Die lewe na die wegraping
Mense lag en spot oor Danie Botha se oortuiging dat daar more en oormore ‘n verskriklike gebeurtenis op ons wag, en dat almal wat werklik gelowig is, in ‘n oogwink weggeneem sal word. Die ongelowiges gaan oorbly in ‘n onbeskryflike hel van pyn en lyding, met nêrens om heen te gaan nie, en geen asem om te haal nie.
Maar wat as daar werklik iets gebeur? Met die wêreld soos dit is en met wêreldleiers wat die een maller is ans die ander, met buttons wat hulle dreig om te druk, groter as hul ego’s, sal niks my verbaas nie.
In die lig van Danie Botha se voorspelling van ’n wegraping wat glo môre of oormôre sou plaasvind, is dit belangrik om stil te staan by die groter vraag: hoe verstaan ons tyd, bestemming en keuse in die lig van ons geestelike reis?
In ‘n poging om ‘n alternatief te bied as blote Bybelse geloof, het ek uit ‘n ander hoek probeer kyk.
Neale Donald Walsch herinner ons daaraan dat God nie ’n streng plan vir ons afgedwing het met pns geboorte nie, maar dat die lewe ’n voortdurende proses van medeskepping is. Elke besluit wat jy maak, open nuwe moontlikhede, en dit beteken dat daar altyd meer as een uitkoms is, afhangend van hoe ons kies om te reageer. Om die einde van die wêreld op ’n spesifieke dag vas te pen, is dus in teenstelling met die idee dat elke mens voortdurend deur sy keuses ’n nuwe realiteit vorm.
Michael Newton het deur sy werk aangetoon dat siele ’n lewensplan kies voor geboorte, maar dat die detail daarvan dinamies is. Daar bestaan nie ’n enkele, onveranderlike afsnypunt vir almal tegelyk nie, maar eerder ’n verweefde tapisserie van individuele leerervarings wat elk op hulle eie tyd voltooi word. In sy werk oor Life Between Lives, wys hy daarop dat siele vooraf sekere temas of leerervarings vir ’n leeftyd kies. Maar selfs dan is dit nie ’n absolute stelsel na jou lewe se eindpunt nie: die roetes daarheen kan verskil, soos verskillende paaie wat na dieselfde bergtop lei. Jy kan dus jou lewensdoel ervaar deur meer as een moontlike pad.
Brian Weiss se werk oor vorige lewens beklemtoon eweneens die sikliese aard van bestaan. Daar is nie net een finale oomblik waar almal terselfdertyd weggeraap word nie; eerder is daar ’n voortdurende geleentheid vir transformasie, groei en oorgang, óók oor lewensgrense heen. In sy navorsing oor vorige lewens, herinner hy ons dat ons reis veel langer is as net hierdie een leeftyd. Elke uitkoms wat ons nou skep, vloei oor na toekomstige ervarings en bring nuwe geleenthede vir genesing, liefde en leer, oor verskeie lewens heen.
Wanneer mense dus vandag hoor van ’n voorspelde wegraping, kan dit spot, hoop of vrees ontlok. Maar binne die raamwerk van hierdie drie teorieë lê die troos daarin dat daar nie net een pad of een onvermydelike uitkoms wag nie. Elke dag is ’n uitnodiging tot keuse, liefde en dieper verstaan. Of die wêreld môre nog presies dieselfde lyk, of nie, jou reis as siel gaan aan, in hierdie dimensie of ’n ander.
As iemand wat ’n “psychic” raadpleeg vir insig, kry jy dalk ’n kykie op een moontlike pad, een lyn van energie wat op daardie oomblik sterk is. Een moontlikheid. Maar die groter waarheid, soos hierdie skrywers elkeen op hulle eie manier leer, is dat daar nie net een pad vir jou bestem is nie. Jy bly die medeskepper van jou storie, van jou lewe. Elke dag bring ’n nuwe keuse, en met elke keuse verander die moontlike uitkoms.
Ek lag dus nie vir Danie Botha wat reken God het met hom gepraat nie. Net soos die psychic op daardie oomblik iets kon aanvoel, kon Danie se ervarings op een moontlike uitkoms, die wegraping more, dui. Maar soveel mense, soveel keuses. Dat daar more iets verskrikliks iewers gaan gebeur, betwyfel ek hoegenaamd nie. Dit gebeur immers elke enkele dag. Die wêreld en sy leiers het stapelgek geword.
Intussen is dit Spring Equinox, en hopelik draai die energieë ook nou as die son oor die ewenaar skuif sodat al die kwinte en kwale en kieme sommer in ‘n sunflare aan ‘n vinnige en dodelike einde sal kom! Mag hulle met een skoot weggeraap word.
Sien julle more, oormore en volgende week…


