Jump to ratings and reviews
Rate this book

Oor en weer

Rate this book
Die dag toe Billie by Amandelboom 6 intrek, kon nie sy óf Manda, wat oorkant die straat in nr. 9 woon, voorsien hoe verstrengel hulle lewens sou raak nie. Manda en Billie is so verskillend soos Antarktika en die Sahara. Inkennige Manda voel op haar veiligste in haar huis met haar kat, Jasmyn, as geselskap. Billie, aan die anderkant, is net so energiek soos haar hond Tequila. Sy is pas geskei en dolverlief op ’n Irakese vrou, Amani. Uit blote misverstand tussen die troeteldiere begin Billie en Manda oor en weer kuier. En in die proses leer hulle dat die liefde ’n duisend vorme aanneem, dat dit moed verg om weerloos te wees, en dat vriendskap oneindig kosbaar is.

345 pages, Kindle Edition

First published October 28, 2020

Loading...
Loading...

About the author

Trisa Hugo

10 books36 followers
Trisa Hugo bedryf ʼn gastehuis in Kleinmond. Sy is ʼn skrywer, resensent en hipnoterapeut en leef bewustelik in harmonie met die mens en met die natuur. Met haar voete in die seesand en haar kop in die wolke, skryf sy stories oor gewone mense, soos syself – kortverhale in verskeie publikasies en twee romans. Die boek Oor en weer wat sy saam met Analize Viljoen geskryf het, is in 2020 benoem vir ‘n ATKV-Woordveertjie. Sy is passievol oor die menslike aard, boeke en tegnologie. Hierdie belangstellings stel haar in staat om Boekemakranka saam met Analize te bedryf. Hulle doen onder andere aanlyn-boekgesprekke, aanlyn-boekbekendstellings en podcasts.

Meer hier:
https://trisahugo.co.za/

Hier werk ek: https://kleinmondselfcatering.co.za/

Kleinmond is ‘n pragtige kusdorp en my werk bied my genoeg vrye tyd om kreatiewe werk te doen.

As MaanKind het ek baie vriende op die internet gemaak, en ek is dankbaar daaroor. Dit het my lewe verryk op maniere wat geen mens kan besef nie. Dit het my in aanraking gebring met skrywers en die skrywerswêreld en ek het algaande besef dat dit wat ek van kindsbeen af verafgod het, inderdaad deel is van die lewe.

Ons almal verskil, ons sieninge van mekaar en van die lewe verskil. Self is ek middeljarig, van gemiddelde intelligensie, vrou, ma, stiefma, ouma, halfpad afgetree en ek sukkel nog al my lewe met 5 kg wat ek graag sou wou verloor. As ek egter in die spieël kyk, sien ek ‘n gesonde vrou wat met haar bietjie talente gewoeker het en hard geleer en gewerk het het en haar kinders goed grootgemaak het en lekker kos kook vir haar man en die goeters doen wat ek graag wou doen my lewe lank. Ek is gesond, gelukkig en tevrede met wie en wat ek is. My lewe is vir my lekker hier by die see in Kleinmond. Die goeters wat ek doen is vir my lekker en dit sluit teken, verfwerk, strykwerk en skryfwerk in.

Dan leer ek ook graag. Ek het ‘n paar formele kwalifikasies, ‘n Honneurs in Sielkunde, ‘n Diploma in Finansiële beplanning, Sertifikate in programmering en ander diverse dinge.

Verder is MOOC’s deesdae wonderlik en ek het verskeie kursusse deur verskillende Universiteite regoor die wêreld voltooi, onder andere in Graphic Design, PhotoShop en Nutrition. Ek het onlangs my studie by die International College of Clinical Hypnosis Practitioners voltooi, om my te bekwaam as Hipnoterapeut. By die Kew Academy het ek ook 'n Diploma in berading verwerf. Die Arcane School het my ook as student aanvaar, as deel van my spirituele ontwikkeling.

Ek doen wat ek kan, met dit wat ek het, ek lewe soos ek wil, wanneer ek kan. Daarom speel ek ook, met prentjies in die sand en dansies om ‘n paal. Paalfiksheid is ‘n sport wat toenemend gewild word, veral onder jong vroue. RSG het gedink dat dit ‘n prestasie is vir ‘n 60-plusser, en my uitgevra daaroor. So ontdek ek ook toenemend aspekte van myself wat ek kan uitleef, terwyl ek kan.

Ratings & Reviews

What do you think?
Rate this book

Friends & Following

Create a free account to discover what your friends think of this book!

Community Reviews

5 stars
11 (55%)
4 stars
6 (30%)
3 stars
2 (10%)
2 stars
1 (5%)
1 star
0 (0%)
Displaying 1 - 6 of 6 reviews
Profile Image for Anschen Conradie.
1,555 reviews89 followers
November 16, 2020
#oorenweer - Trisa Hugo & Analize Viljoen
#lapa

Manda is kort duskant 40; is soort van tussen verhoudings nadat sy besef het dat haar geliefde, Danie, nie is wie en wat sy gedink het hy is nie; ly aan PTSV ná trauma uit haar verlede en is eintlik vrek eensaam - behalwe vir haar kat, Jasmyn.

Dan trek haar nuwe buurvrou, Billie (Belinda), in. Billie het pas uit die kas gefoeter; haar verhouding met Amani, ‘n Irakese (getroude) vrou is erg gekompliseerd; haar gewese man het ‘n nuwe geliefde en haar volwasse tweeling het dramas van hulle eie.

Ten spyte van hulle drastiese verskille, word Billie en Manda vriende; dra hulle mekaar (soms letterlik) deur die klappe wat die lewe uitdeel en leer hulle dat familie meer as bloed is.

Ek is nie gemaklik met die ‘chicklit’ etiket nie: Billie is in haar 40’s en Manda slegs enkele jare jonger. Dit was vir my veel eerder ‘n goed-voel verhaal oor vriendskap en medemenslikheid. Die hoofkarakters is geensins bakvissies nie; hulle is volwasse vrouens met volwasse verwagtinge en ingesteldhede.

Die kook-tonele (kompleet met lyste van bestanddele en metodes) en die musiek waarna verwys word (ek het gaan luister !) verleen ekstra diepte aan die roman. Alhoewel die temas ernstig is, het ek plek-plek ‘n grinnik of twee gegee, veral hiervoor: ‘Die naaste ding wat sy kry om haar koel te waai is die platgedrukte Post Toasties-boks wat herwinningsak toe moet gaan.’

Dis ‘n ongekompliseerde en maklik vloeiende lees; gepas vir enigiemand wat iets meer as spookasem soek, maar ook nie in dodelike erns en swaarmoedigheid wil verval nie.

4 sterre van #Uitdieperdsebek
Profile Image for Tertia.
14 reviews7 followers
November 2, 2020
Ek lees nie naastenby genoeg Afrikaanse boeke nie, maar is so bly dat ek "Oor en Weer" op my Kindle gekoop het. Dis hoofsaaklik 'n storie oor vriendskap, oor hoe vrouens veral vir mekaar kan omgee, hoe ons lewens in mekaar gevleg word en hoe vriende familie word.
Daar is soveel relevante temas van vandag wat deur die boek loop. Patriargie, emosionele en fisies mishandeling, seksualiteit, dominansie, eensaamheid en die moderne konsep van familie.
Die twee hoofkarakters kruip diep in jou hart in, hul menslikheid so "relatable".
Dankie Trisa en Annalize vir 'n heerlike lees. Ek sien uit na julle volgende projek!
5 reviews
April 13, 2021
Verfrissend!

Min Afrikaanse boeke wat mens se verbeelding n bietjie prikkel soos hierdie. As kat en vroue liefhebber het die skrywers die kol beslis raakgeskiet. Die karakters is so uniek maar ook so bekend. Love dit!
Profile Image for Erla-Mari Diedericks.
Author 13 books25 followers
June 2, 2021
Daar is iets vry en wild omtrent ’n vriendskap tussen vroue. Enigiets kan daar uitbroei. Spesifiek omdat dit gewoonlik ontwikkel buite die sfeer van mans. As ’n tema van ’n boek is dit dan ook die ideale dryfveer om kommentaar te lewer op vrouwees en die samelewing waarin hulle hul bevind.

Oor en weer deur Trisa Hugo en Analize Viljoen is eintlik ’n vriendskap binne ’n vriendskap, ’n wonderlike vermenging van realiteit en fiksie. Want toe dié twee begin het met die skryf van die boek, het hulle mekaar nog net twee keer in lewende lywe gesien. Die boek is in “real time” geskryf met behulp van Google docs, en hul storie en werklike vriendskap het so saam-saam verder ontwikkel.

Die karakters in die boek, Billie en Manda, is op die oog af teenpole van mekaar. Die geskeide Billie het kinders en is verlief op ’n Irakkese skoonheid, Amani. Manda is weer die ene neurose en alleenlopend (behalwe vir ’n ongesonde verhouding met ’n getroude man).

Waar die verlede (’n uiters traumatiese tragedie) Manda se lewe swart inkleur, is dit weer haar stormagtige verhouding met Amani in haar onmiddellike hede wat Billie omvergooi.

Onderliggend aan al dié verskille is daar wel ooreenkomste … albei vroue is inherent alleen en sonder ’n beste vriendin. Albei word gelei deur die hart en onder elkeen se intrige draai ’n manlike duiwel rond – die arrogante verneuker Danie wat Manda vir sy seksuele bevrediging gebruik en Amani se man wat bereid is om tot uiterstes te gaan om haar te behou.

En ja, weerloosheid bring hulle dalk bymekaar, maar die resultaat is weerbaarheid en waagmoed. Dis dan ook nie lank nie of die poppe begin dans. Want hierdie is nie ’n oppervlakkige boek met anoreksiese karakters nie. Dié girls het vleis om die lyf.

Manda kyk pornografie en beoefen Japannese bondage of sjibari met haar getroude minnaar. Sy sukkel met posttraumatiese stressindroom en is verslaaf aan Xanor. Billie sukkel om die balans te handhaaf tussen ma- en vrouwees. Dié gay karakter is nooit ’n karikatuur nie en die sekstonele is romantiese realisme op sy beste.

Dié twee karakters is iets vars in Afrikaanse literatuur. Ons almal ken iemand wat getroud was en nou borrelend baljaar tussen die vrouelywe. Ek self was lank deel van ’n groep wat pornografiese materiaal en foto’s gedeel het op Tumblr. En wie weet nie van iemand wat Xanor drink soos Smarties eet nie?

Tog word daar selde oor geskryf – maar dit is juis waar vrouevriendskapboeke so ’n belangrike rol kan speel – om die kollig te plaas op presies wat gebeur agter daardie toe deur wanneer al die girls saam badkamer toe storm …

Interessant genoeg het die vrouevriendskapboek nie altyd bestaan nie. Voor die 20ste eeu was boeke oor vrouevriendskappe so ’n onding soos ’n vrou in ’n kroeg. In die 1800’s het Jane Austen oor susterlike bande begin skryf en in Jane Eyre het Charlotte Brontë geraak aan vriendskap, maar dit was eers hier van die sestigs af dat skrywers begin het om vrouevriendskappe ten volle te ontgin.

Om te skryf oor vrouevriendskappe is ontsettend belangrik in vandag se tyd van toenemende geweld teen vroue en ’n seksistiese atmosfeer wat nog maar dik lê in hierdie land van ons.

Vrouevriendskappe kan ’n veilige ruimte bied waar vroue se letsels kan genees. Dit is dan ook wat gebeur met Billie en Manda. In mekaar se huise, dikwels oor ’n bord kos en ’n glas wyn, word hul psiges en harte gesonder.

Boeke soos Oor en weer is belangrik. Daar is so baie stereotipes van jaloerse en vyandige vrouevriendskappe in flieks en boeke wat nuttig te pas kom in ’n patriargale omgewing waar mans juis nie wil hê vroue moet saamstaan nie. Kyk na #metoo. Kyk wat gebeur as vroue wel hande vat.

Oor en weer is darem nie net derms uitryg nie. Dit is vol verrassings en interessante wendings en humor wat ingemeng is in die boekbrousel so tussen die gekokery deur.

Die boek het my half leeg laat voel ná die tyd – nie oor die inhoud nie, maar omdat Manda en Billie ook my vriendinne geword het – en nou is ek klaar gelees en sonder my pelle. Wat gaan nou verder gebeur? Ek wil weet!

Erger nog … ek gee om. Ek hoop dus daar is ’n opvolg. Anders is my persoonlike vriendskap met die skrywers op die spel.
Profile Image for Nanette Kemp.
1 review
December 22, 2020
Hier is nou 'n boek wat soos stroop lees. Elke bladsy vloei met 'n storie wat 'oor en weer' vleg. Ek lees nie baie Afrikaanse boeke nie, so behalwe dat die storie en karakters my in vervoering gehad het, kon ek met die inhoud vereenselwig.

Analize en Trisa, julle is my nuwe Dan Brown want ek kan nie wag vir die volgende boek nie. Ek love hoe julle raak aan hartsake, liefde en vriendskap, pyn en teleurstelling en terselfdetyd die pad na oorwinning so mooi oopkap met die navorsing oor depressie en “post traumatiese stress”. Die boek is vol ‘surprises’, kultuur en kookkuns en soveel oomblike waarmee die leser kan vereenselwig. Of jy nou ‘bi’, straight of onseker is, in die kas of uit die kas, hierdie het iets vir almal. Die ‘storie’ is ‘real life’ en verwys na ware ‘struggles’ waarmee baie mense lewe. Dis donker waar dit moet wees en julle trek die swaar kombers so stadig af vir die lig en nuwe lewe wat hieruit spruit. Dankie dat julle raak aan die kruis wat soveel vrouens van ander kulture moet dra, dankie vir die lig wat julle daarop skyn.

Julle verwysings na ware plekke en beskrywings, maak dit ekstra spesiaal. Julle woordspeel en dialoog is opwindend, soos die ‘spices’ en ‘romance’ wat ek net nie genoeg kon kry van nie. Die ultimate wonderboek om te lees oor hierdie vakansie tyd. Bo als, is twee van die hoof karakters in my opinie, Tequila en Jasmyn, die dierekinders wat saam met hulle ‘humans’ deur al die ‘ups and downs’ gaan. En, sonder om die kat uit die sak te laat, laat ek hierdie opwinding aan ander lesers oor. Lees ‘Oor en weer’, julle sal nie spyt wees nie.

Well done Analize en Trisa!! Julle mag maar skryf en ek is eerste in die tou vir die volgende boek!


5 reviews
April 27, 2025
Een van die mooiste boeke wat ek al ooit gelees het. Ek kon dit nie neersit voor ek die hele boek deurgelees het nie. Baie geluk.
Displaying 1 - 6 of 6 reviews