Toe Kristina een aand nie huis toe kom nadat sy gaan draf het nie, bel haar twee huismaats die polisie. Hulle kry haar in die vroeë oggendure onder ’n bos teen die berg. Sy is by haar bewussyn, maar kan glad nie onthou wat met haar gebeur het nie. Daar is ook geen logiese verklaring vir die drastiese persoonlikheidsverandering wat sy sedertdien ondergaan het nie, en ten einde raad word die hulp van ’n psigiater ingeroep.
Ben Krige het ’n praktyk en kliniek op Stellenbosch, en wanneer Kristina oorkant hom plaasneem, is sy vir hom soos ’n labirint – vreemd en onbekend. Al wat hulle het, is woorde. Maar geleidelik breek woorde alle grense af, en uiteindelik bring die pad hulle by ’n bestemming uit – al lyk ’n bestemming soms anders as wat ’n mens jou dit voorgestel het . . .
Wilna Adriaanse is op 19 Maart 1958 in die Kalahari gebore. Sy het op Worcester grootgeword en matrikuleer in 1976 aan Hoërskool Worcester. Sy verwerf daarna ’n BA en BA honneursgraad in Ontwikkelingsadministrasie aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is in 1981 met Deon Adriaanse getroud. Hulle het vir drie en ’n half jaar in Giyani (Limpopo) gewoon voordat hulle weer in 1985 hulself in die Kaap gevestig het. Sy verdeel tans haar tyd tussen Botswana en die Boland. Haar eerste boek, Die wingerd sal weer bot, verskyn in 2000 by Lapa-uitgewers onder die skrywersnaam Wilmine Burger. Haar bekendste boeke is Rebecca (2004), Met ander woorde (2006), Die boek van Ester (2008), Vier seisoene kind (2010) en Dubbelspel (2014). Sy het haar MA-graad in skeppende skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad voltooi, en daaruit spruit haar roman 'n Klein lewe (2012). Sy verdeel tans haar tyd tussen Botswana en die Boland,
Het jy geweet?
Sy het om middernag op 31 Desember 1999 (in die Switserse Alpe) besluit om skryf haar Nuwejaarsvoorneme te maak. Sy het in 2000 begin skryf en haar eerste boek het in 2001 verskyn.
Dit kan oorloë veroorsaak, maar ook die motivering agter ʼn wit vlag wees; dit kan harte breek én heelmaak; dit kan in oormaat gebruik word, of glad nie, en ons almal soek soms daarna, veral wanneer oorgebruik clichés tot gevolg het en ons ander benodig.
Woorde.
Daar is ook soms gebeurtenisse wat so traumaties is dat woorde daarvoor ontbreek; wanneer die liggaam rou, maar die tong hardnekkig swyg. Kristina Lazarus, ‘n finalejaar LLB-student, het oudergewoonte in Stellenbosch gaan draf: “Haar voete ken die pad soos voëls elke jaar hulle pad na die somer vind. Haar hartklop gee die pas aan en haar asem is wit ontploffinkies voor haar mond.” (7) Sy daag egter nie weer op by die studentehuis wat sy met Helen en Cato deel nie, en word in ‘n oënskynlike toestand van skok gevind met geen waarneembare beserings nie, maar ook met geen herinnering aan wat met haar gebeur het tydens die ure wat sy vermis was nie.
Amnesie is nie die enigste bron van bekommernis nie; die Kristina wat met haar drafskoene in die pad geval het, is nie dieselfde Kristina wat in die vroeë oggendure gevind was nie; die eens sorgvrye student is apaties, angstig en ‘n vreemdeling vir haarself en andere: “Sy laat my dink aan ‘n huis wat altyd verlig was en nou skielik is al die ligte dood.” (65)
Ben Krige het, op sigwaarde, ‘n silwer lepel in die mond. As gerekende psigiater met ‘n filmster-voorkoms aan die hoof van ‘n eksklusiewe kliniek, ontbreek dit hom nie aan bewonderaars nie. Sy kinderjare het egter verseker dat sy emosies agter doringdraad bewaar word en die enigste mense wat bekend is met sy binnewêreld, is sy skoolvriend Willem, en sy vrou, Lise. ‘n Ingrypende gebeurtenis het veroorsaak dat hy weier om studente as pasiënte te aanvaar, maar hy kan kwalik Willem se versoek weier om Kristina in sy professionele hoedanigheid by te staan.
Die roman ondersoek die manifestasies van die reaksies op trauma, die mag van woorde om te genees, die terugvind van taal wanneer dit ten diepste verborge geraak het, en keer die vooroordele en negatiewe konnotasies aangaande psigiatriese klinieke en behandeling op sy kop. Kristina verkies om deur middel van aanhalings te kommunikeer aangesien dit haar aan woorde ontbreek en, wanneer sy wel gevoelens kan verbaliseer, herken sy haarself nie daarin nie: “Ek is die skerwe wat nooit weer gaan pas nie en nie regtig meer waarde het nie. My vingerpunte het hulle sensasie verloor en my voete vind nie meer vanself hul pad vorentoe nie. My eie naam het vir my vreemd geword. Ek ís nie meer nie.’ (172)
Ben word gekonfronteer met sy eie verval in niksseggende clichés, en moet opnuut semantiek en betekenis ondersoek. ‘n Gesprek tussen hom en Kristina wat die begrip ‘gesond’ ondersoek, is ‘n voorbeeld hiervan, en stel hom uiteindelik in staat om te kan sê: “Ek dink ons is gesond wanneer die goeie én die slegte in ons denke en gedrag geïntegreer word en ons steeds ‘n goeie skoot optimisme behou.” (224)
Die roman se eerste publikasie was in 2006, en die heruitgawe getuig van die tydlose relevansie van die gekose temas. Min het sedert die eerste verskyning van die teks verander, die enigste moontlike uitsondering is kommunikasie deur middel van sms’e wat sedertdien grootliks deur WhatsApp-boodskappe vervang is. Dit doen egter geen afbreuk aan die waarheid dat ons steeds dikwels na ander woorde soek wanneer die tam gebruiktes nie meer aan ons behoeftes voldoen nie.
Met ander woorde is 'n lekker lees verhaal, propvol karakters wat teen die einde soos vriende voel en lekker dialoog wat jou hard-op laat lag. Dis 'n storie wat filosofeer oor die lewe en 'n tema, ernstig genoeg, om jou lank na die tyd aan die dink te hou.
Daar is ñ paar juwele van insig. Die konstante dialoog raak ñ uitgerekte voos gebreide stuk riem. Sal nog ander boeke van Adriaanse lees om ñ meer konkreet besluit oor my opinie van haar styl te vorm. Nr 5 of 52
Met Ander Woorde het 'n interessante konsep, wat ongelukkig deur swak dialoog en gebrekkige karakterontwikkeling gekortwiek word. Dit is te verstane dat die sessies met die sielkundige baie dialoog sal vereis, maar daar is darem interessanter maniere om die nodige inligting oor te dra?