#Lokval – Bettina Wyngaard
#Umuzi
Na afloop, en in ‘n groot mate as gevolg van die gebeure in ‘Jagter’ (Umuzi, 2019) hou Nicci de Wee haar lyf privaatspeurder, eerder as om langer in die polisie aan te bly. Lewens is verloor, vertroue is geskend en trauma het blywende wonde gelaat, sommige minder sigbaar as ander. Maar die geleentheid om onbeantwoorde vrae af te sluit en die dood van geliefdes te wreek is nie ‘n kans wat sy kan laat verbygaan nie – al beteken dit dat sy tydelik weer vir die polisie moet werk. Wat oor is van hulle span, kombineer weereens kragte, maar die skade is opmerklik: die kraak in die eertydse ongekwalifiseerde vertroue is onuitwisbaar, en die emosionele bagasie bemoeilik die uitdagende reis.
Blackie is skraler en gryser; Henk is stil, sy glimlag weg; Hawthorne se posttraumatiese stresversteuring laat hom ‘n bunker bo die buitewêreld verkies; Steyn se paranoia strek nou selfs wyer as tinfoelie-hoede en aartappels op antennas, en Stella bewaar geheime – en dra die moorddolk, Dabria, met haar saam.
Sally, Nicci se geliefde, is ‘n karakter wat, ten spyte van minimale verskynings, baie sterk na vore tree. Sy is, meer as tevore, die gom wat die delikate psige van die groep aanmekaar hou; haar oerwysheid en vermoë om chaos in vrede te omskep, is ‘n deurlopende bron van rustigheid en stabiliteit, maar tipies van haar onkonvensionaliteit as mens en as priester, huiwer sy glad nie om ‘n gemeentelid met ‘n sjebeen in die nagtelike ure te kontak om bier vir diegene wat sy as onder haar sorg ag, aan te dra nie.
Die eerste hoofstuk van die roman gee die pas aan en kon, terloops, ewe suksesvol ‘n treffende kortverhaal uitgemaak het. Binne slegs 3 bladsye (9-11) is die spanning reeds snaarstyf en word die leser met ‘n gevoel van gretige afwagting gelaat. Die roman vermy deurentyd oortollige woorde; sinne en hoofstukke is kort, en die aksie-tonele, insluitend sluipmoorde, ontploffings; skietgevegte en jaagtonele, verskyn teen die spoed van gevorderde Tetris-blokkies. Die feit dat die leser na ‘Jagter’ deeglik daarvan bewus is dat die skrywer nie huiwer om hoofkarakters uit die weg te laat ruim nie, en die gevolglike twyfel oor wie gaan oorleef, dra by tot die spanningsfaktor.
Die skrywer gebruik etlike interessante tegnieke om die leser uit te daag en te vermaak. Eerstens is daar die bykans simpatieke uitbeelding van ‘n koelbloedige huurmoordenaar wat in kontras gestel word teenoor Nicci se eie spanlede se getraumatiseerde reaksie op geweld. Tweedens word insiggewende inligting aangaande spesialiteitsgebiede, soos eksotiese whiskey en whisky, stralingsiekte en kriptogeldeenhede subtiel by die teks ingeweef. En, derdens, is die satiriese dialoog en donker humor die yin van die grusaamhede se yang.
Die skrywer se groei is opsigtelik met die lees van elke nuwe misdaadroman uit haar pen. ‘Lokval’ word aanbeveel vir liefhebbers van die genre, maar met die voorbehoud dat groter leesgenot daaruit geput sal word as ‘Jagter’ vooraf gelees word.
En nou wonder ek oor roosbeddings in die omgewing…….
⭐️⭐️⭐️⭐️⭐️ #Uitdieperdsebek