Wat sien ʼn fotograaf wat boudoirfotografie doen? Hy sien vroue in hul naakte weerloosheid. En oor die loop van dekades leer hy wat dit kos om ʼn vrou te wees, hoe dit lyk as die lewe haar platgeslaan het, en watter prys sy – en hy – moet betaal om die vrou te laat herleef wat sy veronderstel is om te wees. Wimpers op lakens werp ʼn empatiese lens op die ervarings van twaalf vroue se boudoirfotografiesessies. Hul vrese en gevoelens word met fyn humor vervleg sodat elke karakter diep in jou hart inkruip. Die boek is voorts ʼn eerlike ontbloting van die effek wat al die vroue op Albert Bredenhann gehad het – as fotograaf, as man en as mens.
#Wimpersoplakens – Albert Bredenhann, soos vertel deur Sophia Kapp (Onafhanklike publikasie, gedruk deur Shumani RSA, ISBN 978-0-639-73970-0)
Dit het alles begin by ‘n roosterkoek.
Sophia Kapp het as woordkunstenaar geen bekendstelling nodig nie. Maar vir diegene wat nie geweet het nie: Sy is baie lief vir warm, vars roosterkoek. As jy haar befoeterd wil hê, bel haar sodra sy reg is om die eerste hap te gee. En dis toe presies wat die boudoir fotograaf, Albert Bredenhann, aanvang – nogal met die astrante versoek dat hy ‘n boek wil skryf en dat sy hom daarmee moet help. Dis nou dieselfde Albert wat ‘…nie eers sy gedagtes in ‘n gesprek (kan)…orden nie, laat staan nog ‘n samehangende storie in ‘n boek omskep.’ (11)
Die agtergrond van hierdie boek is essensiële leesstof; die aanloop tot die saamwerkverhouding tussen Sophia en Albert is weliswaar amusant, maar ‘n noodsaaklike insluiting om die leser van Albert se outensiteit te oortuig. In Sophia se eie woorde: ‘As jy wil hê jou lesers moet jou vertrou…gaan jy vir hulle jou hart moet wys.’ (21) En hy het: ‘Dit is ‘n kruistog, hierdie ding. Dit jaag my, dit maak my soms so depressief dat ek nie my kop kan oplig nie, dit maak my by tye leedvoos en kwaad vir die lewe. Maar ek gaan nie ophou nie, want ek glo in die helende krag van fotografie.’ (158)
Die konsep van boudoir-fotografie word volledig op bladsye 24-30 beskryf en is ewe noodsaaklik om die daaropvolgende hoofstukke te begryp, te waardeer en na waarde te oordeel. Skuilname word gebruik, maar die vertellings sluit in ‘n 38-jarige onderwyseres wat uit haar selfopgelegde slagyster van middelmatigheid bevry word; die ontdekking van die op die oog af perfekte vrou se Achilles-hiel; die desperate ouer vrou wat ‘n jonger man wil beïndruk; die skade wat ouers, wat hulle eie verlore kanse deur hul kinders wil herleef, aan dieselfde kinders doen; die vrou wat gebuk gaan onder ‘n man wat glo dat haar liggaam sy besitting is; die eggenoot wat onwetend sy ontroue vrou se fotosessies wat as geskenke aan haar minnaars dien, betaal; die vrou wat haar sagtheid slegs ontbloot wanneer sy na haar kinders kyk, en die skreeusnaakse vertelling van ‘Suzie met die pienk strik’ wat Albert so angsbevange gehad het dat hy sy grimeerkunstenaar gesmeek het om hom nie alleen met haar te los nie: ‘Dis nie veilig vir my hier alleen nie, die mens gaan my opvreet.’ (58)
Relevante aanhalings aangaande vroue en fotografie word as openingswoorde vir elke hoofstuk gebruik. Paul Caponigra s’n is vir my ‘n persoonlike hoogtepunt: ‘It’s one thing to make a picture of what a person looks like, it’s another thing to make a portrait of who they are.’ (93) Albert verwoord dit as volg: ‘…sodat ek ‘n foto kan neem wat alles sê wat (sy) nooit in hierdie lewe sal kan verwoord nie.’ (102)
Die boek word aanbeveel vir alle vrouens wat nodig het om herinner te word: ‘Jy is nie die eerste vrou wat waardering vir jouself moet terugkry nadat iemand jou met woorde of vuiste afgeransel en jou laat voel het jou vroulikheid is onder verdenking nie.’ (33). Maar ook vir mans: ‘Die een boek oor vrouens wat elke man ook moet lees. Albert se stories bly jou by en laat jou soek na die weerloosheid in elke vrou.’ (Dana Snyman)
Sophia se eerste reaksie op Albert se versoek was: ‘Dis nie net ‘n onbegonne taak nie, hy (Albert) wil ‘n wonderwerk hê. Ek doen nie wonderwerke nie.’ (11) Maar jy het, liewe Sophia, jy het inderdaad.
Die boek lees vinnig, draai nie doekies om nie en bied 'n blik op wat in die binnekamer van 'n intieme fotosessie gebeur. Ek het Sophia se inleidende hoofstuk geniet (die leser word agter die skerms betrek) en haar keurige Afrikaans maak die boek natuurlik hoogs genotvol. (is hoogs even 'n woord?). Anyway, ek was half teleurgestel toe ek die boek toemaak - daar kon maar nog 'n paar hoofstukke gewees het Albert.
I truly had fun with this little book! It’s in my native language. I hesitated about 3 days wonderding what my friend was up to?
Friday afternoon I decided to go for it, and 43 pages later I cried and knew exactly what it was all about… BEAUTIFUL!
We to first need to love ourself before anyone else can truly love us… and when someone can show you your inner beauty on a photograph to change your life, your relationships… well done my friend!
Elkeen wat die geleentheid kry om Albert se boek te lees, moet! Dis al. Lees dit...
So vernuftig soos wat Albert Bredenhann met kamera te werk gaan, so vernuftig gaan Sophia Kapp te werk met die skryf daarvan.
Verskeie individuele vroue se stories word vertel, maar is eintlik elke vrou (myne inkluis) s'n daarbuite. Die vrou word deur die kameralens bekyk, maar dis Albert wat dieper sien - die seer, onsekerheid, vrees...
Vroue moet dié boek lees om meer medelye met mekaar te toon. Mans kan gerus hulself 'n guns doen en ook leer hoe vroue se koppe en emosies werk. Vroue is inderdaad niemand se eiendom, kommoditeit of objek nie....selfs in die 21ste eeu!
Albert, dankie dat jy jou ervarings met ons gedeel het!
Van die eerste paragraaf gryp hierdie boek die leser aan. Elke storie spreek tot 'n deel van vrouwees wat nie elke dag bespreek word nie. Die gemaklik skryfstyl maak dit onmoontlik vir die leser om nie elke verhaal intens te beleef en meegevoer te word nie.