Vryheid of vrees?

Vryheid of vrees? Suid-Afrika: ’n Land sonder reëls, sonder rigting. As dit kras klink, is dit jammer, maar dis die gevoel wat ek deesdae kry.

Ons praat graag oor “vryheid” in Suid-Afrika. Vryheid van spraak, vryheid van onderdrukking, vryheid van reëls, vryheid om te doen wat ons wil. Maar as ’n mens daaroor dink, lyk die vry van hierdie sogenaamde vryheid meer na vrees. Ons is bang om ons monde oop te maak. Ons weet mos nou dieselfde reëls en wette geld nie vir almal nie, maar ons eie integriteit behoort nie toe te laat dat ons meedoen aan wetteloosheid, net omdat almal so maak nie.

Iemand sê gister vir my in situasies waar jy jou op die pad of in ‘n winkel wil opruk: Neem ‘n oomblik. As jy dit dan met ‘n glimlag laat gaan, voel jy soveel beter as wanneer jy jou opgeruk het. Dis só waar. Ek sê nou oor en oor vir myself: neem ‘n oomblik. Al is dit oprukkery net in my kop.

Ons huiwer om verantwoordelikheid te neem. Daar is vrees om betrokke te raak, want wat gaan dit nou help? Vrees om te sê: “Ek is deel van die probleem, en ek kan deel van die oplossing wees.”

Hierdie vrees lê aan die wortel van die wetteloosheid wat ons daagliks sien. Mense verontagsaam spoedbeperkings, padreëls word links en regs gebreek. En nee, dis nie net taxi’s nie. Rommel word gestrooi, korrupsie vind openlik plaas, of mense sal eenvoudig hul hande in onskuld was wanneer dinge skeefloop. Dis maklik om die regering te blameer, maar die waarheid is: ons kultuur van onverantwoordelikheid begin in ons eie huise, in ons eie klein daaglikse keuses.

Ons het reëls afgebreek, maar nie karakter opgebou nie. Die gevolg? Vryheid sonder selfdissipline word chaos. En waar daar chaos is, floreer diegene wat die minste gewetenswroeging het, daai mense wat die vacuum van orde vul met mag, geweld of manipulasie.

Maar dit hoef nie so te wees nie. Ons hoef nie te wag vir “hulle” om dinge reg te maak nie.

Klein dade, kan ‘n groot verskil maak. Hou bv net jou straat skoon. Dis nie jyself wat die rommel strooi nie, maardit sal jou nie doodmaak om dit in die verbystap op te tel nie. DIs uit respek vir self en omgewing, wat ek daardie chipspakkie of bottel optel en in die volgende asblik gooi.

Wees eerlik met klein, onbenullige dingetjies. Betaal die regte prys, hou jou woord, doen wat jy sê jy sal doen. Respekteer ander se tyd en ruimte. Dis hoe gemeenskappe begin genees. Begin praat oor waardes. Nie as moraliste nie, maar as mense wat weer betekenis soek.

Skep eerder as om te kla. ’n Groentetuin, skryf of verf iets, knoop ’n gesprek aan met ‘n alleenpersoon, daardie een wat een aartappel en een tamatie koop. Elke klein skeppende poging veg terug teen die kultuur van vernietiging.

Chesterton het dit lank terug baie mooi gesê:

“Most modern freedom is at root fear. It is not so much that we are too bold to endure rules; it is rather that we are too timid to endure responsibilities.”
— G.K. Chesterton

Ware vryheid lê nie in die afwesigheid van reëls nie, maar in die teenwoordigheid van karakter.

Ons land het nie nog meer vryheid nodig wat in chaos ontaard nie, ons het volwassenheid nodig om verantwoordelik met reëls om te gaan om ‘n voorbeeld te wees.

 •  0 comments  •  flag
Share on Twitter
Published on October 09, 2025 12:43
No comments have been added yet.