Chanette Paul's Blog
May 3, 2019
Lira: Proestukkie
Vooraf
Saterdag 2 Desember, Benoni
Lira
Natgesweet, stowwerig en moerig. Dis hoe Lira voel toe die vrou en die twee meisiekinders laggend die oudhedewinkel binnegestap kom, inkopiesakke in die hand.
Natgesweet omdat dit bloedig warm buite is en sy so pas die soveelste boks uit Frank se paneelwa moes indra terwyl hy inventarisse opstel in sy lugverkoelde kantoor.
Stowwerig omdat sy elke boks se spinnerakbedekte oudhede moet uitpak, afspoel, afdroog en sorteer sodat Frank dit kan uitstal.
Moerig omdat sy al weer ingestem het om skivvy vir Frank te speel. Die voorraad moet dringend op die rak kom, het hy gesê. En sy dogter wat veronderstel is om gedurende die vakansie vir ekstra sakgeld hier te werk wou eerder saam met haar vriendin gaan fliek as haar pa help.
Debbie sal dit so waardeer, het Frank geflikflooi. Asof hy nie weet Debbie vee haar af aan enigiets wat Lira vir haar doen nie. En al weet hy sy het gister ’n bestelling vir tien kershouers gekry en brand om eerder daaraan te werk. Maar hy het darem ook aangebied om haar môre op ’n snuffelekspedisie te neem.
Debbie se lag verstil toe sy Lira sien. Die beneukte trek waarmee Frank se dogter haar altyd aankyk, terug in haar oë.
“Waar is my pa?”
“In sy kantoor.” Sy sal seker ’n poging moet aanwend. “Het julle die fliek geniet?”
“Dit was simpel, toe vat tannie Janina ons eerder om te gaan lunch en shop.”
Lira verskuif haar blik na die vrou wat “tannie Janina” moet wees. Sy is opsigtelik die ander meisiekind se ma. Modieus aangetrek, perfek gegrimeer, die hare gehoorsaam aan die byderwetse styl waarin dit geknip is.
In haar sonrok, teen dié tyd vuil en verkreukel, en met natgeswete hare sommer slordig met ’n potlood op haar kop geprakseer, voel Lira soos ’n verlepte magrietjie langs ’n vars angelier.
Die naels van die hand wat na haar toe uitgesteek word, is natuurlik so perfek soos die res. Franse manikuur. “Hallo, ek is Janina. Ek neem aan jy is Debbie se pa se assistent?”
Nee, sy is Debbie se pa se handige metgesel na funksies. Wanneer sy dogter nie wil gaan nie. En sy skivvy. Wanneer sy dogter beter dinge het om te doen. En sy lover. Wanneer hy sy dogter kan ontduik. Vir sewe jaar al.
Janina wag nie vir ’n antwoord nie. “Sal jy vir hom sê ek het nie gemaklik gevoel om die meisies alleen in die sentrum te los nie en toe maar my eie inkopies ook daar gaan doen? Toe die film hulle nie aanstaan nie, het hulle my gebel en het ek die vrymoedigheid geneem om die tweetjies bietjie te bederf. Ek hoop nie hy gee om nie.”
“Nee, genade, hoekom sal ek omgee?” Frank kom glimlaggend aangestap. “Hallo. Frank Dormehl. Jy moet Simone se ma wees.”
“Dis reg. Janina Kaufman. Aangenaam.”
Lira kan amper die ratverwisseling hoor toe Janina opkyk in Frank se oë. Haar lyftaal verander egter so subtiel dat net ’n ander vrou dit sal raaksien.
“Lieflike winkel wat jy het, Frank. Ek is juis so lief vir oudhede. My oorlede man was ook.”
Oorlede man. Noteer, asseblief, ek is beskikbaar, dekodeer Lira die kriptografie van vroulike lis.
“Hy het kosbare stukke van sy Duitse grootouers geërf. Onder meer ’n kruik waarop die syfer 1680 in reliëf aangedui is. Ons was nooit seker of dit dalk die vervaardigingsdatum is nie.”
“Sjoe, dit klink interessant. Ek sal dit baie graag wil sien.” Frank kan nie breër glimlag sonder om sy mondhoeke skade te berokken nie.
“Jy is enige tyd welkom.”
En nie net om die kruik in haar huis te besigtig nie. Janina Kaufman soek ongetwyfeld ’n man.
“Miskien sommer môre al?” stel Frank voor.
Lira kyk hom ongelowig aan, maar hy het net oë vir Janina.
“Dit sal my uitstekend pas. Ná kerk? Jy en Debbie kan dan sommer by ons kom eet ook. Ek is nog outyds in daardie opsig. Maak nog Sondagmiddagete, al is dit net die twee van ons. Dit sal lekker wees om geselskap te hê. Die meisies kan swem en ek het ’n groot versameling DVD’s waarna hulle kan kyk.”
Die saak is beklink sonder dat Frank een keer na Lira kyk. Dis asof sy ineens onsigbaar geword het.
“Pa, kan ek vanaand by Simone oorslaap? Tannie Janina het gesê dis reg as Pa ja sê.”
Frank kyk vraend na Janina.
“Dit sal ’n plesier wees om Debbie daar te hê.”
“As jy seker is?”
“Ek is. Ek kan Debbie sommer nou na julle huis toe neem om ’n oornagtassie te pak. Hoe klink pizzas vir aandete, meisies?”
Dit voel vir Lira asof sy na ’n fliek kyk terwyl hulle selfoonnommers en adresse uitruil. ’n Fliek met ’n titel soos The perfect match.
Sondag 10 Desember
Kempton Park
Lira
Die tien kershouers staan verpak, reg om versend te word, toe sy Frank se motor op die kop agtuur by die inrit hoor opry.
Sy het Frank nog nie weer gesien nadat sy ’n week gelede met net ’n verwytende kyk in sy rigting by die winkel uitgestap het ná Janina en “die meisies” daar uit is nie. Sy oproepe het sy nie beantwoord nie. Ook nie sy SMS’e nie. Nie die een waarin hy sê hy wou net graag die kruik sien nie. Ook nie die een waarin hy sê sy is kinderagtig nie. En die res het sy nie gelees nie. Sy het wel na die stemboodskap geluister waarin hy gesê het hy kom haar vanoggend om agtuur sien om die saak uit te praat. Sy het haar nie verwerdig om te laat weet hy kan later kom aangesien sy ’n dringende bestelling moet afhandel en nie vandag by die kunsmark uitstal nie.
Lira vee haar hande aan haar denimkortbroek af, trek die potlood waarmee sy haar hare op haar kop vasgebondel het uit en hark met haar vingers deur die lang stringe voor sy voordeur toe stap. Dis reeds vrek warm en sy werk al van sesuur af. Die bestelling is vir windklingels, gemaak van herwonne bottels met ou teelepels as klepels en sy wil die bottels se bodems afgesny kry voor die ergste hitte toesak. Dis warm werk.
Frank lyk skoon vreemd. Die broek is deel van ’n kerkpak, die langmouhemp skitterwit en hy het ’n das aan. Hy het intussen ’n draai by die haarkapper gemaak en sy kerkskoene blink.
“Hallo, Lira.” Hy soen haar op haar wang.
Woordeloos stap sy deur na die agterstoep waar sy aan die werk was. Dis te benoud binne. En nie net vanweë die hitte nie.
Sy vou haar arms toe sy na hom draai. “Van wanneer af het jy skielik ’n kerkganger geword?”
Hy druk sy hande in sy broeksakke. “Wat gaan aan, Lira? Ek ken jou nie so nie.”
“Nie hoe nie?”
“Dikbek. Onredelik. Jaloers.”
“Wel, miskien sou jy ook dikbek, onredelik en jaloers geraak het as ek voor jou staan en dates maak met ’n wewenaar wat na my kyk asof ek ’n klein godjie is en so duidelik soos daglig vrou soek. As jy ook op die plek gedemoveer is na ’n onsigbare assistent.”
“Jy oordryf. Ek was bloot dankbaar dat Janina na Debbie omgesien het en het belang gestel in die kruik. En dit is toe ’n ongelooflike vonds. Dis derduisende rande werd, maar Janina wil dit om sentimentele redes nie verkoop nie.”
“En het jy en Janina en ‘die meisies’ toe lekker aan haar outydse Sondagmiddagete gesmul terwyl ek en jy veronderstel was om vir die dag Cullinan toe te gaan?”
“Ons het mos nog nie vas besluit om soontoe te gaan nie? En Debbie was in elk geval nie lus daarvoor nie.”
“O. Soos ek onthou, het jy gesê as ek bereid is om in te staan vir Debbie, jou nuwe aankope uit te pak en skoon te kry, neem jy my Cullinan toe as vergoeding – met of sonder Debbie. Ons kan middagete daar eet en jy weet dis vir my lekker om daar rond te snuffel.”
“Ek is jammer as dit is hoe jy dit verstaan het.” Hy steek sy arms na haar uit en trek haar teen hom vas. “Moenie met my baklei nie, Lira. Ek sal opmaak daarvoor. Jy lyk heeltemal te sexy om soos ’n viswyf te kere te gaan.” Sy mond soek haar nek op, beweeg oor haar wang op soek na haar lippe. Eers toe hy besef sy bly stram staan en hou haar mond ferm toe, al doen hy wat, laat hy haar gaan.
“Lira, ek het gesê ek is jammer.” Sy pupille is effens vergroot.
“Nee, jy het gesê jy is jammer as ek jou verkeerd verstaan het. Ek het nie. Anders sou ek nie ter wille van jou ’n Sondag by die kunsmark opgeoffer het nie. Al waarin jy op die oomblik belang stel, is seks. En dit terwyl jy op pad is kerk toe. En daarna waarskynlik na Janina toe waar Debbie seker weer oorgeslaap het en ’n Sondagmaal op jou wag.”
“Ons het niks afgespreek nie. Ek gaan net kerk toe om Debbie te gaan haal, want ja, sy het weer daar oorgeslaap. En ek wou hê dat ek en jy gisteraand saam deurbring aangesien Debbie nie tuis was nie, maar jy het ewe kinderagtig geweier om op my SMS of oproepe te reageer.”
“Kinderagtig se gat, Frank. Ek wou nie met jou praat nie, want ek moes dinge in my kop vir myself uitwerk. Buitendien, jy weet waar ek bly. As jy my regtig gisteraand of enige tyd gedurende die week wou sien, kon jy hierheen gekom het.”
“Ek verstaan nie waarom jy so melodramaties raak nie, Lira. Net oor ’n afspraak om Cullinan toe te gaan wat ek nie nagekom het nie? As dit nie kinderagtig is nie, weet ek nie wat is nie.”
“En is dit ook kinderagtig om te verwag dat daar ná ’n verhouding van sewe jaar iets meer sal wees as skelm seks wanneer jou dogter nie tuis is nie of die afgelope twee jaar ná Oumie se dood in gesteelde tye hier by my huis? Verwag dat ek as meer beskou sal word as ’n handige versiering aan jou sy wanneer jy een nodig het? Is dit kinderagtig om te verwag dat jy ten minste een of ander tyd gaan begin praat oor trou? Ek is amper vyf en dertig, Frank. Het jy al ooit daaraan gedink dat ek dalk ook ’n kind van my eie wil hê? Binne die eg?”
Hy druk weer sy hande in sy sakke. “Hoe kan ek met jou trou as jy nie met my dogter oor die weg kom nie, Lira? Hoe kan ek nog ’n kind in die wêreld bring saam met ’n vrou wat nie die vaagste benul het hoe om ’n ma te wees nie? Wat meer belang stel in die junk wat sy maak as om saam met my dogter te gaan fliek, of inkopies doen, of haar ’n bietjie te bederf.”
“Soos die liewe moederlike Janina gedoen het. My ‘junk’ is my inkomste. En ek moet sewe dae ’n week, twaalf of meer ure per dag, werk om genoeg ‘junk’ te maak en te verkoop om te kan oorleef. En dan is dit ’n sonde in jou oë dat ek, wanneer ek wel nou en dan ’n dag asemskep, dit eerder saam met jou wil deurbring – met of sonder Debbie – as alleen saam met ’n meisiekind wat besluit het ek is nie goed genoeg vir haar pa nie. Wat vir my in die oë gekyk en gesê het sy is skaam om saam met my en haar pa gesien te word. Want enigeen kan sommer sien haar pa stel net in my belang oor die seks. Dat ek niks meer as ’n onbetaalde prostituut is nie.”
Frank kyk haar stom aan. Hy lyk egter nie verras nie.
Het dit waarskynlik ook al uit sy dogter se mond gehoor.
“Kyk, Frank, ek het in die begin probeer om Debbie se guns te wen. Sy was sewe jaar oud, maar toe al kliphardegat. Jy het haar bederf ná haar ma se dood en sy wou jou nie met my deel nie. Ek het dit verstaan. Dit is verskriklik om ’n mens se ma so vroeg te verloor. En ek verstaan ook dat jy wou vergoed daarvoor. Maar wat ek nie verstaan nie, is dat jy altyd Debbie se kant kies wanneer daar ’n probleem is. Dat jy Debbie nooit aanspreek oor haar onbeskoftheid teenoor my nie.”
Sy keer hom met haar hand in die lug toe hy wil protesteer.
“Laat ek klaar praat. Ek is dalk nie die moederlike tipe nie, maar die feit dat jy my nie respekteer vir wie ek is nie, dat jy my behandel asof ek net ’n relatief oulike troeteldier met teleurstellende streke is – dis nou behalwe wanneer jou koerasie inskop – het beslis nie die saak verbeter nie.
“Hoekom sal Debbie vir my respek hê as jy nie het nie? Jy en Debbie is net so skuldig soos ek daaraan dat ek en Debbie nie klaarkom nie. En nou is sy veertien. Oud genoeg om te kan verstaan as jy jou sou verwerdig om standpunt in te neem. As jy vir haar sê sy kan nie só met my praat nie. Dat ek nié jou onbetaalde prostituut is nie. Vir haar te sê sy moet my ’n kans gee, al sal ek nooit haar ma kan of wil vervang nie. Dat jy vir my lief is en verwag dat sy jou, en ook vir my, geluk gun.”
Lira skep vlugtig asem. “En dis oor al hierdie dinge dat ek die afgelope week wou nadink en daarom het ek nie jou oproepe beantwoord of op jou SMS’e reageer nie. Om regverdig te wees gaan ek jou nou ook ’n week kans gee om oor alles na te dink. Sonder kommunikasie. Jy kan vir my volgende Sondag kom sê wat jy besluit het.”
“Is dit ’n ultimatum, Lira?” Sy kaak is stram.
“Dit is.”
“Met ander woorde ek moet tussen jou en my dogter kies.”
“Nee. Jy moet kies of jy my wil hê of nie. En as jy my wil hê, sal jy die moed moet hê om jou dogter te konfronteer met die nuus dat ons gaan trou en dat jy van haar verwag om my ’n billike kans te gee as jou vrou. Ek is bereid om te vergewe wat sy my alles toegesnou het en ’n middeweg te probeer vind, maar alles kan nie net van my kant af kom nie. Ons sal al drie daaraan moet werk. Ek is bereid daartoe, julle moet besluit of julle is. Maar só kan ek nie aangaan nie.”
“Jy kan my nie net ’n week gee om so ’n groot besluit te neem nie, Lira.”
“Met alle respek, Frank, jy het sewe jaar gehad om te besluit. ’n Week behoort genoeg te wees om finaal bestek op te neem. Gaan nou. Ek sien jou volgende Sondag agtuur.” Sy draai weg, stap na die pakkamer agter in die erf en kies deur ’n waas van trane ses bottels uit die verskeidenheid kiste.
Toe sy terugkom op die stoep, hoor sy Frank se motor wegtrek.
Sondag 17 Desember
Kempton Park
Lira
Haar hare is gewas, sy het vir ’n verandering grimering aan en ’n sonrok pleks van haar gewone denimkortbroeke. Selfs sandale met ’n hakkie pleks van plak-kies.
Agtuur kom en gaan, geen Frank nie.
Vyf oor nege kom ’n SMS deur. Jammer.
Net dit. Per SMS. Ná sewe jaar.
Dis byna tienuur toe sy uit haar katatoniese beswyming kom.
Lira staan stokkerig op en gaan haal haar skootrekenaar. Google eiendomsagente in die omgewing en kies ’n vrou wie se gesig haar aanstaan. Bel. Maak ’n afspraak vir Maandagmiddag.
Daarna dwaal sy deur die huis. Roep herinneringe op. Eindig op die voorstoep. Onthou die dag toe sy hier afgelaai is duidelik, al was sy net vyf. Van daardie dag af was Oumie haar wêreld. Haar skans teen die lewe. Alles wat sy nodig gehad het.
Tot Frank in haar lewe gekom het. Hy was haar enigste troos toe Oumie dood is.
En nou is albei weg. Een dood, die ander verlore.
Tyd dat sy verantwoordelikheid vir haar eie lewe neem.
Nou beskikbaar by:
April 18, 2019
LIRA – lokprent
[image error]
Lira, die eerste deel van die Vywervrou-drieluik, kom in Mei 2019 uit.
Hier is ‘n lusmakertjie!
https://biteable.com/watch/lira-2234050/
May 5, 2018
Suider-Afrikaanse VVV-bulletin: Jojo Richter
[image error]Oor Jojo Richter soos b erig deur Izak de Vries van LAPA:
Jojo Richter, die heldin van Siende blind, Raaiselspieël, Ewebeeld en Paaiboelie vra haarself af:
Wat maak die groep vroue in die Akkedisberge wat wag vir ʼn moederskip vanaf die Pleiade-sterrestelsel? Is hulle stapelgek, of steek daar iets in hulle bewerings dat die regering die feite oor kontak met ruimtewesens verdoesel?
Daardie regter wat deur ʼn boogskutter op rolskaatse vermoor is: Hoekom lyk die moordenaar soos iemand uit die buitenste ruimte?
Is die vroue van die VVV-groep vredeliewende vegetariërs, of koelbloedige moordenaars? Hoekom word Jojo word deur ’n hommeltuig dopgehou?
‘n Klein uittreksel van die magdom opgetekende VVV-waarnemings waarop Jojo afgekom het:
1956: ‘n Reeks foto’s van VVV’s deur Elizabeth Klarer. Klarer beweer sy het ‘n kind gehad by ‘n buiteruimtelikewese genaamd Akon. Omgang en geboorte het op ‘n planeet naby Alpha Century plaasgevind. Foto’s blykbaar vernietig, die Suid-Afrikaanse regering weier om kommentaar te lewer.
[image error]1974: Peter en Frances MacNorman ontvoer naby Beitbrug, oortreders nie menslik nie. Geen optrede van die Suid-Afrikaanse of Rhodesiese regerings nie.
1979: ‘n Krugersdorp-ma en haar seun word genooi deur vreemde wesens om na ‘n nuwe planeet te vlieg. Geen kommentaar van owerhede nie.
1982: Suid-Afrikaanse troepe op die Mosambiekse grens skiet op ‘n inkomende tuig, want hulle dink dit is ‘n MiG. Die tuig stort neer, is totaal onbekend. Insittendes dood, liggame is nie menslik nie. Lyke gevlieg na Ysterplaat in Kaapstad voordat die CIA hulle na die VSA neem. Sommige offisiere verbreek die stilswye, maar word nie deur hul seniors ondersteun nie.
1989: Suid-Afrikaanse Lugmag-vlieëniers skiet ‘n vreemde tuig af. Dit val in Botswana. Insittendes lewendig in hegtenis geneem; blyk nie menslik te wees nie. Botswana-regering reik geen verklaring uit nie.
1995: SANW se spesiale magte gevlieg na die toneel in Lesotho waar ’n tuig neergestort het. Drie insittendes word lewendig in hegtenis geneem; ooggetuies beweer hulle was nie menslik nie. Lesotho-regering maak geen kommentaar bekend nie.
2005: Verskeie koerante en sosialemediabladsye publiseer foto’s, video’s en ooggetuieverslae van groen flitse in die atmosfeer rondom Kaapstad. Die SA regering bly stil.
2018: Chanette Paul publiseer Uit die bloute, ‘n omvattende stuk navorsing deur die navorser Jojo Richter oor ontvoerings, moorde en vreemde, mensagtige wesens in die Akkedisberge naby Hermanus. Tot dusver het die Suid-Afrikaanse regering nie ‘n woord gesê nie.
Uit die bloute is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar.
JOJO is tans om veiligheidsredes nie vir onderhoude beskikbaar nie.
Uit Cynthia Hind se AfriNews (Pamflet 12) rakende die Ruwa-voorval wat Jojo verbyster:
[image error] [image error] [image error]
March 25, 2018
Nuusbrief – Maart 2018
[image error]
Liewe Lesers
Die uitstuur van nuusbriewe het verlede jaar vir my ʼn logistiese nagmerrie geword. Ek werk op drie verskillende rekenaars – afhangende van waar ek is – en die adreslys was net op een.
Een probleem was dat ek die lys nie oorgeplaas kon kry na die ander rekenaars nie en die een waarop die lys is, moet binnekort vervang word. Ek kon ook net aan tien adresse op ‘n slag stuur en daar is op my huidige lys oor die 300 adresse ! Julle kan julle sekerlik indink hoe tydrowend dit was.
Danksy ʼn vriendin, lyk dit egter nou asof ek ʼn program gekry wat dit vir my makliker gaan maak.
Indien dit goed werk, sal dit heerlik wees om my nuusbriewe te hervat. Hierdie een is dus ʼn proeflopie. Ek plaas dit hierdie keer in aangepaste vorm op my blog, maar voortaan sal dit net per e-pos uitgestuur word.
Indien jy my nuusbrief per e-pos wil ontvang, teken gerus daarop in by http://www.chanettepaul.co.za/skryf-in-vir-nuusbrief.html
Intussen net ‘n korterige nuutsflitsie so saam met die toets.
[image error]Die lekkerste nuus, waarvan meeste lesers op Facebook seker al kennis geneem het, is dat Uit die bloute, die vyfde Jojo Richter, in MEI verskyn. Ek dink die kunstenaars wat LAPA gebruik het hulle weer eens wonderlik van hulle taak gekwyt.
Ek kan nie wag om haar in my hande te hou nie!
(Uit die bloute kan teen ‘n afslagprys vooraf bestel word by Graffiti ).
Ek en Jojo stap nou al lank ons paadjie saam. In Siende blind (2013) het ek bloot iemand nodig gehad om Cara ‘n bietjie te help. Ek en Jojo het dadelik lekker gekliek. Daarom het ek gedink sy gaan ook in Raaiselspieël ‘n redelike sterk rol speel, maar uiteindelik was sy ongewoon skugter en het sy vir Stas minimaal gehelp. Dis seker hoekom ek so verras was toe Jojo sommer uit die staanspoor haar stem dik gemaak het in Ewebeeld. Dis eintlik van hier af wat ons haar regtig leer ken.
Ek vermoed Jojo het haar bietjie gewip toe ek ná Ewebeeld heeltemal weg van haar af beweeg het met die skryf van die Offer-tweeluik (Offerlam en Offerande). En toe ek aan Paaiboelie begin skryf, het sy haar bloedig vererg toe sy agterkom dat ek haar weer uit die storie wou weglaat. Sy het al harder aan my deur begin hamer om in te kom. Uiteindelik het ek my lesersvriende op Facebook gevra of ek maar die deur vir haar kan oopmaak en die antwoord was ‘n oorweldigende JA!
Met die skryf van Uit die bloute was daar nie eens ‘n kwessie nie. Sy was van die begin af deel van die storie en ek moes net vir die vale keer dat sy nie heeltemal oorneem nie.
Op die oomblik, met Uit die bloute afgehandel, is ek nog bietjie tussen stories en moet die moeilike keuse maak oor wat volgende kom. Jojo wil-wil my weer annekseer, maar daar is ander stories wat ook hard aanklop.
Ek laat weet later wie die toutrekkery gewen het!
Voorlopig volstaan ek hiermee en hoop julle ontvang die Nuusbrief(ie) in een stuk.
Soos altyd, baie dankie vir julle terugvoer, die hou-vans, plasings en kommentare op Facebook, die sterretjies op Goodreads (https://www.goodreads.com/), Amazon en elders, julle deelname aan my blog en die e-briefies.
Maar veral dankie dat julle my boeke lees.
Geniet die pragtige herfsdae!
Mooiste wense
[image error]
October 31, 2017
Sacrificed in the USA – A dream come true.
[image error]
On 10th October Sacrificed, the first English translation of one of my books, have been launched in the USA. To kick it off there was a tri-continental Twitter chat bringing Belgium, the USA and South Africa together in our global village.
Two weeks later Janet Levine’s review of Sacrificed was published in the New York Journal of Books with the heading:
Sacrificed places Chanette Paul among the classiest thriller writers of our day.”
I’m not sure I’ve yet recovered from such high accolade!
What really made my day was that the only criticism Ms Levine had, is covered by the sequel to Sacrificed, as yet not translated into English.
Read the full review here: http://www.nyjournalofbooks.com/book-review/sacrificed
Sacrificed has been published with two different covers:
[image error]USA Edition available at:
Amazon:
[image error]
South African edition available at (amongst others):
Graffiti: https://www.graffitiboeke.co.za
Loot: http://www.loot.co.za/product/chanette-paul-sacrificed/klhk-4931-g160
Takealot: https://www.takealot.com/sacrificed/PLID44461306
[image error]Sacrificed – The blurb:
Congo, 1961
A peace-loving man is murdered in cold blood and his beloved is left for dead.
53 years later
Rejected by her parents, her sister, her husband, everyone except her extraordinary daughter, Caz Colijn lives a secluded life in her own little patch of Africa. But a single phone call from her estranged sister in Belgium is all it takes to shatter this refuge.
This phone call is just the first step down an ever-widening tunnel into Caz’s painful past. Jetting between Belgium and AfricaCaz is so caught up in discovering the truth about the past, she almost doesn’t notice the man who is falling in love with her. Or the meaning behind the key she receives. Or the two Congolese who are following her every move in search for something they’re willing to kill for.
From the Congo’s sparkling diamond mines to Belgium’s finest art galleries, from Africa’s civil unrest to its deeply spiritual roots, Sacrificed seamlessly crosses borders and decades with a fiercely captivating story.
Chanette Paul has published 41 best-selling romance, thriller and crime novels in her native Afrikaans in South Africa.
This is her first book translated into English.
“Caz Colijn’s search for the truth about her troubled past illuminates South Africa’s struggle for wholeness in the wake of its bloody history. Here is novel that is brutal yet tender and even lyrical. Read it and weep.”
—Yona Zeldis McDonough, The House on Primrose Pond
May 20, 2017
Caz in Lillo
Met die dat ek Maandag weer op pad is België toe vir die bekendstelling van die Nederlandse Offerande – onder meer in Fort Lillo – het ek weer deur my foto’s geblaai. So het Lillo gelyk in November 2015. Toe was dit natuurlik heelwat warmer as die temperature wat Caz in Januarie daar beleef het.
Fort Lillo uit die lug:
[image error]
Die paadjie waarmee Caz die dorp binnegestap het:
Die Plein
Die kruithuis van buite
Die kruithuis van binne
Lillo se getyhawe. Met laagwater lê die bote op die slik.
In en om Lillo
Hoop julle het lekker saam met my en Caz gestap!
October 3, 2016
Offerande bekendstellings
Ek sien geweldig baie uit daarna om Offerande by die volgende geleenthede bekend te stel:
(Klik op die foto’s om te vergroot)
Aardklop – Potchefstroom:
DONDERDAG, 6 OKTOBER: Aardklop ATKV Boek Oase
14:00 / 60 min. / Gratis
Misdaadromans: die grens tussen feit en fiksie
Henk Breytenbach, Chanette Paul, Madelein Rust en Ilse Salzwedel (gespreksleier)
Spanning as genre groei teen ’n geweldige tempo. Drie gewilde skrywers in hierdie genre is Chanette Paul (Offerande), Henk Breytenbach (Moordlys) en Madelein Rust (Bloedlyn). Ilse Salzwedel gesels met hulle oor die uitdagings van die genre en oor hul nuutste boeke.
Vir volle program: http://www.potchfees.co.za/
Pretoria:
11 Oktober / 18:30 vir 19:00
Ek is Graffiti, Montana, se gas vir die praatjie by Delano’s Zambezi Junction
Gesprekleier: Marida Fitzpatrick
R70 (wyn en pizza)
RSVP: shop@graffitibooks.co.za of (012) 548 2356
12 Oktober
18:30 vir 19:00 Woord & Wingerd, Graffiti, MenlynMaine
Gesprekleier: Marida Fitzpatrick
R50 (met verversings)
RSVP: menlyn@graffitibooks.co.za of (012) 348 1835
Net Terloops: Radio onderhoude vind plaas op 10 Oktober in die ateljee van Maroela Media en 11 Oktober by Pretoria FM.
En die oggend van die 12e is ek Lapa se gas by die KANSA-tee in die St George Hotel
Hermanus:
26 Oktober
17:30 vir 18:00
Hermanus Biblioteek as gas van Bargain Books (Hermanus) Gratis.
Gespreksleier: Petrovna Metelerkamp.
RSVP: hermanus@bargainbooks.co.za
Durbanville:
27 Oktober
18:30 vir 19:00
Chanette Paul (Offerande) en Riette Rust (Ek! Ek! Ek!) in gesprek met Madri Victor
Bargain Books – Willow Bridge (Gratis)
RSVP: willowbridge@bargainbooks.co.za of (021) 914 9045
Stellenbosch:
29 Oktober
11:00 by Protea Boekhandel, Andringastraat
Gespreksleier Jonathan Amid
Gratis
Strand:
24 November
Strand-biblioteek (tyd en ander besonderhede moet nog bevestig word)
Gespreksleier: Sam Cooper
August 24, 2016
Gys Niemand kom weer – vir die derde keer

2016

2007

2011
Die dag toe Gys Niemand in 2007 die storie waaraan ek skryf binnegestap het, was hy in my gedagtes bloot ʼn irriterende noodwendigheid. Daar het moorde op Kruisbaai plaasgevind en êrens, het ek besef, moes daar seker maar ʼn speurder betrokke wees al wil ek eintlik net Lily Reynecke se storie skryf.
Min het ek toe geweet dat die man met sy bles, boep en snor vir meer as drie jaar en vyf boeke lank, deel van my lewe sou word. Nog minder het ek gedink hy sal so gewild onder lesers word dat die reeks later sy naam sou dra. Ek het ook toe nog glad nie besef dat sy bewondering vir sy niggie, Gertjie Niemand, daartoe sou lei dat lesers uiteindelik meer belang sou stel in Gys en Gertjie se verhouding, as in die moorde wat ek met soveel moeite laat pleeg en probeer ontrafel het nie. Dat ek kort-kort ʼn e-pos sou kry wat vra: Wanneer kom Gys en Gertjie nou uiteindelik bymekaar?
En nou, nege jaar nadat Gys my lewe binnegedring en my stories oorgeneem het, moes ek en Gys weer ʼn paadjie saamstap.
Die afgelope maande het ek Gys herontdek terwyl ek al vyf die boeke moes redigeer vir die splinternuwe uitgawe van die hele reeks. Ek dink ek verstaan nou beter waarom Gys en Gertjie so gewild is, waarom lesers hulle met dié twee kon identifiseer. Dit was ʼn baie aangename herontmoeting.
Hier gaan ons weer, Gys! Vir die derde keer. En dié keer dra die omslae trots jou naam.
Springgety kan reeds vooraf bestel word:
Die vyf Gys Niemand-boeke verskyn van September maand af in hulle nuwe baadjies.
Springgety – September 2016
Fortuin – Oktober 2016
Boheem – November 2016
Meetsnoer – Desember 2016
Dryfhout – Januarie 2017
Die proloë van al vyf boeke kan gelees word by
June 21, 2016
As jy nie my nuusbrief ontvang het nie…
Die slegte nuus:
My nuusbrief wat eers veronderstel was om maandeliks gestuur te word, en toe tweemaandeliks, kan ek ongelukkig nou net sporadies baasraak. My werklading is net van so aard dat ek soms vir maande nie daarby kan uitkom nie. Dis wat gebeur het sedert November verlede jaar tot nou.
Die goeie nuus:
Noudat Offerande, wat my so besig gehou het, in kanne en kruike is, sal ek steeds my bes probeer om so dikwels moontlik wel ʼn nuusbrief uit te stuur.
Die probleem:
Ek moes 24 name van my adreslys skrap omdat ek ingelig is dat die nuusbrief onaflewerbaar is.
Die oplossing:
As jy nie my nuusbrief van 21 Junie 2016 ontvang het nie en jy wil steeds op die nuusbrief ingeteken bly, stuur asseblief jou e-posadres vir my na chanettepaul@gmail.com sodat ek jou weer op die adreslys kan plaas.
Jy is uiteraard ook welkom om jou adres vir my te stuur as jy die nuusbrief wil ontvang, maar nie vantevore daarop ingeteken was nie.
Baie dankie aan die wat ingeteken is, my nuusbrief lees en vir die lekker terugvoer daarop. Dis vir my heerlik om so met my lesers in kontak te bly.
November 20, 2015
Offerlam se Caz Colijn in Doel
Stap saam met Caz deur Doel, die spookdorp aan die Schelde wat veronderstel was om plek te maak vir ‘n uitbreiding van die hawe.
‘n Paar hardnekkige inwoners het hierdie uitbreidingsplanne tot dusver gefnuik, maar die meeste Doelenaars het bes gegee en onder dwang hulle huise verkoop en teensinnig getrek. Die storie van Doel het my geweldig ontroer en onmiddellik laat dink aan onder meer Skipskop en Distrik 6.
Lees gerus meer oor Doel by http://www.bbc.com/news/magazine-30348086 Die video gee ‘n goeie beeld van wat daar aan die gebeur is.
Vir ‘n Nederlandse teks oor Doel: http://kunst-en-cultuur.infonu.nl/kunst/157057-spookdorp-doel-in-belgie.html
Hier is Caz se indrukke:
Uit Offerlam:
“Dit lyk eienaardig, die windmeule uit vervloë dae met die twee kernkragsuile daaragter. Twee eras oor mekaar getransponeer.” (p. 183)
Uit Offerlam:
“Haar eerste indruk van die dorp is ’n verwaarloosde speelparkie met houtkontrepsies waarop verweerde strokiesprente van “Suske en Wiske in het verdronken land” pryk. Die lang gras en ’n paar van die stellasietjies wat skuins hang of omgeval het, bevestig wat Tieneke gesê het van ’n spookdorp.” (p. 185)
“’n Kennisgewingbord ’n entjie verder stem klaarblyklik nie saam nie: Doel = bewoond dorp. Respecteer de bewoners! Het is verboden de huizen te betreden of te beschadigen. Overlast en vandalisme zullen worden beboet.” (p. 185)
“Van daar af gaan Caz behoorlik in ’n dwaal. ’n Distopiese atmosfeer hang tasbaar oor die onbewoonde huise in verskillende stadia van verval. Duidelike tekens van vernielsug is ook sigbaar. Ruite is gebreek, deure hang skeef aan verroeste skarniere, stukkende meubels lê rond.
Feitlik al die mure is met veelkleurige graffitikuns besaai.Baie daarvan is opsigtelik deur ware kunstenaars gedoen – reusagtige uitbeeldings in fyn detail met ’n seker hand geskilder. Spuitverfpogings en die gewone graffiti van vernielersvorm ’n skerp kontras daarmee. Die geheel skep ‘n bisarre effek.” (p. 185)
Uit Offerlam:
“Caz gaan staan voor een groot muur en lees die woordewat netjies daarop geskilder is.
Later, als de vele mooie herinneringen
De plaats van mijn verdriet hebben ingenomen,
Zal ik misschien kunnen verwoorden
Wat ik nu enkel met tranen kan vertellen
Die hartseer vermeng met stil aggressie wat daaruit spreek, ontroer haar.” (p. 185)
“Van huis tot bont vervalle huis stap sy, die tassie al krassende agterna. Wat op aarde het met hierdie dorp gebeur?” (p.185).
Uit Offerlam:
“Terwyl sy wag vir die bus na Sint-Niklaas, draai daar aanhoudend ’n deuntjie in haar kop. Eers toe die bus stilhou, kom ’n paar van die woorde na haar terug: Pak op, pak op, sit jou goedjies op jou kop, môre gaan ons weg, ver van hier weg. Skipskop, Skipskop, wanneer hou die dinge op . . .
Die res ontgaan haar, behalwe die eindreël: Sê maar so long, Skipskop, Skipskop, sê goodbye.
Soos die inwoners van Skipskop moes plek maak vir ‘n missieltoetsterrein, moes oor die duisend mense in Doel ook oppak en koebaai sê vir alles wat hulle s’n was, maar nie meer is nie. Die Doelenaars is vergoed ja, maar hulle is steeds teen wil en sin hier weg op bevel van mense sogenaamd in beheer.
Boonop is dit doelloos weggeneem. Vir ’n dok wat nie gebruik word nie, ’n kernkragsentrale wat gesluit gaan word. Is daar ’n meer ironiese naam vir ’n dorp?” (p. 190)
Ek hoop jy het lekker saam met Caz rondgestap!


