Is Kruie Koning?
Die afgelope paar jaar het ek die krag van kruie ontdek. In my kruietuin het ek 25 jaar gelede ‘n welige bos Wilde als gehad. Ons het dit ook by ons kwekery op die kruierak verkoop. Toe het ek nooit die medisinale waarde van die plante waardeer nie, ons was mos jonk en gesond. Die Wilde als, of Artemisia Afra (Wormwood) het ‘n mooie blommetjie gehad en het maklik gegroei.

Dis eers hier in Kleinmond wat Frazer Georgio Barry my bekend gestel het aan die waarde daarvan. Trust me on this, as niks ‘n benoude bors ooptrek nie, stoom met Wilde als. Jy kry amper dadelik asem. En dan drink jy sommer die aftreksel. Jy slaap heerlik en kry asem. Salig na 3 weke se benoudheid.
Ek het ‘n aaklige kiem opgetel wat my drie weke lank planke toe gevat het. Totdat ek my vererg het vir pille en pompe en strope wat niks help nie. Toe wend ek my na die kruie wat ek dalk in die eerste plek moes gedoen het.
Frazer het my ook bekend gestel aan boegoe. Ek gooi die takkies boegoe in ‘n bottel brandewyn om te trek, en drink soms ‘n bietjie daarvan, net so, op ys. Lekkerder as Jãgermeister.

Die kankerbossie plantjie wat Frazer my gegee het, het ongelukkig afgesterf, maar ek kry toe daarvan in gedroogde vorm by Die Bloubakkie, net 200m straat-op van my.
‘n Kenner van kruie en vervaardiger van medisyne, herinner my toe weer daaraan. Die koningin van kruie, Antoinette Pienaar, sê kankerbossie is die Koning van Kruie. Asof n koning nou belangriker as ‘n koningin is! Antoinette beklemtoon die belangrikheid daarvan om kankerbossie met respek en kennis te gebruik, gegewe sy kragtige effekte.
Ook Margaret Roberts noem dit een van die belangrikste medisinale plante in Suid-Afrika.
Ek is versigtig optimisties, na twee dosisse, vóél ek die werkinge in my lyf. My spysvertering het kalmeer, taai slym los amper dadelik op, en my branderige oë het ophou traan. En my brandblaas het ophou brand…
Dalk het al my kwinte en mankemente geskrik vir hierdie glasie goed wat jou liefde vir ‘n bitter smakie toets…
Trek 1t fyn kankerbossie per koppie water. (Ek het verdun)
Kankerbossie (Sutherlandia frutescens): ‘n Tradisionele plant met moderne potensiaal.
Kankerbossie is ‘n inheemse Suid-Afrikaanse plant wat tradisioneel gebruik is om verskeie siektetoestande te behandel, insluitend angs, depressie en simptome verwant aan kanker.
Moderne navorsing begin die wetenskaplike basis van hierdie gebruike ondersoek.

Navorsing en bevindings:
‘n Studie deur Ngcobo et al.(2012) het die immuno-modulerende effekte van Sutherlandia frutescens opmenslike perifere bloedmononukleêre selle ondersoek.
Die resultate het getoon dat hoë dosisse van die plant se etanol- ekstrakte die uitskeiding van pro-inflammatoriese sitokiene soos TNF-a en IL-1ẞ aansienlik verminder het, wat dui op potensiële anti-inflammatoriese eienskappe.
Verdere navorsing deur Kisten (2010) het bevind dat Sutherlandia frutescens nie toksies is teenoor menslike selle by getoetste konsentrasies nie en dat dit die inflammatoriese reaksie kan onderdruk deur die afregulering van spesifieke sitokiene soos IL-6 en IL-10.
Belangrike oorwegings: Alhoewel hierdie bevindings belowend is, is dit belangrik om te beklemtoon dat die meeste studies tot dusver in vitro (in die laboratorium) uitgevoer is. Verdere kliniese navorsing is nodig om die veiligheid en doeltreffendheid van kankerbossie in menslike gesondheidstoepassings volledig te verstaan.
Mense wat chemoterapie kry of ander medikasie gebruik, moet eers mediese advies kry voordat hulle dit gebruik, die goed is kragtig.
Ons onderhou en laat diens ons karre en ons toestelle voordat dit breek. Waarom nie ons lywe ook nie?


