#Wildvreemd – Carina Stander
#Tafelberg
‘Op ‘n dag verlaat die siel die lyf. ‘n Figuur klim uit ‘n boom en gaan soek sy eie woonplek.’ (183)
Sy was nege jaar gelede Angelina. Nou, vandat sy in Die Ruig woon met haar bye as geselskap en beskerming, is sy ‘Honey’ of ‘Bosvrou’. En dis by monde van diegene wat haar skramsweg goedgesind is. Vir die res van die afgeleë Limpopo-gemeenskap is sy ‘Skarlakenvrou’; ‘Onmens’; ‘Vrekbek’; ‘Mensdier’ en ‘mal’; ‘heks’; ‘hoer’. Die beweerde allesweters fluister dat ‘n hiëna haar aan die keel gebyt het, daarom praat sy nie; dat sy klein seuntjies vergiftig; dat sy swaksinnig is. Selfs met Braam Botha, saam met wie sy een maal ‘n maand ‘n geleentheid na die boeremark kry om haar heuning en kerse te verkoop, het sy nog nooit gepraat nie. Wel een keer gehuil; die dag wat daar vars bloed onder haar vingernaels was. Sy het ‘…oorlog verklaar tussen taal en stilte…’ (18)
Wildstropery en die plundering van die natuur is sentrale temas in wat gedeeltelik as ‘n eko-roman geklassifiseer kan word. Dis egter veel meer; dis die verhaal van ‘n gemeenskap wat met hulle eie vooroordele en vrese gekonfronteer word toe ‘n verwoestende bosbrand uitbreek.
Brenda, Braam se verbitterde vrou met die donker geheim van die dag in die spens, se wegkruip agter haar onsekerhede word ontbloot deur die sagtheid van liefde, veral die van haar kleinseun, Ebro, die laaste band met haar vervreemde seun: ‘Haar arms trek my nader en hou my vaster en vaster, totdat ek onthou van ‘n rusplek waarna ek my lewe lank nog soek.’ (131) Jacobus Lasarus, enigste Botha-seun, het homself so ver van sy herkoms verwyder dat hy selfs sy naam prysgegee het: ‘Dis sy eie verdriet wat hom weggevat het van alles wat hy liefhet.’ (129) Maraai se jarelange ontkende mishandeling (‘Eintlik is ek sonner makeer…’ – 39) deur die man wat belowe het om haar te beskerm, Jan Mampoer, kom tot ‘n keerpunt wanneer hy en haar geliefde kleinkind, Groentjie, verdwyn en sy alleen met haar twee uiteenlopende seuns, Jan Rats en Jan Pampoen agterbly.
Zack van Aarde van Natuurbewaring is in sy eie stryd betrokke. Sedert sy vrou, Jala, se afsterwe, is hy alleen-ouer vir sy dogter, Ingrid, die kind wat haar ma se bruidsluier op haar troufoto wou afkrap om te kon sien hoe die vreemde tannie lyk wat nou eintlik haar ma is. Beide van hulle ervaar ‘n onverklaarbare, maar nuuskierige deernis teenoor die geheimsinnige byeboer, die stom bosvrou. En dan is daar jong Wouter Hartman, delikaat gebalanseer op die ragfyn grens tussen die wreedheid en sagtheid van die jeug.
Die roman bestaan uit vyf dele: ‘Daar was ‘n brand’; ‘Vier maande na die vuur’; ‘Heuning na die reën’; ‘Ou bloed, jong bloed’ en ‘Vlees teen vlees’. Verskeie karakters vertolk beurtelings die rol van eerste persoon verteller; ‘n tegniek wat suksesvol aangewend word om die leser van eensydige beoordeling te weerhou en die geleentheid gee om subjektiewe motiewe en motiverings, wat andersins verborge sou gebly het, te ontleed. Saam met die karakters besef die leser dat daar soms ‘…net sestig meter tussen wond en wonder…’ is (136) en dat mens dikwels op die plek waar jy spreekwoordelik gesterf het, moet oorleef.
Angelina herinner sterk aan een van Clarissa Pinkola Estės se ‘Women who run with the wolves’ en die (vertaalde) aanhaling op bladsy 5 is besonder gepas: ‘Nag na nag word ons gebore en herbore uit dieselfde wilde droom, en ons keer terug na die daglig met growwe hare in ons greep, ons voetsole swart van die klam aarde…’
Carina Stander is deesdae alombekend as skrywer van ‘Die bergengel’-reeks (Protea Boekhuis); hierdie is haar debuutroman wat reeds in 2011 gepubliseer is, maar ek was, tydens die lees daarvan, toenemend oortuig van die feit dat haar fenomenale talent reeds hier, meer as ‘n dekade gelede, duidelik sigbaar was. Dis ongelukkig nie maklik bekombaar nie, maar diegene wat wel gelukkig genoeg is om ‘n kopie te kan bekom, sal nie onaangeraak gelaat word nie. As evokatiewe natuurroman is dit vergelykbaar met die werk van Dalene Matthee en ek is dankbaar dat De Wet Theron (Theron Books) vir my ‘n eksemplaar kon opspoor.
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️
#Uitdieperdsebek