Mense glo daar’s ’n vloek oor Stormwater. Die see roep elke jaar sy slagoffers. Is dit waarom Caleb se pa se vliegtuig neergestort het? Caleb moet sy matriekvakansie opoffer om om die geheim te ontrafel. Freya word ook gedwing om haar somer in die vreemde kusdorp deur te bring – asof vars lug 'n kitskuur sal wees vir haar kroniese siekte. Saam speel hulle speurder. Maar wat as die waarheid 'n tsunami is wat wag om hulle te verswelg?
Stormwater; ‘n klein dorpie met groot stories. Die geskiedenis vertel van skepe wat daar gestrand en selfs van vliegtuie wat in die golwe daarnaas verdwyn het. Daar is ook gerugte van bonatuurlike betrokkenheid; volgens legende was die geheimsinnige Iamanga se ma en ouma hekse wat die blaam moes dra vir kinders wat deur weerlig doodgeslaan is. Sedert hulle deur die gemeenskap verdrink is as straf, eis die see elke jaar twee slagoffers terug – een vir elkeen van hulle.
Caleb het spreekwoordelike soutwater in sy are, nes sy pa. Daar hang egter ‘n donker wolk oor die matriekvakansie waarna hy so uitgesien het: sy pa is vermis, vermoedelik dood. ‘n Enkele getuie met bedenklike waarnemingsvermoë beweer dat hy sy pa se ligte vliegtuig naby Stormwater in die see gesien val het, maar geen wrakstukke of sy pa se liggaam is gevind nie, en geen vlugplan was ingedien nie. Sy laaste boodskap aan Caleb en sy ma was besonder geheimsinnig en het hulle versoek om nie alles te glo wat hulle van hom mag hoor nie. Caleb verkies om te glo dat sy pa na gerugte van sy dood verwys het – maar sal self na Stormwater moet gaan om antwoorde te vind.
Die 16-jarige Freya, die ‘Wonderbaba wat uit ‘n proefbuis kom’ (12), aldus haar ma’s, se belowende swemloopbaan is kortgeknip deur ‘n virus wat haar met ‘n chroniese siektetoestand agtergelaat het. Sedertdien leef sy as ‘n slaapkamer-kluisenaar, uitgedos in óf dag- óf nagpajamas, met ‘n aanlyn-gemeenskap as geselskap. Weens omstandighede moet sy egter haar veilige kokon verlaat om ‘n vakansie by Miss Marian, haar ma se tante, deur te bring. In ‘n boomhuis. In Stormwater.
Die gebeure in Stormwater word beurtelings uit Caleb en Freya se perspektiewe vertel in ‘n spannende skattejag-formaat, kompleet met kriptiese leidrade wat gevolg moet word. Dis ‘n mengelmoeskardoes van antieke legendes, gerugte, geheime en geraamtes, gekombineerd met moderne kwessies soos seismiese eksplorasie; omgewingsbesoedeling; korrupsie en gierigheid.
Synde self ‘n Oos-Kapenaar, het ek die gekose ruimte en die beskrywing daarvan baie geniet en kan die akkuraatheid daarvan bevestig: verskeie plekke verskyn inderdaad nie op ‘Google maps’ nie; die krag gaan af as iemand in ‘n verre land hard nies en die kraanwater is meestal ondrinkbaar – wanneer daar wel water in die krane is, bygesê.
Die roman is egter veel meer as ‘n spanningsverhaal; belangrike verhoudingstemas word ook ondersoek, in die besonder die tussen ouers en kinders. Die leser word uitgedaag om na te dink oor wat ouerskap behels – in al sy fasette – en oor wat soms op die altaar geplaas moet word. Die skrywer is welbekend vir haar liefdesverhale vir jong volwassenes; met hierdie roman betree sy die wêreld van spanningsverhale met mag en mening en trap heerlike spore in dié genre. ⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek NB-Uitgewers/Publishers
’n Spannende, boeiende, interessante verhaal; net ’n paar spontane woorde om Cecilia Steyn se nuutste pennevrug te beskryf. ’n Heerlike kombinasie van ’n spanningsverhaal, wat ’n nuwe genre is vir die skrywer, en ’n jeugroman, waarin sy uiters bedrewe is.
Die hoofkarakters, wat beurtelings aan die woord is, is Caleb, op ’n missie om die raaisel van sy pa se verdwyning op te los, en Freya, ’n eens belowende swemmer met groot drome, nou gekniehalter deur ’n kroniese siektetoestand wat haar byna pal in die bed hou. Die twee ontmoet in Stormwater in die Oos-Kaap, waar Caleb in sy pa se strandhuis gaan bly, en Freya, baie teësinnig, by haar ma se tante. Hulle speurwerk kry momentum en hulle hande word versterk deur twee vriende van Caleb, en Anathi, die dogter van Kaptein, ’n vriend van Caleb se pa. Freya het my laat onthou waarom ek as kind gek was na Nancy Drew se avonture.
Die storie het baie om die lyf en hanteer aktuele onderwerpe soos korrupsie, omgewingsbesoedeling en komplekse gesinsverhoudinge. Seismiese aktiwiteite, die voorkoms van vars water onder seevlak, aardverwarming en perlemoenstroping kleur die storielyn verder in. Vloeke wat deur generasies aangegee word, verleen ’n tikkie bonatuurlike geur aan die verhaal.
Die skrywersnotas maak ook interessante leesstof uit met verwysings na werklike rampe in die omgewing, soos vliegtuie wat geval het en skepe wat daar gesink het. Ek dink heelwat lesers gaan saam met my bly wees dat Cecilia Steyn hierdie “lang boek” aangepak en deurgesien het.
Die buitengewone en treffende voorblad het eerste my aandag getrek en die boek het heeltemal aan die verwagtinge voldoen. Selfs die titel is in die kol, met verwysings na “dryf” van plek tot plek subtiel bygewerk. “Ná alles het ons bly dryf, Freya,” fluister hy vir haar. (p. 354) Die boek is uitgegee deur Human & Rousseau, ’n druknaam van NB Uitgewers.
Stormwater is ‘n tipiese klein dorpie aan die Wildekus. Mense bly daar vir generasies en ou stories en geheime is orals te vind. Stormwater het self ‘n reputasie – hulle sê dis vervloek.
Caleb spandeer al van kleins af sy vakansies daar terwyl sy pa navorsing doen as Oseanograaf. Twee maande gelede het sy vliegtuig in die see gestort en die enigste ooggetuie was hoog in die takke. Caleb is vas oortuig daar’s meer agter sy pa se verdwyning – geen liggaam of vliegtuigwrak is ooit gevind nie.
Freya het kroniese moegheid. Dis ‘n siekte wat mens nie kan sien nie – sy lyk heel gesond van buite. Sy gaan Desember vakansie deurbring in Stormwater by haar tante; die vars seelug mag haar dalk net goed doen. Sy ontmoet egter vir Caleb en sy vriende en saam soek hulle vir Caleb se pa. Alle aksies het gevolge en gou kom hulle agter dat iets nie pluis is nie – hoe meer hul inligting kry, hoe gevaarliker raak dit. Gaan hulle die raaisel kan oopvlek of is dit maar net die vloek van Stormwater wat kop uitsteek?
My gedagtes: Sjoe, ek het lekker hieraan gelees. Ek het ‘n tydjie in Kidd’s Beach gewoon en dis hoe ek die boek maklik kon sien in my verbeelding – dit het my selfs laat verlang na Friesland se milkshakes! ‘n Baie lekker YA spannende boek, kan dit beslis aanbeveel.
Baie baie oulike boek een van my gunsteling ekt dit in so 1 dag op gelees {Eks n baie baie vinnige leeser} en dit was n masiwe boek!! Eks nou 14 so ek beveel aan dat tieners dit vreeslik sal geniet. Vir jong kinders sal dit bietjie moeilik wees om bytehou want dit gaan oor 2 mense se lewens, en daars bietjie 'thrill' in maar nogsteeds dis n amazing boek een van Cecilia Steyn se bestes wat ek gelees het !!
Wat 'n boek!! Hierdie boek het my aandag geboei tot op die laaste bladsy, ek kon dit nie neersit nie. Ek kan dit vir enigiemand aanbeveel wat opsoek is na 'n goeie boek om te lees.