Dani de Villiers transporteer onverwags vanaf 2019 na 1724 tot in die sitkamer van die La Rochelle landgoed waar sy vir Jacques le Roux, die eienaar en wynboer, ontmoet. Verward en geskok oor waar sy haarself bevind, vertrou sy nie een woord wat uit Jacques se mond kom nie en sal eigiets doen om terug in haar eie tyd te kom. Jacques het egter ander planne vir haar, want geen vrou het hom al ooit so aangeraak nie. Omstandighede vermoeilik gou hulle situasie en voor Dani besef wat gebeur, moet sy met Jacques trou om die skinderbekke stil te kry. Om sake te vererger besef Dani dat sy besig is om haar hart op Jacques te verloor. Wanneer hy ‘n manier vind vir haar om terug te keer na 2019, moet sy ‘n besluit Volg sy haar hart en bly by hom, of moet sy teruggaan na alles wat vir haar bekend is?
Dani de Villiers het ’n dilemma: “Sy is nou al vir twee dae bitter ver – of is dit bitter lank? – weg van die huis af en het geen manier om weer daar uit te kom nie.” (p.51) Sy is die jongste slagoffer van die silwer sakhorlosie wat die mag het om die persoon wat dit verstel, te transporteer na ’n ander plek en tyd. In 2019 draai sy die horlosie in Juliette Beukes se sitkamer na twaalfuur en word in 1724 in die sitkamer van die La Rochelle-landgoed neergeslinger. Die verhouding wat ontwikkel, teen wil en dank, tussen Dani en die eienaar en wynboer, Jacques le Roux, Juliette se broer in ’n ander eeu, het talle elemente van ’n goeie romanse: wedersydse aantrekking, botsende belange, misverstande, verswygde feite en natuurlik die vier belangrike woorde wat nie geverbaliseer word nie. As bonus kan die leser iets te wete kom van die lewe en die uitdagings van die agtiende eeu. Terwyl ek glad nie ’n fantasie leser is nie, is laasgenoemde presies wat hierdie tydreisverhale vir my so interessant maak. Voeg daarby die vaardigheid van ’n Madelie Human, en ek is uitverkoop aan die storie. Hoog tyd volg op Tydloos en Ontydig, maar by gebreke aan die eerste twee in die reeks, kan hierdie aflewering wel op sy eie bene staan. Die oplettende leser sal die kloutjie by die oortjie kan kry oor die vorige tydsspronge van die karakters. Altyd natuurlik lekker om die verhale in volgorde te lees.