Gerda Taljaard volg haar sprankelende romandebuut, Engel in die hoenderhok, op met ’n roman wat byna letterlik veel dieper delf. Soos voorheen doen sy dit veral deur humor en satire, maar dié keer is die satire snydender en omvattender, die humor inniger en ruimer. Dit is die verhaal van drie vroue wat jare uitmekaar gelewe het, maar verbind word deur drie ’n bemoeienis met mekaar se verhale, ’n aweregse lewensuitkyk en ’n donker, donker geheim. Esmeralda is ’n skrywer van liefdesverhale. Sy is suksesvol, maar met die aanvang van dié roman tref die leser haar midde-in ’n kreatiewe droogte. Sy sukkel. En dan word sy as’t ware besoek deur ’n verhaal, en dié keer is dit g’n ligte verstrooiing nie. Dit is die verhaal van ’n meisie – nog bogkind – wat vyftig jaar tevore op ’n plaas ’n string babas gehad het en almal, behalwe een wat ná geboorte aangeneem is, doodgemaak en naby die plaashuis begrawe het. Esmeralda se verbeelding gryp hierdie verhaal aan, nee, die verhaal gryp haar en ruk haar dat haar tande klap. Sy het geen verweer nie, die verhaal van Sus Niemand moet sy skryf. Is die Sus Niemand wat so by Esmeralda spook ’n versteurde moordenaar? Is sy bloot die slagoffer van bloedskande en veragtering? Hoeveel weet Sus van wat met haar gebeur, en watter aandeel het sy daaraan? Dit is die dinge wat Esmeralda moet deurgrond. In haar kreatiewe herskepping van Sus se verhaal kom Esmeralda agter dat die meisie kort-kort haar toevlug tot die plaashuis se kelder geneem het waar sy relikte ontdek het van ’n vrou wat ’n halwe eeu tevore daar toegesluit is – briewe, foto’s en graffiti. Dis ’n vrou met wie se kelderbestaan die meisie haar besonder vereenselwig het. Maar waarom word Esmeralda so aangegryp deur Sus se verhaal, waarvan sy die basiese besonderhede in ’n koerantberig gekry het? Wat is dit in die kelder van Esmeralda se gemoed wat haar so ontvanklik maak vir die verhaal van ’n klomp kindergraffies op ’n plaaswerf? ’n Aanduiding van die oorsprong van Esmeralda se bemoeienis is dat haar verhaal oor Sus Niemand ook die verhaal word van haar verhouding met haar seun, Benjamin. Dit is ’n holderstebolder verhouding wat tuimel tussen hewige konflik en tere toegeneentheid. Ma én seun se kleurryke en allermins konvensionele liefdeslewe speel hierin ’n groot rol, en die heerlik guitige uitbeelding daarvan, die vlymskerp satire van alles, van volksmites tot die popkultuur, word die agterdoek vir Sus Niemand se donker verhaal. Vertellend peil Esmeralda Sus Niemand se donker dieptes, en vertellend kom sy nader en nader aan ’n openbaring van wat in haar eie kelder verberg lê.
Gerda Taljaard is die skrywer van die romans "’n Engel in die hoenderhok" en "Kelder" asook die kortverhaalbundel "Maansiek". Haar gedigte en kortverhale verskyn in verskeie publikasies en sy is met die Litera- en De Compagnie-prys vir beste kortverhaal bekroon. Sy woon in Pretoria en werk as akademikus.
Die boek het my werklik aangegryp. Ek is veral gaande oor die wyse waarop Taljaard al die drade bymekaar uitbring sonder om dit eksplisiet in jou gesig te gooi. Om die fyner ondertone raak te lees moet jy wakker wees, dis beslis nie 'n slaaptyd storie nie, maar dis uit en uit die moeite werd.
Ek het "Kelder" geniet, hoewel ek nie alles mooi verstaan het wat sy probeer sê/bereik het nie. Tog skryf Gerda goed en ek sal aanhou uitsien na nuwe werk van haar kant af.
It's been a while since I've read an Afrikaans book. Really enjoyed the pace and characters and plot twist in this book. It's quite dark and creepy, so be warned.
Vyf jaar gelede het ek "Kelder" vyf sterre gegee, wat ek net doen met boeke wat ek wil herlees. Na Gerda Taljaard se onlangse "Die Laksman se dogter", was die tyd ryp om weer Kelder te lees.
Is hierdie 'n riller, is dit huishoudelike noir? Ongeag die genreboksie waarin dit dalk pas (of nie), het die storie my weer op die krop van my maag getref. Ek het probeer raaklees wat ek dalk die vorige keer gemis het.
Die manier wat Esmerelda se eie lewe as hygverhaalskrywer beïnvloed word deur die storie wat sy verweef rondom die karakter van Sus Niemand, wat haarself ongevraag kom aanmeld en selfs opgedring het, is besonder knap. Haar ingewikkelde verhouding met haar seun, haar seksualiteit en die verhaal van Sus Niemand, werk alles mee dat sy uiteindelik in die kelder van haar eie onbewuste rondgrou en haar eie donker dele konfronteer. Die verhaal word ook deels uit haar seun Benjamin se perspektief vertel, wat bydra tot die uitstekende karakterisering.
Daar was regtig niks wat my gehinder het in die boek nie, behalwe die voorblad het dit nie heeltemal vir my gedoen nie.
Hierdie boek het my aandag so gevange gehou in die begin, maar na die einde toe rafel die boek uit. Dalk verstaan ek nie die boek nie, maar vir my was dit 'n teleurstellende einde en amper asof die skrywer nie mooi geweet het hoe om al die drade bymekaar te bring nie.
Ek voel werklik dat ek my tyd gemors het met die lees van hierdie boek en dis jammer, want ek hou baie van die skrywer se skryfstyl en ek het vreeslik baie van die karakter, Esmeralda, gehou.
'n Interessante en redelik boeiende verhaal, met 'n paar sterk karakters. Dis altyd lekker om 'n goeie nuwe skrywer te ontdek. Sien uit daarna om nog van Gerda Taljaard te lees.