Isa Konrad's Blog

May 6, 2014

Boerdery op ´n hoë noot

As dit kom by boerdery, is die Palais Garnier operahuis in Parys nie juis die eerste plek wat in ´n mens se gedagtes opkom nie. Tog is dit so dat die operahuis se soewenierswinkel benewens die gewone sleutelhouers, sambrele en T-hemde, ook heuning verkoop, waarvan die etiket op die peperduur potjies lees: “Honey harvested from the roof of the Opera of Paris”.

Parys het ´n lang geskiedenis as ´n stedelike paradys vir bye. Honderd en vyftig jaar gelede was daar meer as duisend byekorwe in die stad. Die Tweede Wêreldoorlog het so te sê ´n einde aan die tradisie gemaak, maar danksy 'n sekere meneer Jean Paucton en onvoorsiene omstandighede floreer byeboerdery weer.

Die 76-jarige meneer Paucton is 'n grafiese kunstenaar wat as ´n verhoogassistent in die Palais Garnier gewerk het. Vyf en twintig jaar gelede laat bou hy vir hom 'n huis op die platteland, waar hy ná sy aftrede met bye wil boer. Hy verwerf ´n diploma in byeteelt en wag totdat sy nuwe huis klaar se kant toe staan voordat hy sy eerste byekorf bestel. En daar tref een ramp ná die ander die bouery. Die byekorf kom by hom aan terwyl sy huis op die platteland nog onbewoonbaar is. Sy woonstel in die stad het nie ´n balkon waar hy die bye kan aanhou nie, maar die verseëlde korf moet binne 48 uur oopgemaak word, anders sal sy bye beswye. Hy raadpleeg ´n kollega, wat hom aanraai om die byekorf vir eers op die operahuis se dak te installeer. Binne twee weke maak die bye so fluks heuning dat meneer Paucton besluit om sy boerdery net daar te bedryf.

Goeie raad inderdaad en geen wonder nie. Die kollega aan wie meneer Paucton hom destyds gewend het, is naamlik ´n brandweerman wat in daardie stadium met forelle in ´n meer onder die operahuis geboer het.

Met sewentien verdiepings en plek vir byna tweeduisend toeskouers, is die Palais Garnier op stuk van sake ´n merkwaardige bouwerk. Behalwe vir die bye en die visse, is daar op dieselfde vlak as die verhoog ook nog perdestalle, vir opera perde. Dit is nog steeds in gebruik. Onder die verhoog boor ´n doolhof van gange en kelders nog sewe verdiepings onder in die aarde in. Die 12,000m² meer het tydens die gebou se konstruksie (1861 – 1875) ontstaan, toe die argitek, Charles Garnier, hom misgis het met die grondwatervlak. Water het in die kelders begin opgaar. Toe dit duidelik raak dat die vloed nie gestuit kan word nie, is die onderste verdiepings met tonnels by ander vloeiende waterbronne soos die Seine rivier aangesluit. Sedertdien dien die meer as ´n reservoir vir die operahuis se private brandweer.

Weens die kombinasie van houtdekor en fakkels het operateaters ´n vuil manier om in vlamme uit te bars tydens opvoerings. La Fenice operahuis in Venesië, byvoorbeeld, het al drie keer tot op die grond afgebrand. Die Palais Garnier is een van die min operahuise wat nog nooit gebrand het nie. Deesdae gebruik ook die stad se brandweer die meer, waar brandweermanne oefen om in die donker te swem. Aangesien dit wemel van forelle uit die Seine, is dit miskien nie so vergesog dat iemand met ondernemingsgees gouer of later op die idee sou kom om ´n visboerdery daar aan die gang te kry nie.

Nog ´n goeie idee wat die waterige dieptes uitgebroei het, is Gaston Leroux se Phantom of the Opera. Dit is waar die mismaakte musiekgenie in die boek skuilhou. Die eintlike inspirasie vir die verhaal was egter ´n ware insident te make met ´n massiewe brons- en kristalkandelaar, ontwerp deur dieselfde Charles Garnier wat hom so misgis het met die watervlak onder die operahuis. Voorberaming was voorwaar nie die argitek se sterkpunt nie. Hierdie keer het hy hom vergis dat ´n plafon ´n sewe ton-kandelaar aan ´n katrol kan dra. In 1896 het die sware meesterstuk een aand tydens ´n opvoering losgeskeur uit die plafon. Wonder bo wonder het dit net een toeskouer plat geval. Dit het Gaston Leroux so beïndruk dat dieselfde toneel in sy beroemde storie afspeel.

Om terug te kom na boerdery. Die brandweerman het intussen afgetree en sy visboerdery laat vaar. Anders as Jean Paucton met sy bye, is hy nooit toegelaat om forelle en kaviaar in die operahuis se soewenierswinkel te verkoop nie. Vermoedelik was die teaterbestuur bang die plek sou in ´n vismark ontaard.

Meneer Paucton se dakplaas gaan nog een stryk vorentoe. Sy byekorwe lewer ´n jaarlikse opbrengs van 450kg heuning. Deur die jare het sy boerdery begin aandag trek en die ou tradisie weer laat opbloei. Parys het nou in die omgewing van seshonderd byekorwe op woonstelbalkonne, in openbare parke en op die dakke van ander beroemde geboue. Selfs op die dak van Notre Dame katedraal word deesdae met bye geboer.

Een van die redes hoekom byeboerdery so goed vaar in Parys, is dat die bye blykbaar immuun is teen die siektes wat van tyd tot tyd in die platteland uitbreek. Bye produseer ook meer heuning in die stad as op die platteland. Kenners skryf dit toe aan die afskaffing van plaagdoders, asook die groot verskeidenheid blomplante in die stad. Plattelandse heuning bevat ongeveer vyftien soorte stuifmeel. Die heuning wat in Parys gemaak word, bevat meer as twee honderd en vyftig soorte, ´n feit waarop die stad se byeboere trots is.

Vir die gemiddelde verbruiker is dit egter ietwat van ´n mondvol. Gidse beskryf die heuning se smaak taktvol as ´n aangeleerde smaak. In der waarheid is dit ´n onmóóntlike smaak, behalwe miskien as die verbruiker tussen ses- en sestien jaar oud is. Want as die heuning wat die operahuis se soewernierswinkel verkoop tipies is vir Parys, sou dit akkuraat wees om te sê Paryse heuning proe presies soos blou kougom.

Nie dat dit saakmaak nie. Die punt is, een van die beroemdste operateaters ter wêreld is die soort plek waar ´n mens kan instap en dink: “O, boereplaas!”

Bronne:

“Who´s humming at the Opera?”, Graig S. Smith, New York Times, 26 Junie 2003

“Paris fast beocming queen bee of the urban apiary world”, Hugh Schofield, Notes on the road, 14 Augustus 2010

“Where the Phantom was born: The Palais Garnier”, Lucinda Everett, The Telegraph, 12 Maart 2014
 •  0 comments  •  flag
Share on Twitter
Published on May 06, 2014 02:09

January 26, 2014

Jaar van die koei

Wanneer mense in die Duitssprekende gewestes van Europa praat van die jaar van die Koei, bedoel hulle nie die Chinese kalender nie. Hulle praat van 2011, die jaar toe ’n witbruin suiwelkoei die wêreld daar op horings geneem het. Yvonne is haar naam.

Yvonne se storie begin op ’n plaas in die Oostenrykse Alpe. Dit is waar sy in 2005 haar eerste lewenslig aanskou en waar sy tot op sesjarige ouderdom doen wat alle koeie doen: haar deel. Sy vreet gras, baar ’n kalf, gee melk. In Maart 2011 word sy aan ‘n vleisplaas in Beiere, die “Vrystaat” van Duitsland, verkoop. Enigeen kan hom indink hoekom ’n koei wat nie meer melk gee nie op ’n smaaklike ouderdom aan ’n vleisplaas in Beiere verkoop sou word, en dalk kon Yvonne haar dit ook op ’n manier indink. Want skaars twee maande nadat sy daar aankom, loop sy op ’n dag die elektriese drade om haar lappie weiveld storm en vaar sy die omliggende dennewoud op haar eie in, nie ’n bang haar op haar witbruin lyf nie.

Haar nuwe eienaar maak sy seuns bymekaar en gaan soek na Yvonne. Hulle kry haar in die woud; kry haar net om die dood nie gevang nie. Die Beier gaan vra om vrywilligers by die buurplase en op Mühldorf, die naaste dorp. Soos meer en meer mense te hore kom van die onbekookte koei, ontaard dit binnekort in ’n grootskaalse soektog. Tot die plaaslike koerant berig daarvan. Alles verniet. Almal wil hand bysit, maar alle hande bly leeg.

Die Beier is raadop. Hy nader die polisie vir hulp. Omdat dit die platteland is, is dit niks ongewoons nie. Gewillig en bereid daag die polisie op met honde, spoorsnyers en reserviste. Drie dae agter mekaar fynkam hulle die woud. Sonop tot skemerte. Al wat hulle Yvonne hoegenaamd te siene kry, is toe hulle haar die tweede aand op pad terug dorp toe amper vrek ry op die hoofpad wat deur ’n stuk woud loop.

Nou bedink die Beier ’n blink plan. Hy besluit om jagters in te roep. Enige jagter wat sy sout werd is, sal ’n logge plaasdier lag–lag kafdraf. Binnekort gaan sy probleme — dis nou die koei — op ´n end kom. Soos dit van die begin af haar voorland was.

Advertensies vir ’n koeijag op ’n plaas in Beiere verskyn in al wat ’n Duitse koerant is en Yvonne raak oornag beroemd. Tot in Switserland en Oostenryk, haar geboorteland, word daar van haar berig. Die jagters laat nie op hulle wag nie. Kom van heinde en verre om die koei te wys wie kan wat. Maar al wat in die slag bly onder die skote wat eerlank in die woude klap, is reputasies. Yvonne word nie eens gekwes nie.

Om die jagters aan te moedig, loof die keelvolle Beier ’n beloning van tienduisend Euro (ongeveer honderd en dertig duisend Rand) in die koerante uit aan enigeen wat Yvonne kan terugbring. Lewend óf dood. Snaaks genoeg is dit nie in die eerste plek die jagters nie, maar dié nuwe verwikkeling wat die diereregtegroepe op hul agterpote kry. Die algemene publiek is ewe ontstoke. Altyd te vinde vir ’n goeie betoging en bier in plastiekbekers, marsjeer hulle deur dorpe en stede regoor die land. Selfs die Patriotiese Motorfietsbrigade hou ’n saamtrek in München. Voormalige vleiseters verklaar en masse dat hulle ter wille van Yvonne voortaan net van groengoed sal lewe. Switserland stuur ’n beswaarskrif met soveel duisende handtekeninge aan die Duitse regering dat mens sou sweer dis net vegetariërs wat in daardie land woon. Einste land waar enige respektabele restaurant perd op die spyskaart het.

In dié stadium kom ’n kampvegter vir diereregte, Michael Aufhauser, op die toneel. Herr Aufhauser ruk op na Mühldorf, koop Yvonne in haar afwesigheid by die Beier en kry ’n hofbevel wat belet dat die koei geskiet mag word. Daarmee word hy so te sê ’n nasionale held. Hy hou toesprake, verskyn as ’n eregas op televisie–geselsprogramme. Koerante en tydskrifte kan nie genoeg kry van hom nie. Bakkend in die glorie van sy goeie daad is dit nou sy probleem om Yvonne te vang.

Herr Aufhauser pak sy taak met hart en siel aan, geen mens kan hom van ’n gebrek aan vindingrykheid beskuldig nie. Helikopters, infrarooi kameras en speurhonde word ingespan, kosvalle gestel. Ander koeie word as geselskapsdames vir Yvonne in die woud losgelaat, in die hoop dat sy hulle sal volg wanneer hulle terugkom. Toe dit ook nie werk nie, stel Herr Aufhauser sy visier op Yvonne se hart in. Hy stuur vir haar ’n os. Ene Ernst. Blykbaar word Ernst gekies vir sy diep, aangename baritoon bulk en sy manlike muskusgeur. Ongelukkig is ’n os nou maar eenmaal nie ’n bul nie en Ernst kom dieselfde dag nog alleen uit die woud. Die Süddeutsche Zeitung roep Yvonne tot ’n vryheidsvegter uit terwyl die feministe in Switserland haar as ’n suster besing.

In die tussentyd voer die Oostenrykse Bild ’n onderhoud met Yvonne se oorspronklike eienaar. Die boer vertel vir die koerant dat die enigste kalf wat Yvonne twee jaar vantevore gebaar het, “Friesie”, dieselfde jeukvoet streep deur het as sy ma. Blykbaar het Friesie as jong kalf ook spoorloos verdwyn. Ná weke se soek het die boer aangeneem die kalf is bokveld toe, totdat Friesie maande later op ’n dag net so skielik as wat hy weggeraak het, weer terug was op sy weiveld.

Hierdie onthulling lok ’n hele klomp ander, en anderster, kewers uit die hout. So byvoorbeeld ’n kliek supernaturaliste wat oortuig is daarvan dat Yvonne en Friesie nie van ons planeet is nie, maar hier kom navorsing doen het in die slim gewaad van Alpynse fries beeste.

Die gebeure raak nog vermaakliker toe Herr Aufhauser toevlug neem tot ’n spiritistiese medium in Bern, Switserland. Ná ’n lang telepatiese gesprek met die dier, deel die medium Herr Aufhauser en die media mee dat dit goed gaan met Yvonne, maar dat sy nog nie gereed is om terug te kom nie. Sy is besig om haarself te vind. Vir dié verpletterende insig verlang die medium ’n fooi van 600 Euro (ongeveer R8000).

Kort daarna keer Yvonne uit haar eie terug uit die dennewoud. Net soos Friesie, haar lankverlore kalf, verskyn sy uit die bloute reg langs die weiveld waarvandaan sy ontsnap het. Dis asof sy nooit weg was nie. So eindig die jaar van die Koei in Augustus 2011. Op ’n hoë– en lae noot tegelyk.

As nadraai spring die Duitse Bild, gevolg deur die Süddeutsche Zeitung en die Switserse Tagesanzeiger, behoorlik om die publiek daarop te wys dat die bisarre reeks gebeure rondom Yvonne se verdwyning tussen Mei en Augustus plaasgevind het — maande wat in Europa algemeen bekendstaan as die “lawwe seisoen”. Gedurende hierdie tydperk beland allerhande ligsinnige stories in die nuus omdat mense op vakansie gaan en daar nie genoeg skandes is om die koerante mee vol te hou nie. Dit is dan wanneer ontvoerings deur ruimtewesens, of mense wat beweer hulle het in ’n vorige lewe in Napoleon se leër geveg, skielik ’n gehoor kry. Nie dat dit nié onderhoudend is nie. Een van die stories wat tydens 2013 se lawwe seisoen opslae gemaak het, was van ’n model wat naak met ’n slang moes poseer. Toe die slang haar pik, pik dit silikon raak en beswyk net daar, arme ding.

In elk geval, van agterna beskou, is dit noemenswaardig hoe die media, die verleë partye en die publiek almal ewe gretig was om die opskudding wat Yvonne drie maande lank oor landsgrense heen veroorsaak het, aan die lawwe seisoen toe te skryf. Dit was amper asof mense hulle daarvan wou distansieer. Of dalk heeltemal daarvan wou vergeet. Miskien omdat Yvonne nie heeltemal laf genoeg was om mee gemaklik te wees nie. Sy is nie ’n tweekoppige natuurfrats nie en haar weglopery was nie ’n verdigsel nie. Dit het regtig gebeur. ’n Volwaardige feit soos ’n koei.

Yvonne is ’n koei wat haar deel gedoen het. Haar pad was vooruitbestem en sy het dit dapper gestap. Maar op ’n dag het instink of iets vir haar gesê dié pad is nie vir haar nie. Toe het sy omgedraai en ’n ander rigting ingeslaan. Haar eie. Met mense gaan dit ook maar so. Dit is nie laf nie, dit is die lewe. En al wat eintlik skokkend is daaraan, is dat tot ’n koei dit weet.

–Isa Konrad
 •  0 comments  •  flag
Share on Twitter
Published on January 26, 2014 09:17