Omstrede en skatryk oud-politikus Armand Deysel is vermoor, en Kassie en Rooi het nie minder nie as ses verdagtes. ’n Britse ondersoeker is op die spoor van die waardevolle Doolhof-halssnoer, en ’n platsakman steier telkens terug van die samelewing se dwarsklappe. Kassie en Rooi pak hul ondersoek sonder forensiese rugsteun aan, en al die verdagtes hardloop kringe om hulle. Gaan iemand dié keer vir Kassie ore aansit ̶ en met die perfekte moord wegkom?
Rudie van Rensburg is op 6 Oktober 1951 in Bloemfontein gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein en behaal die grade BA (HOD) en BA (Kommunikasiekunde) aan die Universiteit van die Vrystaat en ’n BA (Hons.) in Kommunikasiekunde aan Unisa.
Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad in die sewentigs, waarna hy in 1982 mede-stigter en uitgewer van Bloemnuus (die eerste gratis weekkoerant in die Vrystaat) sou word en later die redakteur van Die Ekonoom (’n landwye saketydskrif). Hy was ook verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se skakelburo voordat hy in 1987 Kaap toe verhuis en hom by Sanlam aansluit. In sy twee dekades by Sanlam is hy onder meer senior bestuurder: reklame, uitgewer van die kliëntetydskrif Sanlamklub en hoof: borgskappe en promosies.
In 2008 word sy komedie Die Begrafnis (onder die skuilnaam van Phil Janse) by die KKNK bekroon met die Sanlamprys vir Afrikaanse Teater (beste dramaturg), en word opgevoer by al die groot Afrikaanse kunstefeeste. Die Begrafnis verskyn ook in boekvorm by Genugtig! Uitgewers. In 2009 verskyn ’n selfpublikasie van hom, Die Doempies van Tafelberg, vir kleuters.
Sy debuutroman, Slagyster, was een van die drie finaliste vir die Jan Rabie-Rapport-prys vir Afrikaanse debuutfiksie wat in 2013 by enige uitgewer in Suid-Afrika verskyn het. Slagyster is ook een van die drie finaliste vir die Prys vir Spanningslektuur van die ATKV-Woordveertjies.
Hy skilder ook die afgelope 26 jaar, het meegedoen aan verskeie uitstallings in Suid-Afrika, en sy werke is opgeneem in versamelings in Suid-Afrika, die VSA, Duitsland, Brittanje, Australië en Nieu-Seeland.
Hy is getroud met Lize en het drie kinders, MC, Neil en Amieke.
3.5 opgerond tot 4 sterre. Soos altyd was dit lekker om tyd saam Kassie te spandeer. Ek het veral van die vervlegde drie stories en kort hoofstukke gehou. Ek kon glad nie dink hoe al die karakters se stories bymekaar sou uitkom nie, en was eintlik so bietjie teleurgesteld toe die laaste hoofstuk klaar is.
Die storie: Omstrede en skatryk oud-politikus Armand Deysel is vermoor, en Kassie en Rooi het nie minder nie as ses verdagtes. ’n Britse ondersoeker is op die spoor van die waardevolle Doolhof-halssnoer, en ’n platsakman steier telkens terug van die samelewing se dwarsklappe.
Eerstens wil ek net noem hoe verbaas ek was met EB se groot seleksie van Afrikaanse boeke by OR Thambo. Ek het verwag om een of twee stowwerigge boeke op hulle rakke te sien maar die verskeidenheid was indrukwekkend.
Ek het dadelik hierdie boek gegryp en het met oorgawe op die strand gelees tussen die sand en see. Die arme boek is voos gelees maar ek het nie eers opgehou toe dit begin reen het nie.
Hierdie is die 9de boek in die Kassie reeks en alhoewel ek al beter in die reeks gelees het, het ek gehou van die verskillende stories wat saam gevleg het, met n baie bevredigende einde.
‘n Doolhof is sinoniem met verdwaal en gevaar – vra maar vir Theseus oor die minotaurus – en word selde met positiewe emosies geassosieer. Figuurlik gesproke dui dit meestal op iets wat verwarrend en ingewikkeld is; ook nie besonder bemoedigend nie. En dis waar die arme Kaptein Kassie Kasselman homself bevind na die moord op Armand Deysel, die skatryk oud-politikus. Die probleem is nie ‘n gebrek aan verdagtes nie; inteendeel: daar is te veel. Maar elke leidraad loop so dood soos ‘n lont wat nat geword het; spring weg met belowende spoed – en eindig met ‘n patetiese sisgeluid.
Die oorledene se vrou, Blanche, moes hom met ‘n minnares met ‘n bedenklike verlede, Hailey Jenner, deel. ‘n Gladdebek-uitsmyter met al tien vingers in die onderwêreld, Max Cochrane, het redes ter waarde van etlike miljoene rand gehad om hom te laat vermoor; Bert Wesssels het gesweer dat hy sal boet vir sy aandeel in sy broer se selfdood en ‘n verregse pa en seun-span, Ewoudt en Melt Eksteen, is ook agter sy bloed aan. Om dinge verder te kompliseer, is die skrikwekkende agterstand met forensiese ondersoeke (selfoonrekords, DNS en vingerafdrukke) ‘n realiteit wat die ondersoekers verder frustreer: ‘Dit voel…of hulle met die ondersoek in ‘n doolhof beland het. Elke keer loop hulle hul in ‘n doodloopstraat vas of beland op ‘n syspoor.’ (213-214)
Onbekend aan Kassie, maar bekend aan die leser, verloop daar nog twee parallelle gebeurtenisse: in Engeland kry ‘n privaat ondersoeker, Vivian Thompson, opdrag om ‘n vermiste halssnoer ter waarde van etlike miljoen pond op te spoor, nadat die spoor reeds in 1928 doodgeloop het. En, hier plaaslik, probeer Waldo Smit, platsak na verskeie ondeurdagte keuses, wanhopig weer op sy voete kom.
Die ruimtespronge tussen Kassie, Vivian en Waldo word effektief aangewend om die spanninglyn snaarstyf te hou. Die leser krap deurentyd kop oor die verband tussen die drie. Kassie se tonele is deurspek met vermaaklike,droë humor. Een verdagte is ‘…so skelm, hy bid onder ‘n skuilnaam.’ (81). Een van Kassie se kenmerkende voorliefdes, naamlik sy rooi windjekker, laat hom ook byna in die sop beland toe dit deur regses as ‘n EFF-uniform aangesien word. En dan die moedelose opmerking: ‘Enigeen wat sy vrou Mamma noem en sy hond Smurfie, is nie in staat om te moor nie.’ (115) ‘n Groot bonus vir bibliofiel-lesers is die insluiting van verskeie tonele in ‘n boekwinkel en die aandag wat aan rare boekvondse geskenk word.
Slegs een tegniese probleem het gekrap: Deysel het ‘n motor gebruik wat oor ‘n dik, klankdigte ruit beskik wat die voor- en agter deel van die kajuit skei. Dis van eenrigting glas gemaak, wat, volgens die bestuurder, beide sig en gehoor onmoontlik maak. Maar, as Deysel die bestuurder se aandag wil trek, klop hy slegs teen hierdie ruit….. (67)
‘Doolhof’ was egter nietemin ‘n heerlike lees; nie so grusaam soos ‘Monster’ en nie so ligsinnig soos ‘Hartedief’ nie. Ek beskryf ‘n boek baie selde as ‘n blitsblaaier, maar hierdie is gewis een. Sterk aanbeveel vir Kassie se aanhangers – met sy boeremusiek, seëls en Crème Soda oudergewoonte neffens hom.
Hmm, die een het so bietjie oemf gekort. Die skrywer is baie goed met wat hy doen, maar daar is niks uitstaande aan die boek of die storie nie. Die moordverhaal is die standaard roetine van ondervraging en agter rooi harings aanhardloop totdat, net voor die speurders se leidrade opraak, iemand iets sê wat die saak oopbreek.
Ek het trouens die twee ander storielyne, dié van Vivian en Waldo, meer geniet as die moordondersoek.
'n Lekker gemaklike lees as jy van jou misdaadstories lig en geroetineerd (as dit 'n woord is) hou.
Wanneer die omstrede en skatryk oud-politikus Armand Deysel vermoor word, word speurderkaptein Kassie Kasselman en sy kollega, Rooi Els, met ’n ondersoek belê wat al vanaf die begin ’n doolhof genoem kan word.
Gewoonlik is die grootste struikelblok in ‘n ondersoek die gebrek aan leidrade. In hierdie geval, is daar net te veel. En almal wat betrokke is aan die saak het ‘n motief. Om uit te werk watter een van die baie belowende ses verdagtes eintlik die skuldige een is, is die ding wat Kassie en Rooi hul koppe laat krap. Maar baie leidrade beteken ook baie wat ontleed moet word. Dit voel of Kassie en Rooi heeltyd moet wag en wag vir antwoorde. DNS en selfoonrekords en bankrekords – alles vat hopeloos te lank.
Intussen is daar in Engeland ‘n speurder gevra om ‘n halsnoer van ‘n doolhof wat etlike duisende pond werd is, op te spoor. Wat het hierdie halsnoer te doen met die doolhof van leidrade waarin Kassie en Rooi ronddwaal?
My lesersindruk: Kassie en Rooi doen dit weer, wat ‘n lekker boek om te lees! Spannend sommer van die begin af! Met die drie verskillende karakters se tydlyne bly die raaisel oor hoe dit bymekaar pas. En soos die ander boeke, is die slot aan die einde vol aksie, drama en verbasende onthullings. Sien uit na die volgende ene in die reeks!
3.5/5 opgerol na 4. Lekkerleesboek met aksie om elke bladsy. Die komplot hier en daar bietjie swak, maar met `n lekkergevoel-draaipunt aan die einde. Party van die karakters so bietjie swak en het `n gevoel dat party van die dialoë onnodig is, met party van die karakters wat partykeer bietjie dommer voorkom as wat hulle is. Maar oorkoepelend `n lekkerleesboek met `n lekker einde.
This entire review has been hidden because of spoilers.
My eerste boek van die skrywer, maar beslis nie my laaste nie! ‘n Uitstekende speurverhaal wat al die storielyne slim verweef en uiteindelik behendig bymekaarbring. ‘n Metaforiese titel wat intelligent uitspeel in die speurverhaal. Die karakters is geloofwaardig, die storie interessant en skryfstyl gemaklik.
Ek geniet Rudie van Rensburg se boeke. Soms verras die humor my. Hierdie sin het my lekker laat lag: Of all the dogs the hotdog is the most noble; it feeds the hand of the one that bites it.