Nuusbrief – Maart 2018
[image error]
Liewe Lesers
Die uitstuur van nuusbriewe het verlede jaar vir my ʼn logistiese nagmerrie geword. Ek werk op drie verskillende rekenaars – afhangende van waar ek is – en die adreslys was net op een.
Een probleem was dat ek die lys nie oorgeplaas kon kry na die ander rekenaars nie en die een waarop die lys is, moet binnekort vervang word. Ek kon ook net aan tien adresse op ‘n slag stuur en daar is op my huidige lys oor die 300 adresse ! Julle kan julle sekerlik indink hoe tydrowend dit was.
Danksy ʼn vriendin, lyk dit egter nou asof ek ʼn program gekry wat dit vir my makliker gaan maak.
Indien dit goed werk, sal dit heerlik wees om my nuusbriewe te hervat. Hierdie een is dus ʼn proeflopie. Ek plaas dit hierdie keer in aangepaste vorm op my blog, maar voortaan sal dit net per e-pos uitgestuur word.
Indien jy my nuusbrief per e-pos wil ontvang, teken gerus daarop in by http://www.chanettepaul.co.za/skryf-in-vir-nuusbrief.html
Intussen net ‘n korterige nuutsflitsie so saam met die toets.
[image error]Die lekkerste nuus, waarvan meeste lesers op Facebook seker al kennis geneem het, is dat Uit die bloute, die vyfde Jojo Richter, in MEI verskyn. Ek dink die kunstenaars wat LAPA gebruik het hulle weer eens wonderlik van hulle taak gekwyt.
Ek kan nie wag om haar in my hande te hou nie!
(Uit die bloute kan teen ‘n afslagprys vooraf bestel word by Graffiti ).
Ek en Jojo stap nou al lank ons paadjie saam. In Siende blind (2013) het ek bloot iemand nodig gehad om Cara ‘n bietjie te help. Ek en Jojo het dadelik lekker gekliek. Daarom het ek gedink sy gaan ook in Raaiselspieël ‘n redelike sterk rol speel, maar uiteindelik was sy ongewoon skugter en het sy vir Stas minimaal gehelp. Dis seker hoekom ek so verras was toe Jojo sommer uit die staanspoor haar stem dik gemaak het in Ewebeeld. Dis eintlik van hier af wat ons haar regtig leer ken.
Ek vermoed Jojo het haar bietjie gewip toe ek ná Ewebeeld heeltemal weg van haar af beweeg het met die skryf van die Offer-tweeluik (Offerlam en Offerande). En toe ek aan Paaiboelie begin skryf, het sy haar bloedig vererg toe sy agterkom dat ek haar weer uit die storie wou weglaat. Sy het al harder aan my deur begin hamer om in te kom. Uiteindelik het ek my lesersvriende op Facebook gevra of ek maar die deur vir haar kan oopmaak en die antwoord was ‘n oorweldigende JA!
Met die skryf van Uit die bloute was daar nie eens ‘n kwessie nie. Sy was van die begin af deel van die storie en ek moes net vir die vale keer dat sy nie heeltemal oorneem nie.
Op die oomblik, met Uit die bloute afgehandel, is ek nog bietjie tussen stories en moet die moeilike keuse maak oor wat volgende kom. Jojo wil-wil my weer annekseer, maar daar is ander stories wat ook hard aanklop.
Ek laat weet later wie die toutrekkery gewen het!
Voorlopig volstaan ek hiermee en hoop julle ontvang die Nuusbrief(ie) in een stuk.
Soos altyd, baie dankie vir julle terugvoer, die hou-vans, plasings en kommentare op Facebook, die sterretjies op Goodreads (https://www.goodreads.com/), Amazon en elders, julle deelname aan my blog en die e-briefies.
Maar veral dankie dat julle my boeke lees.
Geniet die pragtige herfsdae!
Mooiste wense
[image error]


