.’ (408). Uiteindelik besef sy ‘Ek het nooit besef as ‘n mens se ma doodgaan, is jy jou kinderhuis kwyt nie.’ (283); verstaan ‘Hulle is de moer in omdat hulle ma dood is, nou baklei hulle oor foto’s en kombuiskaste.’ (334) en kan self hartverskeurend uitgil: ‘O God, sy’s dood! GodGodGodGodGod, my ma is dood!’ (431)

Die roman word in twee tydslyne vertel: Liesbet in 1945 en Mart in die hede. Heimwee blyk aanvanklik die enigste gemene deler te wees, maar verskeie ooreenkomste wat geleidelik aan die leser geopenbaar word, bevestig hoe die geskiedenis homself herhaal en skep ‘n intieme agtergrond vir ‘n teks wat gemaklik tussen humoristiese verbale skermutselings, hartverskeurende onreg en die subtiel erotiese beweeg. ‘n Tema wat deurgaans sterk op die voorgrond is, is ouerskap: ‘Nie elke vroumens is ‘n ma nie. Die feit dat haar lyf kleintjies kan maak, beteken nie haar hart weet hoe om hulle lief te hê nie.’ (96); wat nie beperk is tot biologiese moederskap nie, sterk vader- en nie-biologiese ouerfigure word aan eersgenoemde gelykgestel.

Die delikaatheid van die ragfyn teekoppie op die voorblad word deur die keurige taalgebruik van die teks weerspieël en die veelseggende, sagte versoek van ‘n geswore koffiedrinker op bladsy 432: ‘Sal jy vir ons tee maak?’ was ‘n besonder treffende wyse om die sirkel wat reeds in 1945 begin het, met deernis, en as ‘n duidelike bevestiging van troos en heelword, te voltooi.

‘Heimwee’ is veel meer as ‘n lekkerlees-liefdesroman; dis ‘n skildery van menswees in al sy bittersoet fasette.

⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek
Profile Image for Julia.
568 reviews19 followers
November 29, 2022

oeg, wat 'n pragtige storie. ek kon glad nie die boek neersit nie en het tot in die vroeë oggendure gelees. hierdie skrywer weet darem hoe om 'n ongelooflike storie te skryf. ek het elke oomblik daarvan geniet.
Profile Image for Cliffordene Norton.
Author 7 books10 followers
November 8, 2023
Hierdie boek van Sophia het my laat lag, huil, kwaad gemaak en laat dink! Sy mag maar :-)
Profile Image for Amanda.
1,156 reviews
January 14, 2023
Boekdiva Uitgewers kon beswaarlik met ’n groter fanfare op die boeketoneel verskyn het. Bekroonde skrywer, Sophia Kapp, se nuwe liefdesroman is alles waarvoor haar aanhangers gewag het. Sy verweef behendig twee tydlyne, die huidige en 1945. Sy betrek haar lesers oor die bestek van meer as 500 bladsye by die geskiedenis van Liesbet en Mart-Mari en hulle families. Hierdie afwisselende tydgleuwe is uiters effektief aangewend om die leser aan die wonder te hou, in afwagting op die uiteindelike sameloop van die lewensverhale. Die gemene deler tussen die twee tydperke, is die familieplaas, Heimwee.

Daar word heelwat subtiele leidrade gegee oor belangrike elemente van die storielyne, wat vir my as leser eendersyds aangespoor het om eintlik heeltemal te vinnig te lees ten einde my nuuskierigheid te bevredig. Aan die ander kant het dit my genoop om tonele te herlees om my persepsies te bevestig.

’n Scenario wat eintlik nie uniek is nie, naamlik dié van ’n voorgeeverhouding, tesame met misplaasde identiteit, het die skrywer met vaardigheid gebruik as wegspringplek om die diepgaande emosionele probleme van Mart-Mari te ontbloot deur die tussenkoms van Anton Nieuwoudt. Mart-Mari se besware en vooropgesette idees kon moeilik stand hou teen sy onversetlike ondersteuning. Op ’n punt moes sy erken: " Dis hoe dit is om te weet as jy in die middel van ’n storm staan, gaan daar iemand wees wat vir jou beskutting bied." (p. 469)

Die held in Liesbet se 1945-verhaal, Gert Niemand, is ingelyks ’n man uit een stuk. Ek sou beswaarlik kon kies tussen die twee karakters. Hulle is waardige teenvoeters vir die ongure mans wat die vrouens se lewens beïnvloed het.

Ek kan nie nalaat om te noem dat die voorblad besonders is nie. Elke element het ’n beduidende rol in die storielyn: die teekoppie, die pak briewe, die foto van die soldaat. Selfs die kleurskema en die lettertipes is funksioneel en dra by tot die sukses van die publikasie.


Profile Image for Trisa Hugo.
Author 10 books34 followers
November 15, 2022
As jy wil weet hoe min dit neem om 'n gesin te wees sodat 'n familie saam kan groei na begrip, lees Heimwee.

As jy wil weet wat 'n ma dryf om haar gesin agter te laat en tot watter uiterstes sy sal gaan om haar kinders te beskerm, lees Heimwee.

Magspatrone in hierdie gesinne uit twee eras laat jou dankbaar voel dat jyself in die hedendaagse lewe nie meer onderworpe is aan manlike gesag en onderdrukking nie. Erfsondes maak dat mense hulleself nie waardig ag of hulle gevoelens nie durf verwoord nie.

Hierdie is die beste liefdesroman van 2022!

Lees Heimwee.
2 reviews
March 18, 2023
‘n Storie wat jou laat voel of Liesbet en Mart-Mari jou ma, sussie en vriendin is, waar jy saam huil, saam kwaad word, saam lag, wil beskerm en baklei en voel of jy ook terug is by Heimwee en geregtig is op die familiegoed, die stories en die liefde.
Displaying 1 - 7 of 7 reviews

Can't find what you're looking for?

Get help and learn more about the design.