'n Splinternuwe versameling van die beste gedigte, kortverhale, dramas en volksliteratuur vir die hoërskool! In hierdie bundel lees jy stories, gedigte en dramatekste deur Zelda Bezuidenhout, Fanie Viljoen, Wendy Maartens, Hannes Barnard ... en nog meer! Hierdie versameling is perfek vir onderwysers en leerders, vir beide huistaal- en eersteaddisioneletaal-sprekers. 'n Aparte studiegids sal ook vir onderwysers beskikbaar wees wat addisionele inligting oor die tekste bevat.
“Eendag, lank, lank gelede was ‘n 9-jarige dogtertjie op ‘n Karooplaas vir ‘n vakansie. Die klimaat en gebruike het middagslapies vir die grootmense verpligtend gemaak. Tydens hierdie slapies moes kinders stil wees en die dogtertjie het uit verveling in ‘n buite-stoorkamer gaan rondkrap. Daar was kartondose met stokou boeke. Van haar gunstelinge was skoolleesboeke uit die 1940’s, veral die Dagbreek-reeks (1942) en die Silwerboom-reeks (1948). Dit was so anders as die vervelige Boet en Saartjie; hierdie boeke het ‘n groot verskeidenheid van genres gedek: gedigte, mitologie, fabels, eenbedrywe, geskiedenis en die verhale van karakters uit die wêreldgeskiedenis. Aan die einde van die elke bydrae was daar ook ‘n lys vrae wat die dogtertjie gretig voltooi het. Sy het sedertdien tevergeefs gehoop dat so ‘n boek haar pad amptelik in haar skoolloopbaan sou kruis; dit het nooit gebeur nie en sy het aanvaar dat hierdie wonderlike tipe leesboek tot die verre verlede behoort. “
Ek het bovermelde paragraaf op 12 April 2022 geskryf toe ek ‘Die skool vir uitsonderlike talente’ (Lapa, 2022) raakgelees het, wat alles was waarvoor ek soveel jare tevergeefs gesoek het, netjies verpak in ‘n 21ste eeuse baadjie. Eweneens stel ‘Tyd is ‘n b**ksem’ ook nie teleur nie. Die bundel, gemik op graad 4-7, spog weereens met verskeie bekende skrywers as bydraers, byvoorbeeld Fanie Viljoen, Elsa Winckler, Jaco Jacobs, Hannes Barnard, Kristel Loots, Erla-Mari Diedericks, Troula Goosen, Nadine Petrick, Zelda Bezuidenhout, Solet Scheeres, Francois Verster, Ronelda Kamfer, Marieta McGrath, Joha van Dyk en vele ander, en ‘n ingeslote QR-kode wat die leser na oudio-insetsels waar die skrywers en bekende stemkunstenaars voorlesings van die inhoud doen, neem.
Die 17 kortverhale dek ‘n wye verskeidenheid: van ‘n vindingryke onderwyseres, karwagte en mensehandel tot die nostalgie van pre-digitale fotografie en dreadlocks. Die 6 oorgelewerde verhale was my gunsteling-afdeling: daar is ‘n vloek uit Nederland, die volksverhaal van leeus in die Serengeti, die legende van Hendrik Spoorbek, die poetsbakker Abu Nuwas (uit die ‘Duisend en een nagte’) se skelmstreke en die verhaal van die hiëna se klein(er) linkeragtervoet. Daarna volg 28 gedigte en 2 dramas; een ‘n tipiese kinkel in die kabel-verhaal deur De Wet Hugo en die ander ‘n verwerking van ‘A midsummer night’s dream’ deur Cecilia Steyn.
Dis verblydend om te sien dat ‘n groep leerders as keurders aangewend is en my hartsbegeerte bly steeds dat skole dit sal aankoop en aanwend; iewers is daar nog kinders wat dit net so intens begeer as wat ek destyds het. Ouers en grootouers kan dit vir hulle kinders en kleinkinders aankoop en self ook die inhoud geniet – soos wat ek het.