Nicci de Wee hou haar lyf deesdae privaat speurder. Maar wat as sy ’n kans kry om die skurke wat Tom en Aynaz se dood veroorsaak het, aan die pen te laat ry? Wat as sy ’n internasionale sindikaat wat roof, verkrag en moor vir wins, kan vernietig?
G’n wonder sy gaan tydelik terug polisie toe nie. Natuurlik betrek sy Blackie, Henk en Stella ook, maar dis nie sonder komplikasies nie. Haar span is dieper geraak deur die verlies van hul kollegas as wat hulle self besef.
Boonop kom die skerpskutter terug wat hulle voorheen gehelp het. Maar is hulle vriend of vyand? Hoekom word die name van mense, onmiskenbaar op ’n moordlys, so meedoënloos afgetik deur iemand met ’n koel kop en peperduur smaak in whisky?
Vir Nicci voel dit of die roesagtige reuk van bloed haar agtervolg. En een slagoffer is wreder en meer obseen gemartel as die ander.
Die plot knoop met elke kinkel stywer vas. Roosbome in die tuine van hooggeplaastes verberg die afgryslikste geheime. Voor hul oë neem mensehandel skrikwekkende afmetings aan.
Hulle opdrag vlek ’n internasionale sindikaat oop.
Daarom moet hulle ’n lokval stel. Maar wie is aas? En wie bobaas?
Na afloop, en in ‘n groot mate as gevolg van die gebeure in ‘Jagter’ (Umuzi, 2019) hou Nicci de Wee haar lyf privaatspeurder, eerder as om langer in die polisie aan te bly. Lewens is verloor, vertroue is geskend en trauma het blywende wonde gelaat, sommige minder sigbaar as ander. Maar die geleentheid om onbeantwoorde vrae af te sluit en die dood van geliefdes te wreek is nie ‘n kans wat sy kan laat verbygaan nie – al beteken dit dat sy tydelik weer vir die polisie moet werk. Wat oor is van hulle span, kombineer weereens kragte, maar die skade is opmerklik: die kraak in die eertydse ongekwalifiseerde vertroue is onuitwisbaar, en die emosionele bagasie bemoeilik die uitdagende reis.
Blackie is skraler en gryser; Henk is stil, sy glimlag weg; Hawthorne se posttraumatiese stresversteuring laat hom ‘n bunker bo die buitewêreld verkies; Steyn se paranoia strek nou selfs wyer as tinfoelie-hoede en aartappels op antennas, en Stella bewaar geheime – en dra die moorddolk, Dabria, met haar saam.
Sally, Nicci se geliefde, is ‘n karakter wat, ten spyte van minimale verskynings, baie sterk na vore tree. Sy is, meer as tevore, die gom wat die delikate psige van die groep aanmekaar hou; haar oerwysheid en vermoë om chaos in vrede te omskep, is ‘n deurlopende bron van rustigheid en stabiliteit, maar tipies van haar onkonvensionaliteit as mens en as priester, huiwer sy glad nie om ‘n gemeentelid met ‘n sjebeen in die nagtelike ure te kontak om bier vir diegene wat sy as onder haar sorg ag, aan te dra nie.
Die eerste hoofstuk van die roman gee die pas aan en kon, terloops, ewe suksesvol ‘n treffende kortverhaal uitgemaak het. Binne slegs 3 bladsye (9-11) is die spanning reeds snaarstyf en word die leser met ‘n gevoel van gretige afwagting gelaat. Die roman vermy deurentyd oortollige woorde; sinne en hoofstukke is kort, en die aksie-tonele, insluitend sluipmoorde, ontploffings; skietgevegte en jaagtonele, verskyn teen die spoed van gevorderde Tetris-blokkies. Die feit dat die leser na ‘Jagter’ deeglik daarvan bewus is dat die skrywer nie huiwer om hoofkarakters uit die weg te laat ruim nie, en die gevolglike twyfel oor wie gaan oorleef, dra by tot die spanningsfaktor.
Die skrywer gebruik etlike interessante tegnieke om die leser uit te daag en te vermaak. Eerstens is daar die bykans simpatieke uitbeelding van ‘n koelbloedige huurmoordenaar wat in kontras gestel word teenoor Nicci se eie spanlede se getraumatiseerde reaksie op geweld. Tweedens word insiggewende inligting aangaande spesialiteitsgebiede, soos eksotiese whiskey en whisky, stralingsiekte en kriptogeldeenhede subtiel by die teks ingeweef. En, derdens, is die satiriese dialoog en donker humor die yin van die grusaamhede se yang.
Die skrywer se groei is opsigtelik met die lees van elke nuwe misdaadroman uit haar pen. ‘Lokval’ word aanbeveel vir liefhebbers van die genre, maar met die voorbehoud dat groter leesgenot daaruit geput sal word as ‘Jagter’ vooraf gelees word.
En nou wonder ek oor roosbeddings in die omgewing…….
Ons is verskriklik bederf met die wonderlikste krimis in Afrikaans. Daar is soveel puik boeke om te lees. Dit is regtig die enigste verskoning wat ek het vir die feit dat “Lokval” die eerste Bettina Wyngaard boek is wat ek lees. Het ek geweet hoe goed sy skryf en hoe heerlik haar boeke is, het ek al lankal die voriges gelees. Dit volg dan dat ek nie “Jagter” wat “Lokval” voorafgaan gelees het nie. Alhoewel daar deurgaande verwysings is na die voorafgaande gebeure het ek gevoel dat die skrywer genoeg agtergrond gee dat die boek sinvol as losstaande storie gelees kan word. In dieselfde asem is ek amper jammer dat ek nie eers “Jagter” ook gelees het nie en gaan ek hom beslis aankoop om wel te lees. Nicci de Wee is deesdae ‘n privaat speurder wat die kans kry om die dood van twee van haar vorige spanlede te wreek teen ‘n uitstekende betaling boonop. Nie dat dit haar beweegrede is om die opdrag te aanvaar nie. Nicci en die meeste van die span wat met haar vorige ondersoek betrokke was dra die letsels van onafgehandelde sake met die moordenaars van hul spanlede. Dus spring hulle aan die werk maar kom gou agter dat iemand hulle so twee tree vooruit is en besig is om die betrokkenes een vir een af te maai. Boonop lyk dit asof dit ‘n vrou is met ‘n smaak vir die luukse in die lewe. Die karakters is elkeen so goed beskryf dat ek vinnig ‘n prentjie in my kop kon vorm van hoe elkeen lyk en wat hul persoonlikheid is. Ek is absoluut gefasineer deur Steyn en moet erken dat ek veel meer oor hom veral wil weet. Tussen die harwar van die geharde polisiemanne en vroue, die unieke komplekse natuur van die sluipmoordenaar en die menssku rekenaar bleeksiele staan Stella, Nicci se lewensmaat uit as ‘n kontras van rustigheid en menslike warmte. Die spanningslyn in die boek is uitstekend geskep en ek moet erken dat ek Saterdagnag in die broeiende hitte van Pretoria met ‘n piepklein leesliggie die boek net moes klaar lees. Neersit en slaap was eenvoudig nie ‘n opsie nie. Ek wonder ook steeds oor hoe ‘n komodo draak in privaat besit moontlik is maar dalk lê die antwoord en wag vir my in “Jagter”. “Lokval” is ‘n heerlike krimi en uitstekend geskryf met ‘n fyn aanvoeling vir die menslike in al die karkaters, selfs ‘n sluipmoordenaar. Die skryfstyl is kompak sonder onnodige beskrywings maar laat jou ook nooit voel asof daar informasie uitgelaat is nie. Dit en die kort hoofstukke help om die spanningslyn tot die uiterste te jaag en maak van die boek ‘n blitsblaaier soos min.