Gys Niemand kom weer – vir die derde keer

2016

2007

2011
Die dag toe Gys Niemand in 2007 die storie waaraan ek skryf binnegestap het, was hy in my gedagtes bloot ʼn irriterende noodwendigheid. Daar het moorde op Kruisbaai plaasgevind en êrens, het ek besef, moes daar seker maar ʼn speurder betrokke wees al wil ek eintlik net Lily Reynecke se storie skryf.
Min het ek toe geweet dat die man met sy bles, boep en snor vir meer as drie jaar en vyf boeke lank, deel van my lewe sou word. Nog minder het ek gedink hy sal so gewild onder lesers word dat die reeks later sy naam sou dra. Ek het ook toe nog glad nie besef dat sy bewondering vir sy niggie, Gertjie Niemand, daartoe sou lei dat lesers uiteindelik meer belang sou stel in Gys en Gertjie se verhouding, as in die moorde wat ek met soveel moeite laat pleeg en probeer ontrafel het nie. Dat ek kort-kort ʼn e-pos sou kry wat vra: Wanneer kom Gys en Gertjie nou uiteindelik bymekaar?
En nou, nege jaar nadat Gys my lewe binnegedring en my stories oorgeneem het, moes ek en Gys weer ʼn paadjie saamstap.
Die afgelope maande het ek Gys herontdek terwyl ek al vyf die boeke moes redigeer vir die splinternuwe uitgawe van die hele reeks. Ek dink ek verstaan nou beter waarom Gys en Gertjie so gewild is, waarom lesers hulle met dié twee kon identifiseer. Dit was ʼn baie aangename herontmoeting.
Hier gaan ons weer, Gys! Vir die derde keer. En dié keer dra die omslae trots jou naam.
Springgety kan reeds vooraf bestel word:
Die vyf Gys Niemand-boeke verskyn van September maand af in hulle nuwe baadjies.
Springgety – September 2016
Fortuin – Oktober 2016
Boheem – November 2016
Meetsnoer – Desember 2016
Dryfhout – Januarie 2017
Die proloë van al vyf boeke kan gelees word by


