#LottaSeLewe – Alice Panterműller & Daniela Kohl #RedDieEekhorings! #HumanenRousseau
Lotta-hulle het uiteindelik ‘n nuwe klasonderwyser en is, soort van ontslae van die suur Mev. Knacker. Die nuwe onderwyser is erg harig, lyk nogal na ‘n beer, en heet, heel gepas, Mnr. Haarhoff. Sy eerste klasopdrag is ‘n lekker uitdaging: Begin ‘n videokanaal op die internet. Paul en Rėmi het hulle eie idees, maar Chantelle en Lotta sit koppe bymekaar – met skreeusnaakse gevolge.
Temas van omgewingsbewustheid en natuurbewaring word op ‘n vermaaklike wyse ineengevleg met moderne tegnologie en stel jong lesers bekend aan die gebruik van kanale soos YouTube ( ‘Ons Tube’ in die teks) met die nodige waarskuwings en ouderdomsbeperkings.
Lotta se reeks avonture volg ‘n formaat soortgelyk aan Jeff Kinney se ‘Diary of a wimpy kid’: Dit word aangebied as dagboekinskrywings op spesifieke datums deur Lotta self; die teks wissel deurgaans in voorkoms, is plek-plek ‘doodgekrap’ en word vergesel van spotprentjies met spraakborrels, krabbelpatrone en tussenwerpsels. Die gevolg is die illusie van ‘n interaktiewe leeservaring – wat dit besonder aantreklik vir trae lesers maak.
Hierdie is die 14de in die reeks, maar elkeen kan alleenstaande gelees word. Die oorspronklike publikasie is in Duits en die Afrikaanse vertaling is deur Kobus Geldenhuys gedoen. Lotta en haar vriende is 12 jaar oud en die reeks word aanbeveel vir lesers 9-12 jaar oud.